In die nuus

  • 0

“It doesn’t come with any instructions, because it’s meant to be the most normal, easy, obvious and unremarkable activity in the world, like breathing or blinking,” skryf Alain de Botton oor op hoogte bly van die nuus in The News – A User’s Manual.

Gewis kan weinig ander lande by Suid-Afrika kers vashou as dit kom by nuus maak én ingelig bly oor wat alles in die nuus is. Inderdaad, só baie gebeur binne die bestek van een week in Suid-Afrika (en nie alles kan hier gelys word nie) – en býbly is ’n kuns:

  • Senior personeel van die land se kragverskaffer Eskom – onder andere die finansiële hoof – bedank te midde van ’n parlementêre ondersoek na korrupsie waarby die Gupta-broers van Indiese afkoms betrek word.
  • Die voormalige lid van die provinsiale uitvoerende raad van Gauteng verantwoordelik vir gesondheid getuig in Johannesburg in die verhoor oor die dood van 144 psigiatriese pasiënte wat uit staatstoesig na onvoldoende fasiliteite van nieregeringsorganisasies verskuif is.
  • Die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling moet by ’n openbare verhoor verduidelik oor haar rol in die krisis wat ontstaan het oor die uitbetaling van maatskaplike toelaes aan 17 miljoen behoeftige Suid-Afrikaners.
  • Die riglyne vir ’n geregtelike ondersoek na “staatskaping”, die resultaat van ’n ondersoek deur die land se Openbare Beskermer oor sakelui wat onbehoorlike invloed oor die regering uitoefen, word bekendgestel.
  • Die waterkrisis in Kaapstad vererger: die sogenaamde Dag Zero, wanneer die meeste krane in die Moederstad toegedraai gaan word en inwoners sal moet toustaan vir waterrantsoene, kruip vinnig(er) nader, asof in ’n Groot Plaag soos dié in Edward Marriott se The Plague Race, Daniel Defoe se Journal of the Plague Year, Albert Camus se La Peste.

Dis oor die waterkrisis dat hierdie bydrae handel: die nuutste gebeure, die reaksie van die gemeenskap, en die nasionale regering se hantering van die situasie.

Ons nuusberig begin by die afgelope week se aankondiging dat die datum vir Dag Zero van 21 April na 12 April vervroeg is – teen die agtergrond van die mening van kenners wat sweer die dorsskok kan die Kaap al teen Februarie tref.

“Ons daaglikse waterverbruik is deurslaggewend om Dag Zero af te weer,” sê Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir onder meer water. “Gebeur dit nie, is dit moontlik dat inwoners voor die aanbreek van die winter in watertoue gaan staan.”

Die (politieke) winter het reeds die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille van die Demokratiese Alliansie (DA), getref deurdat haar party haar “vrygestel” het van die hantering van dié waterkrisis; haar adjunk, Ian Neilson, het beheer oorgeneem.

Ook die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, en die partyleier, Mmusi Maimane, het nou ingetree om te probeer verhoed dat Dag Zero ’n werklikheid word.

Maar intussen maak gemeenskappe, sowel in die rykmansbuurte soos Bishopscourt as in die armmansbuurte soos Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, hulle steeds skuldig aan ’n ongeërgdheid deur hulle nie te steur aan die waterbeperkings nie. Aan die ander kant is hulle ook verenig in hul teenkanting teen ’n voorgestelde waterheffing wat De Lille wou laat instel om vir infrastruktuur te betaal, ’n stryd wat sy verloor het.

“Julle het jare gelede al van die probleem geweet; julle is deur kundiges gewaarsku en julle het nie geluister nie,” skryf een inwoner aan die stadsraad. “Ek het my deel gedoen om water te bespaar, so hoekom moet ek vir julle foute gestraf word?”

Die nasionale minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, het die naweek na Kaapstad gereis om haar van die nuutste verwikkelinge te vergewis en inwoners die versekering te gee dat die nasionale regering ook alles in hul vermoë sal doen om Dag Zero in die spore te stuit.

Uit Davos in Switserland, waar adjunkpresident Cyril Ramaphosa, nuwe leier van die regerende party (die ANC), die Wêreld Ekonomiese Forum-beraad bygewoon het, het hy op die internasionale nuuskanaal CNN onderneem om met sy terugkeer ’n span kundiges byeen te bring vir die soeke na ’n oplossing.

“Indien mense die wêreld oor ooit gedink het dat klimaatsverandering maar net ’n fabel is,” het Ramaphosa gesê, “dan sien ons in Suid-Afrika nou die werklike uitwerking van klimaatsverandering.”

Maar die Stad Kaapstad gaan voort met sy gebeurliksheidsplanne asof Dag Zero onafwendbaar is: in die komende week reeds sal die ligging van 200 beplande waterafhaalpunte bekend gemaak word in afwagting op Dag Zero.

Indien dié dag wel aanbreek, sal ons chaos sien op die strate van een van Suid-Afrika se gewildste toeriste-aantreklikhede; dís waarom die Weermag en polisie ook gereed staan om in te tree indien nodig. Boonop het konflik reeds ontstaan in supermarkte in Kaapse voorstede waar inwoners mekaar uit die pad stoot om gebottelde water te koop om op te gaar.

En mediese kenners waarsku dat die uitbreek van siektes ook ’n besliste moontlikheid is, wat onwillekeurig beelde uit die genoemde boeke van Marriott, Defoe en Camus by my laat opkom.

Uiteindelik, of Dag Zero aanbreek of vermy word, sal iemand verantwoordelikheid moet aanvaar vir hoe die stad – afgesien van die onvoorspelbaarheid van weerpatrone – in dié situasie beland het.

Koppe moet, soos hulle hier sê, rol.

Die tekens bestaan reeds dat burgemeester De Lille die einde van haar politieke pad bereik het, maar wie anders moes saam met haar die gevaar sien kom het, terwyl hulle met interne politieke struwelings doenig was?

Die huidige gebeure is ’n aanduiding dat die “Kaap van Storms” vandag steeds sy naam gestand doen – ’n hele 366 jaar nadat Jan van Riebeeck en sy gevolg in April 1652 uit Nederland hier voet aan wal gesit het om ’n verversingspos vir die Verenigde Oostindische Compagnie (VOC) te vestig vir – hoe ironies – die verskaffing van onder meer vars drinkwater.

Dit was een van die land se heel eerste nuusgebeure.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top