Een van die wêreld se bekendste landmerke, Tafelberg in Kaapstad, gaan later die maand opgeruim word tydens ’n vrywillige bergskoonmaakaksie.
Ter viering van die internasionale Take a Hike Day het die Tafelberg-sweefspoormaatskappy (TMACC) besluit om die publiek te nooi om die rommel op die berg te help opruim. Die skoonmaakaksie vind op 17 November plaas.
Die ikoniese Tafelberg is een van die Moederstad se grootste toeristetrekpleisters en word elke jaar deur sowat 800 000 mense besoek. Tafelberg is in 2012 aangewys as een van die Nuwe Sewe Wonders van die Natuur en is die enigste een wat in ’n stedelike gebied geleë is.
Die groot aantal toeriste wat die berg besoek, laat egter ook ’n negatiewe spoor as besoekers nie hulle rommel agter hulle opruim nie.
Die doel van dié maand se skoonmaaksessie is om toe te sien dat hierdie internasionale natuurwonder sy ongerepte natuurskoon so ver moontlik behou en dat dit teen rommelstrooiers beskerm word.
Volgens TMACC se uitvoerende direkteur, Wahida Parker, is die inisiatief ’n herinnering daaraan dat elkeen ’n verantwoordelikheid het om aktief te help met die bewaring en beskerming van die natuur.
Die internasionale Take a Hike Day bied ’n gulde geleentheid vir stappers en bergklimmers om ’n bydrae te lewer in die bewaring van hierdie landmerk.
Parker sê in ’n verklaring die TMACC is verbind tot verantwoordelike toerisme. Dit sluit in die bewaring van natuurlike hulpbronne, die minimalisering van lug-, water- en grondbesoedeling, asook die opruiming van rommel wat deur toeriste en besoekers op die berg agtergelaat word.
“Onderliggend aan alles wat ons doen is die handhawing van die noodsaaklike ekologiese balans wat help om Tafelberg se natuurlike erfenis en biodiversiteit te bewaar.”
Parker sê hulle kan dit nie alleen doen nie. “Dit is almal se plig om deel te wees van die verandering wat nodig is om seker te maak dat hierdie Nuwe Sewende Wonder van die Natuur beskerm word.” Sy sê hulle moedig almal wat hulle verbintenis om die berg te beskerm deel, aan om hulself beskikbaar te stel tydens vandeesmaand se opruimingsdag.
Die publiek word genooi om op 17 November vanaf 8-uur die oggend tot 1-uur die middag aan die opruimaksie deel te neem. Die rommelverwydering begin by die Platteklip Gorge-wandelroete en strek tot by die kruin van die berg.
Die aksie word ook ondersteun deur Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), die liggaam wat verantwoordelik is vir die bestuur van Suid-Afrika se nasionale parke, waarvan die Tafelberg Nasionale Park een is. Die park is in 1998 gestig en beslaan die Tafelberg-bergreeks, wat van Seinheuwel in die noorde strek tot by Kaappunt, en die see en kus van die skiereiland.
*
SANParke is in 1926 gestig, en bestuur tans 19 parke met ’n totale oppervlakte van 3 700 000 km2, of omtrent 3% van die land se oppervlakte.
Almal wat op 17 November met Tafelberg se opruiming help, sal ’n gratis kaartjie ontvang om na die tyd met die sweefspoor van die berg af te gaan. Die laaste kabelkar sal om 4-uur vertrek.
Die Tafelberg-sweefspoor moes tydens die streng inperkings vroeër vanjaar sy diens tydelik opskort en was tot Juniemaand gesluit, waarna dit weer stelselmatig heropen het. Sedert 1 September is die sweefspoor weer ten volle operasioneel, en daar word ook tot die einde van die maand elke dag ’n beperkte aantal kaartjies teen halfprys aangebied.