Hoogste Hof van Appèl moet besluit oor "Kill the Boer"

  • 0

AfriForum was Maandag in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein om te appelleer teen die Gelykheidshof se bevinding dat “Kill the boer” nie haatspraak is nie.

AfriForum se standpunt is dat die lied ’n duidelike voorbeeld van haatspraak is en dat dit die boere van Suid-Afrika in gevaar stel.

Volgens AfriForum bewys die onlangse wrede aanval op ’n egpaar opnuut die erns van AfriForum se stryd in die hof teen “Kill the boer”.

Tydens gister se hofsaak het Malema se regsverteenwoordiger aangevoer die lied verwys nie na ’n etniese groep of ras nie, maar na ’n sisteem. Volgens Malema se regspan laat skyn die sing van die lied slegs ’n figuurlike lig op die onreg van apartheid waarvan die nalatenskap steeds met ons is.

AfriForum het hierdie klag aanvanklik in Oktober 2020 aanhangig gemaak nadat ondersteuners van die EFF “Kill the boer, kill the farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar beskuldigdes vir die moord op die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.

Op 17 Augustus 2023 is ’n egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal op hul plaas aangeval. Hulle is ernstig aangerand terwyl hul aanvallers geskree het, “Kill the boer, kill the boer.”

Die vroulike slagoffer is met ’n spies gesteek, maar die egpaar het die aanval oorleef. Danksy die vinnige reaksie van die plaaslike boeregemeenskap en burgerlikeveiligheidstrukture is ses verdagtes, insluitend dié in die wegkomvoertuig, aangekeer.

AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, het Maandag gesê dat hierdie week se hofsaak deel vorm van AfriForum se drieledige strategie om “Malema se ekstremistiese, haatlike en gevaarlike retoriek teë te staan, naamlik deur regsaksies, die mobilisering en uitbreiding van gemeenskapsveiligheidstrukture en die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen kulturele gemeenskappe.”

Kriel sê dit is kommerwekkend dat daar steeds mense daar buite is wat verskonings maak vir die “haatlike ‘Kill the boer’-lied”.

Kriel sê dit is egter duidelik dat die publieke opinie drasties begin skuif het teen “boewe soos die EFF” en hul aanmoediging van wetteloosheid, haat en geweld. “Dit is bemoedigend om elke ordentlike Suid-Afrikaner saam met AfriForum te sien staan​​,” het Kriel gesê.

AfriForum  se aansoek teen die EFF, sy leier, Julius Malema, en Mbuyiseni Ndlozi, ’n EFF-LP, is verlede jaar deur die Gelykheidshof van die hand gewys.

AfriForum hou vol sulke liedjies is niks anders as aanhitsing tot geweld teen die wit Afrikanerminderheid nie. Volgens AfriForum het die lied ’n direkte impak op plaasmoorde.

AfriForum voer aan dat die Gelykheidshof-uitspraak foutief was en dat dit ’n gevaarlike presedent geskep het.

Die Gelykheidshof het bevind AfriForum het versuim om te wys hoe die EFF die bepalings van die Gelykheidswet oortree het deur die betrokke liedjie te sing.

Die EFF hou vol dat die lied nie letterlik vertolk moet word nie. Hulle sê dit moet in die konteks van struggle en Afrika-kultuur gesien word.

Die sing van die omstrede lied vroeër vanjaar tydens die herdenking van die  EFF se 10de bestaansjaar het ’n groot herrie aanlyn sowel as in verskeie wêrelddele ontketen. Die video van Malema, geklee in sy kenmerkende rooi baret, het op sosiale media verskyn en het die debat oor ’n omstrede dekades oue liedjie wat terugdateer na die stryd teen apartheid laat opvlam.

Na afloop van die EEF se bestaansherdenking het Bongani Ngqulunga, politieke analis aan die Universiteit van Johannesburg en Nomalanga Mkhize, historikus aan die Nelson Mandela Universiteit, aan die New York Times gesê dat die liedjie in die huidige konteks nie bedoel is om geweld teen die land se grootliks wit grondeienaars aan te blaas nie, maar eerder om steun teen apartheid en diskriminasie te mobiliseer.

Oudpresident Thabo Mbeki het verlede week tydens die Thabo Mbeki-stigting se jaarlikse Afrikadag-lesing gesê hoewel daar nie so ’n beleid in die ANC was om boere dood te maak nie, daar ’n konteks vir sulke slagspreuke was toe dit tydens die stryd teen apartheid gebruik is.

Mbeki het gesê dié liedjies is tydens die stryd vir mobiliseringsdoeleindes gebruik. “Ek sê dus ek het na Julius geluister wat dit sing en ek het vir myself gesê hoekom sing hy dit? Die slagspreuke het ’n konteks; mense het slagspreuke in 1952 geskree; teen 1962 het hulle irrelevant geword, maar dit is deel van ons geskiedenis.”

Mbeki meen die lied het geen politieke relevansie in postapartheid Suid-Afrika nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top