“Om moeilikheid te koop,” was die opskrif onlangs in die dagblad Beeld by ’n meningsartikel wat ek geskryf het oor die aanloop tot Cyril Ramaphosa se huidige stryd met die kantoor van die Openbare Beskermer (OB).
Dié kantoor, waarvan Busisiwe Mkhwebane tans die hoof is, is ingevolge die Grondwet ’n Artikel 9-instelling wat namens Suid-Afrikaanse burgers ’n waghondrol oor die land se staatsadministrasie speel. Wat dit beteken, is dat die Openbare Beskermer wanbestuur en die onregmatige optrede van enige amptenaar op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak ondersoek en daarna ’n bevinding maak en remediërende optredes aanbeveel.
Naas sy persoonlike koppestampery met die OB, het Ramaphosa hom ook in onguns by haar gebring oor ’n ander saak, naamlik sy weiering om haar bevinding en aanbevole remediërende optrede teen een van sy belangrikste ministers, Pravin Gordhan, uit te voer.
Gordhan, wat verantwoordelik is vir die openbare ondernemings-portefeulje, het die OB se bevinding dat hy onregmatig opgetree het deur vroeë pensioen vir ’n senior staatsamptenaar van die SA Inkomstediens goed te keur en hom kort daarna weer as konsultant laat aanstel het, op hersiening geneem.
Nou voer Ramaphosa aan dat hy eers wil sien wat die hof oor dié hersieningsaansoek besluit voordat hy teen Gordhan sal optree. Hieroor beskuldig die OB vir die president dat hy op dié wyse die Grondwet oortree, maar intussen is die groter fokus op Ramaphosa se eie OB-moeilikheid.
In die genoemde artikel, wat oorspronklik in Die Burger verskyn het, waag ek ’n mening dat die oorsaak van die Ramaphosa-klag alles te make het met die sogenaamde “lobbying” of steunwerwing vir leierskandidate by die regerende ANC se provinsiale en veral nasionale verkiesingskonferensies. Dit is hoe dit gebeur het dat R500 000 van Bosasa, ’n maatskappy wat op ’n ernstige wyse by die ondersoek na “staatskaping” betrek word, na bewering in die “Ramaphosa-kamp” se bankrekening beland het.
O, nee, antwoord die president toe op ’n parlementêre vraag van die amptelike opposisie (die Demokratiese Alliansie of DA) oor waar die geld vandaan gekom het – dit was geld wat sy seun, Andile, verdien het deur konsultasiewerk vir die maatskappy te doen.
Maar o, wee, omtrent onmiddellik daarna is hy gedwing om dringend ’n regstelling aan die Speaker van die Nasionale Vergadering te stuur nadat die maatskappy die konsultasiestorie weerspreek het: Die R500 000 was in werklikheid ’n skenking van die maatskappy, het die uitvoerende hoof Gavin Watson teruggekap, vir Ramaphosa se veldtog om partyleier te word.
Hierna is die OB genader om ondersoek in te stel of die president die parlement doelbewus mislei het – en dit is nou inderdaad hoe haar bevinding lui. Die parlement, beveel sy as remedie of regstellende aksie aan, moet teen Ramaphosa optree.
Ramaphosa verset hom egter teen die bevinding en het hom nou na die hof gewend. Dit is buite haar wetlike mandaat om skenkings, wat in sy persoonlike hoedanigheid aan hom gemaak is te ondersoek – spesifiek omdat dit nie van openbare fondse afkomstig was nie, lui ’n deel van sy betoog. Lees die volledige verklaring hier.
Die Gordhan-Ramaphosa-gebeure vind plaas teen die agtergrond van ’n versoek deur die DA dat die parlement Mkwebane se bevoegdheid moet ondersoek. Hulle bou hul argument daarop dat, sedert sy dié rol by die gewilde Thuli Madonsela oorgeneem het, verskeie van haar bevindings in hofaansoeke gekritiseer en ongeldig verklaar is – die nuutste hiervan was begin vandeesweek toe die Grondwetlike Hof bepaal het sy het gefouteer in ’n bevinding oor die Reserwebank én só ernstig is haar mistasting geag dat sy deur die Hof persoonlik – eerder as haar kantoor of die staat – vir die betaling van die hofonkoste verantwoordelik gehou word.
Sowel Gordhan as Ramaphosa gebruik juis die bevoegdheid-vraagstuk as deel van hul argumente oor waarom hulle reken dat Mkhwebane se bevindings ook in hulle geval foutief is.
