Môre word Vryheidsdag in Suid-Afrika gevier. Dit is ’n herdenking van die dag waarop die land se eerste nierassige, demokratiese verkiesing in 1994 plaasgevind het. ’n Hele maand word in werklikheid hieraan gewy.
Nou, presies 29 jaar later, beteken vryheid vir elke Suid-Afrikaner iets anders. Sommige is (steeds) net té dankbaar dat apartheid tot die verlede behoort en dat elke landsburger basiese menseregte geniet. Ander soek meer – sowel mense wat reeds gedurende apartheid vryheid geniet het as ander wat dit eers ná 1994 kon uitleef; in eersgenoemde se geval weens ’n ervaring van die verlies aan sekere regte (of is dit eintlik historiese voorregte of bevoorregting?), en in die tweede se geval weens die besef dat menseregte nie kos in jou mond of ’n salaris in jou hand stop nie.
Die gedeelde belang waardeur (onbedoeld, onwillekeurig) ’n brug na beter burgerskap gebou word, is dat al nagenoeg 60 miljoen Suid-Afrikaners, ongeag bevolkingsgroep, geloof of kultuur, na behoorlike dienslewering smag. Dienslewering wat basiese daaglikse behoeftes betref, soos krag, water en vullisverwydering, maar ook dienslewering ’n vlak hoër op die hiërargie van behoeftes: ekonomiese groei, instandhouding van infrastruktuur en misdaadvoorkoming.
Maar hoe ons dié nuwe ideaal sal bereik, word gekortwiek deur meningsverskille, dikwels gegrond op politieke ideologie of gewoon selfsugtige stiksienigheid. Die oplossing bly ons ontwyk. Justice Malala, skrywer van The plot to save South Africa: Chris Hani’s murder and the week Nelson Mandela averted civil war, praat daaroor in ’n onderhoud oor sy nuwe boek met Netwerk24 se Murray la Vita.
Dit sal ons baat om ’n paragraaf of twee hier volledig aan te haal: “Ons baklei op die oomblik in Suid-Afrika baie oor dinge waaroor ons nie veronderstel is om te baklei nie. Natuurlik wil almal van ons iets so basies as elektrisiteit hê; natuurlik wil ons almal hê die misdaadprobleem moet opgelos word; die korrupsieprobleem,” skryf hy. En dan slaan hy die spyker op die kop: “Waaroor ek hartseer is, is dat ons nie eers oor die basiese dinge kan ooreenstem nie.”
Malala meen wat kortkom, is die soort leierskap wat met die sluipmoord op Hani ’n burgeroorlog in Suid-Afrika voorkom het. Dit was die leierskap van Mandela en FW de Klerk. Ongeag hulle skerp verskille oor velerlei kwessies op daardie stadium – en die feit dat hulle beswaarlik met mekaar gepraat het – het hulle tog één ding gemeen gehad, herinner die skrywer en meningsvormer ons: “Hulle benadering was: ‘Maak nie saak waaroor ons verskil nie en maak nie saak hoe pynlik die moord op Chris Hani was nie, nie een van ons wil ’n uitgebrande dop van ’n land erf nie ...’”
Dit is sy oortuiging dat die leiers van destyds – ook ander, minder gevierde leiers naas die Nobelprys vir Vrede-ontvangerduo Mandela en De Klerk – besluit het dat hulle nie vir die nageslagte, die kinders van vandag en môre, ’n “hel-landskap” wou nalaat nie. “Hulle het besluit hulle wil ’n beter land hê en ’n nuwe etos.”
Die belewenis waarvan vandag se generasies egter getuig, is allesbehalwe “wat [Mandela-] hulle vir hul kinders [wou] hê”. Dit is ver verwyderd van wat Madiba en De Klerk met (soos Malala dit in die onderhoud beskryf) ’n “beter land” en ’n “nuwe etos” bedoel het.
Wat jy nou kry, is ’n kultuur van korrupsie om elke hoek en draai, ’n neiging dat jy vir omtrent alles iemand moet (of kan) omkoop: ’n afspraak vir ’n leerlingrybewystoets (en uiteindelik die rybewys self); ’n werk by die munisipaliteit; ’n eksamenvraestel op skool; ’n slaagsyfer op tersiêre instellings; en dan natuurlik die hoogste prys: ’n staatstender of -kontrak. Maar nou het die Thabo Bester-sage getoon dat jy jouself selfs uit die tronk kan koop (mits jy die geld daarvoor het) nadat jy jouself teruggebring het selle toe (soos wat die sensasionele verhaal nou ontvou) om jouself daar te laat doodbrand (terwyl dit in werklikheid iemand anders se lyk was wat op dié wyse geskend is).
Soos ’n mens kan verwag, ondergaan die begrip vryheid deurentyd ’n omwenteling. Nie altyd ten goede nie, tot voordeel van die land se bevolking nie, die arm massas en die werklose jeug nie, maar ook as ’n illustrasie van hoe goedkoop (of verhandelbaar) die swaar verdiende nuwe bestel geword het.
Sonder om die optrede van misdadigers of swendelaars goed te praat, kan met reg gevra word hoe gehoop kan word dat die stand van sake anders sal wees wanneer politici deesdae dikwels self in die beskuldigdebank staan vir beweerde bedrog of ander [vermoedelike] bedenklike aksies. Dit is soms leiersfigure wat ’n noue verbintenis met Mandela gehad het. Ook diegene wat saam met Hani die struggle-pad in ballingskap en plaaslik gestap het, se voete van klei (of is dit eintlik hul ingesteldheid van gierigheid?) word, en is al, blootgestel.
Terwyl Mandela met reëlmaat aangehaal word, is daar een spesifieke aanhaling van Hani wat darem ook ’n permanente staanplek ingeneem het in die galery van gróót uitsprake of toesprake: “What I fear is that the liberators emerge as elitists who drive around in Mercedes Benz’s and use the resources of this country to live in palaces and to gather riches.”
Om ’n kabinetslid te wees is nie ’n probleem nie, het hy ook geglo, maar wel wat (deur sodanige kabinetslede?) gedoen word vir die maatskaplike opheffing van die werkers van ons land. En wat sou Hani vandag sê van die luukse “vryhede” wat kabinetslede geniet teenoor die verdrukkende ellende van die werkersklas? Luukse ampsmotors, inderdaad; gratis verblyf in spoghuise, miljoenêrsalarisse – en ononderboke kragvoorsiening terwyl die massas aan beurtkrag onderwerp word.
Malala weier om te glo dat dit is wat die leiers uit Mandela en Hani se era vir die land se kinders wou hê, hierdie grypsugtige voorbeeld wat deur die politieke elite gestel word en hierdie korruptheid wat in elke openbare sfeer ervaar word. “Ek dink ons moet ons koppe in skaamte laat hang oor die feit dat ons nie leer uit daardie ongelooflike lesse wat ons gelukkig genoeg was om te ontvang nie,” sê hy.
Maar soos wat jy ’n perd na die water kan lei en nie kan máák drink nie, kan jy aan leiers navolgenswaardige voorbeelde voorhou maar hulle dit nie kan maak navolg nie. Dit is, sinies gestel, seker ook hul volle (vrye) reg om dit te doen – behalwe natuurlik as dit ten koste van ’n hele land en bevolking is en die weg baan na ’n “uitgebrande dop” van wat eens was.