Hou my vas, korporaal

  • 0

Die weermag se toetrede tot die Kaapse Vlakte het simboliese implikasies wat veel verder strek as die poging om bendegeweld hok te slaan. Al sou dit op die ou end nie ’n duik in die misdaadsyfer maak nie, het dit weens hierdie simboliese uitwerkings die potensiaal om ’n keerpunt in die land se politieke filosofie te word.

Veel kan verkeerd loop, en sal waarskynlik. Die weermag boesem nie baie vertroue in nie. Brigadiers word aangekla van AWOL, die vloot lyk of hy enige dag gaan sink en duiwe broei onder die vlerke van vliegtuie in loodse. In Sentraal-Afrika het dosyne Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel weens oënskynlike onvermoë. In die vredesmag in die Kongo, waarin Suid-Afrika veronderstel was om ’n sleutelrol te speel, word openlik met die Suid-Afrikaners in die Militêre Polisie gespot.

Die Suid-Afrikaners in die aanvalseenhede, wat die een na die ander rebellegroep tydens die laat stadia van die Kongolese oorlog in 2000 tot 2003 tot orde geroep het, dui op ’n ander gevaar. Van hierdie soldate was lede van die ou weermag, en het op voorwaarde van anonimitiet erken dat hulle die “rules of engagement” oortree het. Sulke optredes het die vernietiging van dorpies behels sonder behoorlike kennis vooraf of hulle wel basisse vir rebelle was.

Hoe rof gaan die soldate op die Kaapse Vlakte raak? Dis nie ’n plek vir sissies nie, en tensy die regering ’n noodtoestand daar afkondig, sal die soldate by die reëls van menseregte moet bly, en dis nie altyd aan die owerhede se kant nie. Baie mense verkies die bendes bo die polisie, en dus waarskynlik ook bo die soldate. Maar as ’n noodtoestand wel kom, sal dit ook net ’n kwessie van tyd wees voor ’n Marikana-agtige situasie ontstaan.

Dié naweek is daar reeds blyke van gebrekkige organisasie. Geen soldate is nog ontplooi nie, en ’n weermagwoordvoerder sê hulle moet eers opgelei word. En die vredesoldate dan? Suid-Afrikaners word op ’n roterende basis in verskeie vredesmagte elders in Afrika ontplooi, en daar moet dus van hulle in die land wees. Aan die ander kant is dit waar dat bendes in stedelike gebiede ’n ander kalant is as byvoorbeeld die Janjawied op hul perde in die sand van Soedan.

Vredesmagte ervaar ook nie veel aksie nie. Die laaste keer dat vredesmageenhede in Suid-Afrika ontplooi is, het dit tot die dood van die topfotograaf, Ken Oosterbroek, gelei. Ek was een van die kollegas van hom wat sy laaste negatiewe op ’n ligkas besigtig het: die bang gesig van die soldaat wat per ongeluk die sneller van sy geweer getrek het, is emblematies van hoe die slagordes bykans dertig jaar later ook kan uitdraai. Daardie eenhede is kort daarna ontbind, want hulle was ’n groter gevaar vir vrede as ’n teenvoeter daarvoor.

Die weermag is in baie opsigte net nog ’n arm van patronaatskap, en vredesmagdiens ’n uiters winsgewende komponent daarvan, want die VN betaal in dollars. Om in die Kaapse townships messe en ander wapens in vuil krotte te gaan uitkrap, is ’n paar trappe laer as ’n bron van rykdom.

Daar is ook die gevaar dat gebrekkige weermagaksie die bendes gaan noop om te konsolideer, en hulle bloot gaan toelaat om hulself beter te organiseer en nog dieper in te grawe. Bly die weermag te kort daar, soos tydens vroeëre operasies, gaan die bendes in elk geval net laag lê vir ’n ruk en dan weer oorneem.

Maar wat op simboliese vlak gebeur is dat die Ramaphosa-administrasie uiteindelik besluit het die Kaapse Vlaktes, die mense wat nóg wit nóg swart is, en meestal ’n taal praat wat volgens ’n lid van die parlement “walglik” is, nou ook deel van die president se “our people” is.

Onder Thabo Mbeki, die de facto leier van Suid-Afrika van 1994 af tot die begin van die Zuma-bewind, was “our people” ANC-kaders en ondersteuners. Die frase was werklik die basis van die rassenasionalisme van die ANC en sy nasionale demokratiese revolusie. Die gevaar daarvan is nie net vir die mense wat daarbuite val nie, maar soos in alle etnonasionalismes skep dit ’n hiërargie van uitgeslotenes, met in die kern die mense wat die meeste “our” in “our people” is — in Zuma se geval, sy 100% Zulu boys.

In die staatsfilosofie van Giorgio Agamben is daar die gewone gepeupel wat die heersende groepe steun, wat maar opgeoffer kan word. Hier te lande het Nomvula Mokonyane dit mooi gestel: die “dirty voters” wat in opstand kom oor gebrekkige dienste, maar die ergste uitdrukking hiervan was die slagoffers van die Isidimeni-moorde, waarvoor geen ANC-politikus aan die pen gery het nie.

Buiten diegene wat die staat maar kan opoffer, is daar ’n verdere sfeer in ’n Agamben-gebaseerde filosofie: die voëlvryverklaardes. Hulle is die mense wat nie eens genoem word of nie die voorreg het om die subjekte van kommissies te word nie, en wie skynbaar straffeloos vermoor of mishandel kan word. Plaasboere, sogenaamde makwerekweres (buitelanders uit Afrika), sekere Moslemvroue, sekere vroue in die algemeen, straatmense en dan natuurlik die inwoners van die Kaapse Vlakte.

Bloot deur te verklaar dat laasgenoemde genoeg werd is as Suid-Afrikaners om die weermag aan hulle toe te wys, is ’n verbreking van hierdie hiërargie. Al doen die weermag sy werk half, en al is die uiteindelike uitkoms ’n situasie waarin die leiers besluit daar is geen salf meer aan hulle te smeer nie, die Vlaktes moet maar opgeoffer word, sal hulle darem deel van die burgerlike diskoers wees.

Die ander simboliese deurbraak is dat misdaad nou uiteindelik tot ’n bedreiging vir die sosiale kontrak verklaar is. In hierdie kontrak gee burgers die monopolie van geweld oor aan die regering, in ruil vir sy beskerming. Die opmerking is dikwels gemaak dat hierdie kontrak nie eintlik in Suid-Afrika bestaan nie, dat die ANC nie wil regeer nie, soms deur diplomate wat die slagoffers van misdaad word, en dan skrapse behandeling van die polisie kry — ’n ernstige oortreding van internasionale regsnorme.

Met hierdie besluit het die ANC onder Ramaphosa gewys dat hy wel die sosiale kontrak gestand wil doen, en sy monopolie oor die mag wil opeis, in diens van die burgery.

Aan die ander kant, om daardie monopolie op te eis, is een ding, om dit werklik te behaal, ’n gans andere. Dit kan eintlik net gedoen word as ’n noodtoestand verklaar word. Agamben noem dit ’n “toestand van uitsondering”, en dis presies wat dit is: ’n uitsonderlike status vir ’n uitgesonderde (lees uitgewerpte) gemeenskap onder dwang van ’n weliswaar anargistiese, dog prototipiese parallelle staat… die apartheid vanouds.

Bly die weermag net vir ’n rukkie, gaan die bendes net weer terugkeer en gaan Ramaphosa-hulle hul skuldig maak aan die handhawing van apartheid.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top