...
Die afgelope vier jaar het hy homself as voorsitter van die staatskapingkommissie (en teen die agtergrond van Mogoeng se manewales) eintlik reeds as hoofregter gevestig: ’n gesaghebbende, gebalanseerde, beredeneerde, intellektueel diepsinnige, eerbare en onbetwisbaar ervare regskundige.
...
Ook hierdie keer moes Suid-Afrikaners lánk wag vir ’n besluit – minstens twee maande – soos dit mos nou eenmaal pres Cyril Ramaphosa se gewoonte is. Niks en niemand durf hom aanjaag nie – tot baie van ons se ergernis.
“Nou wanneer dan?” hoor jy kritici gereeld vra; en sommige kommentators, soos die Sunday Times-rubriekskrywer Barney Mthombothi, het hom reeds permanent as ’n “besluitlose” leier gebrandmerk. Prosesse en oorlegpleging alleen sal egter Ramaphosa se besluitnemingspoed bepaal. En heel dikwels trek hy met sy finale keuse die mat onder sy opponente se voete uit.
...
Oor Mogoeng se termyn as hoofregter sal ek slegs die volgende sê: Ons kon dit maar gespaar gebly het.
...
Dit het hy nou weer gedoen met die aankondiging gister laatmiddag dat adjunkhoofregter Raymond Zondo as die land se nuwe hoofregter aangestel word – ’n pos wat vir ’n geruime tyd vakant was (en waarin Zondo waargeneem het) ná die aftrede van Mogoeng Mogoeng.
Oor Mogoeng se termyn as hoofregter sal ek slegs die volgende sê: Ons kon dit maar gespaar gebly het. Hoeveel mense onthou van enige wesentlike verskil wat hy as hoofregter gemaak het, of die wyse waarop hy die regbank getransformeer het, of enige grondverskuiwende uitsprake waarvan hy deel was?
Maar ek kan jou verseker dat daar nog baie oor sy omstrede uitsprake gepraat sal word, onder meer oor sy kwansuise vermoë om MIV/vigslyers te genees; en in ’n tydperk toe dit ’n behoorlike stryd was om landsburgers te oortuig dat dit veilig is om teen Covid ingeënt te word, het hy na die entstowwe as “kwaadaardig” verwys. Heel dikwels was dit uitsprake wat hom laat vertoon het asof hy geheel en al vergeet het dat daar van ’n hoofregter verwag word om altyd binne die raamwerk van die Grondwet op te tree en dienooreenkomstig uitlatings te maak. Sommige kere wou dit voorkom asof hy sy “weeksdag”-rol as hoofregter in die skadu van sy “naweek”-rol as ’n lekeprediker gestel het: Fire! hoor ’n mens hom nou nog uitroep.
Uiteindelik was dit die omstredenheid oor Mogoeng se publieke uitsprake ten gunste van die staat van Israel – gestroop van enige verwysings na die daaglikse lyding en verdrukking wat dié staat oor hul Palestynse “medeburgers” bring – wat die laaste dae van sy termyn gekenmerk het. Hiervoor moes hy in opdrag van die Regterlike Gedragskomitee (teësinnig en eers ná ’n mislukte appèl) onvoorwaardelik verskoning vra.
Die amptelike klag teen hom was dat hy as hoofregter homself in “politieke omstredenheid” betrokke gekry het. Maar met sy opmerking ná sy verskoning was dit asof hy nogmaals ’n ánder (wan)indruk wou skep oor wat tot die geregtelike (vernederende) teregwysing gelei het: “I am very thankful that I have not been ordered to renounce God the Father, God the Son and God the Holy Spirit and my faith in Him,” het hy teruggekap. “I have not been ordered to renounce the Holy Bible; I have not been ordered to renounce prayer; and I have not been ordered to renounce my love for Israel and Palestine and my love for the Jews and the Palestinians as well as my love for all people.”
’n Mens sou nog vele paragrawe oor die persoon Mogoeng Mogoeng kon skryf, maar die fokus van hierdie artikel is die aanstelling van sy opvolger.
Zondo het ’n huishoudelike naam en gesig geword deur sy voorsitterskap van die geregtelike kommissie na staatskaping. Die kommissie moes die misbruik van staatshulpbronne gedurende die Jacob Zuma-termyn ondersoek en het nou reeds drie (verdoemdende) dele van sy verslag aan Ramaphosa oorhandig.
