Huisbraak bly die algemeenste misdaad wat Suid-Afrikaanse huishoudings raak. ’n Geskatte 1,5 miljoen huishoudings was die afgelope jaar slagoffers daarvan.
Die afgelope vyf jaar is sowat 2,6 miljoen Suid-Afrikaners deur huisbraak of inbraak (waar die inwoners tuis was) geteister. Die aantal geaffekteerde huishoudings van die afgelope jaar se gevalle verteenwoordig 5,7% van alle huishoudings in die land.
Minder as die helfte (43,4%) van huishoudings wat huisbraak ervaar het, het dit by die polisie aangemeld. In die afgelope jaar het ’n verdere byna 846 000 mense slagoffers geword van diefstal op hul persoonlike eiendom, volgens die jongste opname van Statistieke SA (Stats SA).
#SACrimeStats || 🧵Around 2,6 million households experienced Housebreaking/burglary during the past 5 years.
Read more here: https://t.co/nceGFX9Mt1#StatsSA #KnowYourStatsZA #CrimeStatsSA #CrimeInSA #GovZAUpdates pic.twitter.com/u43OZpex98
— Statistics South Africa (Stats SA) (@StatsSA) August 26, 2025
Huisbraak het in Junie ’n hoogtepunt bereik, met 164 000 voorvalle.
#SACrimeStats || Housebreaking peaked in June with 164 000 incidences. Acting DDG, @raku_19, will be on @eNCA at 06h15 giving insight on the latest figures.
Read more here: https://t.co/nceGFX9Mt1#StatsSA #KnowYourStatsZA #CrimeStatsSA #CrimeInSA #GovZAUpdates pic.twitter.com/rzcoAUAIfJ
— Statistics South Africa (Stats SA) (@StatsSA) August 27, 2025
Ten spyte hiervan het persepsies van veiligheid effens verbeter, maar baie min. Die opname toon dat 81% van mense van 16 jaar en ouer veilig gevoel het om alleen in hul woonbuurte te loop gedurende die dag, in vergeleke met 80,4% in 2023/24.
Slegs 36,1% van Suid-Afrikaners voel veilig om alleen in die nag in hul eie gemeenskappe te loop.
Provinsiale verskille was opmerklik. Limpopo het die hoogste persentasie mense aangeteken wat veilig gevoel het om alleen te loop, beide gedurende die dag (97,2%) en snags (64,2%). Inwoners van die Wes-Kaap was egter die meeste geneig om bedags onveilig te voel (31,4%), terwyl Mpumalanga die hoogste persentasie gehad het wat snags onveilig gevoel het (73,0%).
Misdaad bly volgens die verslag een van die bepalende uitdagings van die lewe in Suid-Afrika, wat geografie, geslag en ekonomiese status oorskry. Of dit nou in bedrywige metropolitaanse sentra of klein plattelandse dorpe is, huishoudings en individue bly die risiko loop van inbrake, rooftogte, diefstal en ander misdade wat die daaglikse lewe bedreig en ontwrig.
Die DA het in reaksie hierop in ’n verklaring gesê Stats SA se verslag, die “Slagoffers van misdaad”-opname, toon dat Suid-Afrikaners toenemend beleër word deur gewelddadige misdaad. Die DA veroordeel die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se voortdurende versaking om effektiewe polisiëring te verskaf.
Die verslag deur Stats SA demonstreer volgens die DA ’n nasionale misdaadkrisis.
“Ons gemeenskappe bly beleër deur gewelddadige misdade soos moord, aanranding, roof, verkragting en seksuele oortredings, met baie gevalle wat nie aangemeld word nie, weens diep wantroue teenoor die SAPD,” sê die DA se woordvoerder oor polisie, Lisa Schickerling.
An estimated 1.5 million incidents of housebreaking occurred in South Africa during 2024/25, impacting approximately 1.1 million households.
— News24 🇿🇦 (@News24) August 26, 2025
’n Kommerwekkende toename kan veral in ernstige misdade gesien word, soos seksuele oortredings, waar gevalle toegeneem het van 25 000 in 2020/21 tot ’n skokkende 73 000 in 2024/25.
Die onlangse skietery op die Kaapse Vlakte is volgens Schickerling ’n skerp herinnering aan die dringende behoefte aan hervorming binne die SAPD. Dit beklemtoon nie net die omvang van geweld nie, maar ook die ooglopende gebrek aan misdaadintelligensiekapasiteit binne die nasionale polisiediens.
“Sonder ’n funksionele intelligensie-eenheid wat kriminele aktiwiteite kan voorspel, voorkom en ontwrig, bly gemeenskappe blootgestel, en die SAPD reageer op krisisse in plaas daarvan om hulle te voorkom. Misdaadvoorkomingstrategieë bly reaktief in plaas van proaktief, wat gemeenskappe blootstel aan herhaalde viktimisering.”
Die parlement se portefeuljekomiteevoorsitter oor polisie, Ian Cameron, is volgens TimesLive van voorneme om met Stats SA en die polisiediens te kommunikeer oor die wanbelyning tussen polisiemisdaadstatistieke en die persepsie van misdaad op die grond, soos onthul in die jongste Stats SA-opname.
Stats SA survey shows low trust in police: committee chair Ian Cameronhttps://t.co/znGHmIP3GK
— Times LIVE (@TimesLIVE) August 26, 2025
Cameron sê Stats SA se opname oor bestuur, openbare veiligheid en geregtigheid 2024/25 het ’n kommerwekkende en inherente vertrouensbreuk tussen die polisie en die gemeenskap uitgelig.
- Statistieke SA se volledige verslag kan hier gelees word.