Die OB se bevinding teen Ramaphosa wat betref die Bosasa-donasie, plaas nou die DA in ’n penarie: enersyds hou hulle aan om saam met ander opposisiepartye en burgerlike instansies daarop aan te dring dat Mkhwebane as onbevoegd vir haar pos verklaar moet word, maar andersyds verwelkom hulle Mkhwebane se “skuldigbevinding” teen Ramaphosa op die klag wat hulle ingedien het.
Oor hierdie “oorwinning” word die party en by name sy leier, Mmusi Maimane, die afgelope klompie dae oor sosiale media oor die kole gehaal.
Waaroor dit gaan, is dat die OB-klag nou daartoe gelei het dat Mkhwebane dieper in die Ramaphosa-kamp se geldsake gaan krap het as wat die DA sekerlik bedoel het. Dit is manna uit die hemel vir sy politieke vyande. En al geniet Ramaphosa steeds die steun van byna elke invloedryke kommentator, beskik die OB na bewering nou oor “gevaarlike” inligting dat dermiljoene rande – tot soveel as R400 miljoen – vir sy veldtog om ANC-leier te word, geskenk is.
Selfs al word daar gesê dat Ramaphosa se opponerende kamp in die ANC-leierstryd, dié van Nkosazana Dlamini-Zuma, dalk selfs meer geld ingesamel het, is dit nie teen haar wat ’n klag van onbehoorlike optrede ingedien is en staan nie sý of haar kamp in die beskuldigdebank van openbare menings nie.
Geen verrassing dus dat Dlamini-Zuma se bondgenote, die radikale EFF, haastig was om aan te tree nie, gereed om met kritiek op Ramaphosa los te brand. Hulle dring nou nie net daarop aan dat Ramaphosa die OB se bevindinge wat homself én Gordhan betref eerbiedig nie, maar ook spesifiek dat hy sy amp tydelik moet neerlê totdat die saak afgehandel is.
“Geen dienende president behoort in regstreekse konflik te wees met ’n hoofstuk 9-grondwetlike instelling weens die goed waaraan hy skuldig bevind is nie,” lui ’n EFF-mediaverklaring.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die joernalis Joan van Zyl op Facebook teen die DA uitvaar (en ek haal dit ongeredigeerd aan):
“Liewe Mmusi, ek hoop jy is nou fokken happy. As Suid-Afrika hieroor sy gat sien, sal jy en jou maats persoonlik verantwoordelik daarvoor wees. Watter soort mentaliteit moet ’n mens he as jy bereid is om die hele land onder die bus te gooi net om ’n patetiese politieke punt te score (of nie te socre nie, soos dit toe geblyk het).”
Maar is dit so dat Maimane en die DA vir Ramaphosa “onder die bus (ge)gooi” het sodat hulle ’n “patetiese politieke punt” kon wen? Wat sou hul fout dan wees? Hulle het die Openbare Beskermer gevra om ondersoek in te stel na of Ramaphosa die parlement mislei het – en dit het haar na meer inligting gelei, weliswaar sonder dat dit noodwendig haar werk is om dáárna ondersoek in te stel.
Noudat die inligting egter openbare kennis is – dít en die aanvanklike kwessie van die R500 000 – word die vraag deur al meer politieke waarnemers gestel, ’n saak wat ek juis in my artikel aangeroer het: Waarom het iemand, wat om die leierskap van ’n politieke party meeding, enigsins soveel geld nodig?
Die antwoord wat Ramaphosa in sy verklaring en hofstukke verskaf, is dat dit vir bemarkingsdoeleindes is – en, belangrik ook, dat hy geen persoonlike voordeel daaruit getrek het nie. Heeltemal tereg: nie regstreeks nie, maar wel onregstreeks deurdat die “bemarking” na bewering ingespan is om afgevaardigdes te oorreed om “reg” te stem by die konferensie.
Dié stem kom egter nie gratis na die kandidaat of dié se kamp toe aangestap nie. Politieke geelwortels moet voor hul neuse gehou word – en dié “wortels” neem die vorm aan van iets so “onskuldig” soos gratis opgegradeerde akkommodasie, braaivleis-kuiertjies en duur drankies, sowel as – en hierin lê die groter moeilikheid opgesluit – sogenaamde “toelae” (oftewel “stipends”), as die fluisterstemme by die ANC se 2017-Nasrec-konferensie die waarheid gepraat het en as ’n mens die manuskrip van Oscar van Heerden se komende boek oor die konferensie kan glo.
In die desperaatheid om hom teen Dlamini-Zuma te laat wen, het die Ramaphosa-kamp dalk net in die proses, soos wat Beeld se opskrif sinspeel, vir hom “moeilikheid gekoop”. Nou is daar aanduidings dat sy oorwinning van ’n skamele 179 stemme hom nóg duurder te staan kan kom.
Buro: MvH