Suid-Afrika se inflasiekoers het verlede maand tot onder vier persent gedaal en is nou die laagste in meer as agt jaar sedert 2011.
Dié stukkie goeie ekonomiese nuus te midde van die land se knellende ekonomiese omstandighede is Woensdag deur Statistiek Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak.
Volgens SSA het jaarlike inflasie in Oktober tot 3,9% gedaal vergeleke met 4,1% die vorige maand. Dit is selfs laer as die verwagte 3.9% wat deur die markte voorspel is.
#CPI inflation dropped to its lowest level in over 8 years in October 2019, registering at 3,7%. This was down from 4,1% in September 2019.
Listen here for more: https://t.co/94iphegHRr #StatsSA pic.twitter.com/OxsXF7s9p4
— Stats SA (@StatsSA) November 20, 2019
Wat veral goeie nuus vir verbruikers is, is dat die jaar-op-jaar voedselinflasie ook gedaal het vanaf 3,9% in September tot 3,6%. Kospryse is die grootste rede vir die styging in die inflasiekoers.
Die land se inflasiekoers het verskeie kere wipplank gery sedert 1950 toe dit op ’n rekordlaagtepunt was. In die 1970’s is die dekade afgeskop met inflasie van 3,6%. Die volgende tien jaar het Suid-Afrika se politieke onstabiliteit en die internasionale oliekrisis groot ekonomiese uitdagings gestel en in Desember 1979 het die land se inflasie die hoogte ingeskiet tot 14%.
Hierdie opwaartse spiraal het in die 1980’s voortgeduur. Geknel deur sanksies en ekonomiese agteruitgang het die land se inflasie in Januarie 1986 ’n rekordhoogtepunt van 20,7% bereik.
Die moeilikste maand vir Suid-Afrika sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 was in Augustus 2008 toe jaarlikse inflasie ’n hoogtepunt van 13,7% bereik het.
Hoewel verlede maand se inflasiekoers die laagste in agt jaar was, is dit nie die laagste inflasiekoers wat die land al gehad het nie. In 1954 het inflasie tot ’n verstommende -0,3% gedaal. ’n Inflasiekoers minder as 0% staan bekend as deflasie. Dit is wanneer die prys van produkte en dienste nie styg nie maar oor verloop van tyd daal.
Die laagste inflasiekoers sedert 1994 was 0,2% (2004). Die gemiddelde koers die afgelope jaar was 4,2% wat effens minder is as die 4,6% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Verbruikers kan ’n sug van verligting slaak oor die nuus aangesien dit beteken dat die prys van verskeie goedere en dienste teen ’n laer tempo sal styg en in sommige gevalle selfs kan daal. Een van die opmerklikste voorbeelde van pryse wat gedaal het, is die brandstofprys wat in Oktober 4,9% laer was ooreenstemmend met verlede jaar. In Oktober 2018 het die prys van 95-oktaan-petrol in die binneland met R1 per liter gestyg tot R17,08. Verlede maand was die prys R16,21 per liter.
Die slegte nuus van die jongste inflasiesyfers is volgens Netwerk24 dat die armstes in die land steeds inflasie van hoër as die nasionale gemiddelde beleef. Ses van die tien inkomstekategorieë se inflasie is meer as 3,7%.
Die daling in die inflasiekoers maak dit vir die Reserwebank moontlik om ’n rentekoersverlaging te oorweeg. Die meeste ekonome het egter op die vooraand van die aankondiging in ’n Netwerk24-peiling voorspel dat die Reserwebank Donderdag die rentekoers onveranderd gaan hou tydens die monetêrebeleidskomitee se laaste vergadering van 2019. Dit is glo uit vrees dat Moody’s Suid-Afrika eersdaags gaan afgradeer, wat die rand weer kan laat daal en inflasie verhoog.
Buro: MvH