Die Kaap is in rep en roer oor die moontlikheid dat hul lughawe na Winnie Madikizela-Mandela vernoem gaan word. Bittereinders gaan liewer oor die berge na George s’n toe ry. Khoisan-aktiviste gaan die lughawe beset en die grond eis. Khayelitsha-aktiviste gaan Winnie the Pooh kom speel.
Die furore het ontstaan na ’n oproerige vergadering by die Kaapstad Internasionale Lughawe wat verdaag moes word nadat die Economic Freedom Fighters dit oudergewoonte oorgeneem het. Die imposante moderne geboue is die resultaat van die soveelste verbouings aan die lughawe. In dié opsig is dit soos Winnie, wat kort voor haar dood met ’n nuwe gesig à la Michael Jackson vorendag gekom het.
Die ANC se posisie is onduidelik; eers het die regerende party per sosiale media aangedui dat hulle vernoeming na Nelson Mandela voorstel, maar na ontsteltenis is dit skynbaar onttrek. Beleidsonsekerheid duur oudergewoonte voort.
’n Provinsiale en dan ’n nasionale komitee vir naamveranderings sal openbare insette oorweeg, maar die minister van kuns en kultuur sal die laaste sê hê. Die hoogste vlakke is sentrale instansies en die Kapenaars sal rede hê om te voel dat daar van anderkant die berge en die riviere aan hulle voorgeskryf word, wat ook al die besluit. Dis glad nie seker dat Winnie se naam die stryd gaan wen nie, maar indien wel, sal die ANC se politici aansluit by dié van die Demokratiese Alliansie met hul eienaardige Kaapse dans – om jou voete te probeer raakskiet kort voor die volgende verkiesing.
Die geskiedenis is soos daardie hark waarop jy in die donker trap, sodat die steel jou agter die kop slaan. Harktrap was ook die ANC se manier sedert 1994 met sy herskrywing van geskiedenishandboeke op skool en onvermoë om selfs sy eie weergawe daarvan af te dwing. Verlede week het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, aangekondig dat sy geskiedenis verpligtend ook vir die laaste drie grade op skool gaan maak. Tans is dit net tot graad 9.
Soos ons kan sien in die debatte oor grondhervorming, transformasie, dekolonisering en gelykberegtiging, is ’n goeie begrip van die geskiedenis gebaseer op die regte feite van die allergrootste belang. Daarom kan ’n mens net hande klap oor hierdie aanbeveling deur ’n ministeriële komitee. Maar soos met soveel ander sake, is daar ernstige vrae oor die ANC se vermoë om so iets te hanteer.
Een aanduiding van die party se onbevoegdheid is die ignorering van belangrike figure soos Robert Sobukwe en sy party, die Pan Africanist Congress. Maar ’n selfs meer diepgaande kwessie is die hantering van die Anglo-Boereoorlog in nuwe handboeke.
Suid-Afrika se enigste nasionale oorlog word in net enkele paragrawe afgehandel, as ’n soort faksiegeveg tussen wit mense. Die waarheid is natuurlik dat jy kwalik die geskiedenis van die ganse mensdom in die 20ste eeu kan verstaan sonder om die konsentrasiekampe in oënskou te neem. En jy kan nie apartheid verstaan sonder om die oorlog te verstaan nie.
Vanuit die ANC se revisionistiese oogpunt is dit ook heeltemal paradoksaal, want een van die ergste nalatenskappe van koloniale en apartheidsgeskiedskrywers is die ignorering van swart mense se rol in die oorlog en die tipies imperialistiese verraad wat die Britte teenoor hulle gepleeg het. Hierdie verraad is die sentrale spil waarom die moderne geskiedenis van die land wentel.
’n Saak is daarvoor uit te maak dat die oorlog die laaste in ’n stuk of 20 was waarin die Britse Empire die binnelanders – uiteindelik ook daardie “minderwaardige ras”, soos die hulle die Boere genoem het – onder dwang gebring het. Die vernaamste instrument, ’n verskroeide-aarde-beleid gevolg deur inperking tot ’n klein gebied, ’n lokasie met kenmerke van ’n konsentrasiekamp, het die Boere self help ontwikkel.
Maar dit sal ’n paar hoofstukke verg om dit te beskryf, nie enkele paragrawe nie.
Naamsveranderinge oorvleuel natuurlik met kwessies uit die geskiedenis. Om jou naam op ’n openbare gebou te kry, is ’n tweesnydende swaard. Deels weens die ANC se gebrekkige hantering van die geskiedenis weet min mense wie OR Tambo is. Die meeste verbind hom met diefstal van bagasie, die Suid-Afrikaanse Lugdiens-gemors en die stryd tussen Uber en outydse taxi’s by die lughawe wat na hom vernoem is.
Sekere mense sal enige lughawe wat na Winnie vernoem is, na die Stompie-lughawe herdoop. Die naam Desmond Tutu-lughawe sou gepas wees, maar, nou ja, die laerskoolgrappe daaroor sal nie uitbly nie. Die enigste een wat nie maklik vervorm sal word nie, is my eie keuse: Krotoa. As een van die eerste Afrikaanssprekers en simbool van die eerste boorlinge van die Kaap se regte en aansprake, sal dit ’n blywende bydrae tot die nasionale debat maak.
As ek ’n dooie politikus was, sou ek teen my kis se deksel klop: Nee, asseblief tog nie. Dis erg genoeg om joernaliste, speurders en prokureurs agter jou aan te hê as jy nog lewe, maar as jy dood is kan jy nie meer koes en klouter nie. In die 19de eeu se Zuid Afrikaansche Republiek het Piet Joubert, gelyktydige hoof van die weermag en die departement van naturellesake, spesiaal moeite gedoen om sy stelselmatige onderwerping van binnelandse stamme geheim te hou. Hoe goed hy daarin geslaag het, blyk daaruit dat hierdie periode in ons geskiedenis nog altyd skraps behandel is, met ’n gevolglike gebrek aan algemene kennis oor grondvergrype, veral onder wit mense.
Die dorp Pietersburg is aan die rand van die Venda-ryk gestig, die een wat hy nie kon verslaan nie, en na hom vernoem. Niemand sal stry dat Polokwane, die naam wat die ANC-regering daaraan gegee het, mooier is nie. Maar ek dink Joubert slaap nou rustiger met al sy geheime. Op ’n onlangse besoek aan die dorp was dit vir my duidelik dat geeneen van sy slagoffers se nasate die vaagste benul gehad het wie hy was nie.
Buro: MvH