Hofstryd wink weer oor die publikasie van matriekuitslae

  • 0

’n Regstryd wink oor die publikasie van vanjaar se matriekuitslae indien die Departement van Basiese Onderwys (DBO) sou weier om die uitslae in koerante en op mediaplatforms te publiseer.

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om vir ’n saak voor te berei om te sorg dat die uitslae van vanjaar se matrikulante op mediaplatforms gepubliseer mag word. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Inligtingsreguleerder van Suid-Afrika (IR) die openbare bekendmaking daarvan verbied het.

Die IR is ’n onafhanklike liggaam wat verseker dat openbare en private entiteite voldoen aan die land se wette oor toegang tot inligting en beskerming van persoonlike inligting.

Volgens die reguleerder maak die departement hom skuldig aan die nienakoming van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting indien die uitslae in die media gepubliseer word. Hulle sê in ’n afdwingingskennisgewing wat verlede week uitgereik is, die departement oortree artikel 11 van die wet as hulle matrikulante se persoonlike inligting sonder toestemming publiseer.

Volgens die IR het die DBO die verwerking van persoonlike inligting oortree omdat hulle nie die toestemming van leerders, of dié van hul ouers of voogde verkry het om hul matriekuitslae in koerante te publiseer nie.

Die IR het bevind dat daar geen wetlike regverdiging bestaan ​​vir die DBO om voort te gaan met die publikasie van die resultate in die koerante nie. Hulle sê dat die uitslae van die 2024-matrikulante nie in die koerante gepubliseer mag word nie, omdat dit nie aan die POPIA-wet voldoen nie.

Volgens AfriForum is die IR onredelik. Hulle dreig in ’n verklaring om hof toe te gaan indien die departement nie die uitslae gaan publiseer nie.

Nomzamo Zondi, ’n IR-woordvoerder, het aan Inside Education gesê daar is ander alternatiewe wat privaatheid sal verseker, soos om resultate direk by skole of deur veilige SMS-platforms te verskaf.

In Januarie 2022 was AfriForum, Maroela Media en ’n matrikulant suksesvol met ’n saak om te verseker dat die matriekuitslae van 2021 in die media bekendgemaak kon word, nadat die DBO ’n soortgelyke verbod aangekondig het. Die hof het die departement beveel om met die bekendmaking voort te gaan en selfs ’n kostebevel teen die departement uitgereik.

Die hof het beslis dat uitslae sonder name gepubliseer kan word deur eerder eksamennommers te gebruik.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is dit in die publiek se belang dat hierdie inligting op openbare platforms gedeel word. “Om dit as ’n skending van individue se reg op privaatheid te bestempel, maak nie sin nie, aangesien slegs eksamennommers in die media verskyn.”

Sy wys ook daarop dat die hof AfriForum en die ander partye tevore gelyk gegee het dat dit nie teen enigeen se reg op privaatheid indruis nie.

Die opdrag waaroor die vorige saak gehandel het, het van die DBO gekom, maar hierdie keer is dit van die Inligtingsreguleerder afkomstig.

AfriForum sê hulle is vasberade om weer alles in die stryd te werp om te verseker dat vanjaar se matrieks ook hul uitslae op mediaplatforms sal kan bekom soos wat die gebruik in die verlede was.

IOL berig die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) verwelkom die IR se besluit om ’n stokkie te steek voor die publikasie van die matriekuitslae in die media, omdat dit volgens hulle sal verseker dat die privaatheid en waardigheid van leerders beskerm word.

Hulle sê die publisering van die resultate in massapublikasies bied geen opvoedkundige voordeel vir die leerders nie en plaas hulle onder onnodige druk.

“Ons doen ’n beroep op die DBO om te hou by die afdwingingskennisgewing wat deur die IR uitgereik is,” het Nomusa Cembi, nasionale woordvoerder van Sadou, gesê.

Intussen wag belanghebbendes angstig op duidelikheid oor hoe die departement die teenstrydige eise sal navigeer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top