Juis hierdie rol as kommissievoorsitter – op ’n rustige, geduldige wyse vertolk – het ironies genoeg gesorg dat Zondo in die spervuur was in die onderhoude vir die hoofregterspos. Dit is deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) gedoen, ’n liggaam bestaande uit ander regsgeleerdes en parlementêre verteenwoordigers van politieke partye. In die proses kom die partye (en regsmense) se persoonlike voorkeure vir sekere kandidate te voorskyn, maar wat meermale die nuus haal, is die openlike vyandigheid en verdagmakery waaraan sommige kandidate onderwerp word.
Zondo was ’n vanselfsprekende teiken vir Zuma-gesindes, soos die EFF-leier Julius Malema, omdat hy daarvoor verantwoordelik is dat die voormalige staatshoof tronk toe gestuur is vir sy minagting van ’n Konstitusionele Hof-uitspraak dat Zuma voor die kommissie na staatskaping moes verskyn.
Maar hierdie oproermakers, onder wie die senior advokaat en voormalige EFF-voorsitter Dali Mpofu, se ondersteuning van sekere kandidate is, daarteenoor, geen waarborg dat enige van die betrokke kandidate wel as die gesalfde kandidaat uit die stryd sal tree nie. Hiervan getuig die openlike veldtog om ’n eerste vroulike hoofregter in die persoon van regter Mandisa Maya aangestel te kry. ’n Deurlopende vraag aan die kandidate – eintlik spesifiek gemik teen Zondo en die ander twee mans, Mbuyiseli Madlanga en Dunston Mlambo – was of hulle dink Suid-Afrika is gereed vir ’n vroulike hoofregter. Dit strek tot Maya se eer dat sy op dié vraag self geantwoord het dat vroue allereers as bekwame regsgeleerdes erken moet word voordat hul geslag ’n rol in hul aanstellings speel.
Maya is toe wel deur die RDK as hul keuse vir die hoofregterspos aan Ramaphosa aanbeveel – en weinig stemme het dit durf waag om dié aanbeveling te bevraagteken. Sommige kommentators wou dit selfs hê dat die President geen ander keuse sou hê as om haar nou aan te stel nie. Wat hulle betref, moes hy nie die RDK gevra het om die onderhoude met vier kandidate te doen en aan hom ’n aanbeveling te maak as hy dan nie hul keuse en aanbeveling as bindend sou aanvaar nie. Die Grondwetlike bepaling hieroor is egter duidelik dat die president ná oorlegpleging met die RDK en opposisiepartye die volste reg het om sy eie besluit oor die aanstelling te neem.
Heelwat water sou egter onder die brug deur vloei en baie sand sou deur die uurglas syfer voordat die presidensie se verklaring gistermiddag sy besluit bekend gemaak het: Zondo sal vanaf 1 April die nuwe hoofregter wees, en Maya sy adjunk.
...
Daarteenoor het hy nooit die indruk gegee dat hy ’n persoonlike vendetta teen Zuma het toe Zuma sy verskyning voor die kommissie gemaak het nie. Selfs dié en ander staatskapingswartskape is deur Zondo waardig behandel.
...
Ramaphosa moet hom vet smeer vir kritiek van sy en Zondo se vyande, maar hy kon nie ’n beter keuse uitgeoefen het nie: Zondo het weliswaar slegs tot Augustus 2024 tyd voordat sy verpligte aftrede aanbreek. Die afgelope vier jaar het hy homself as voorsitter van die staatskapingkommissie (en teen die agtergrond van Mogoeng se manewales) eintlik reeds as hoofregter gevestig: ’n gesaghebbende, gebalanseerde, beredeneerde, intellektueel diepsinnige, eerbare en onbetwisbaar ervare regskundige. Ook belangrik om te vermeld is sy ménslikheid – selfs al het sy gegiggel met Ramaphosa toe dié voor die kommissie verskyn het, my gegrief, maar daarteenoor het hy nooit die indruk gegee dat hy ’n persoonlike vendetta teen Zuma het toe Zuma sy verskyning voor die kommissie gemaak het nie. Selfs dié en ander staatskapingswartskape is deur Zondo waardig behandel, sodat dit nooit gesê kon word dat hy reeds vóór die verskyning van sy verslag ’n oordeel oor enige getuie of geïmpliseerde gemaak het nie.
Nou het ’n groter oomblik vir hom aangebreek sedert hy in 2012 in die Konstitusionele Hof aangestel is en in 2017 adjunkhoofregter geword het. Dit ly by my geen twyfel dat Raymond Mnyamezeli Mlungisi Zondo met groot gemak sy sit in die stoel van hoofregterskap sal kry nie.