Baie Suid-Afrikaners wat enkele maande gelede gretig was om toegang te kry tot COVID-19-entstowwe, het weens die “infodemie” al hoe meer huiwerig geword om hulle te laat inent.
Die goeie nuus is dat slegs ’n klein aantal mense heeltemal teen die entstof gekant is. Die kabinet het Suid-Afrikaners wat hulle reeds laat inent het, tydens die afgelope week se kabinetsvergadering geloof. Meer as 22 miljoen entstowwe is reeds in die land toegedien.
Cabinet applauded South Africans who have chosen to protect themselves and their loved ones by vaccinating against the Coronavirus Disease (COVID-19) pandemic. Our country has already administered over 22 million vaccine doses. #IChooseVaccination #PostCabinetBriefing pic.twitter.com/pFie1g4bmV
— South African Government (@GovernmentZA) November 4, 2021
Net 10 maande gelede was Suid-Afrikaners desperaat om toegang tot die entstowwe te verkry. Daar was ’n gevoel van hopeloosheid dat die land nie betyds entstowwe sal ontvang om die derde golf en [die verwagte] vierde golf van die pandemie teen te staan nie. Maar teen Oktober was daar slegs ongeveer 10,8 miljoen mense (18,1%) wat ten volle ingeënt is, berig Sue Segar op die Universiteit Stellenbosch (US) se webwerf. Dit blyk uit ’n webinaar wat deur die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBBG) aangebied is om Wêreld- Bewysgebaseerde Gesondheidsorg Dag 2021 te herdenk.
Tydens die webinaar is daar gefokus op die behoefte aan toegang tot feitelike, bewysgebaseerde inligting tydens die “infodemie” wat ontstaan het weens ’n oorvloed van, onder andere, vals of misleidende inligting, wat mense oor die virus en die entstof onder oë gehad het, berig Segar.
Volgens Segar was “die doel van die gesprek om verskeie perspektiewe byeen te bring om te verstaan watter rol die infodemie gespeel het in die skuif van entstofdesperaatheid tot inentingshuiwerigheid in Suid-Afrika, en om te kyk hoe verskeie rolspelers gehelp het om mites te verdryf en ’n beter begrip te bevorder.”
Volgens Hassan Mahomed, ’n openbaregesondheidspesialis by die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, is dit eintlik ’n klein aantal mense wat heeltemal teen die entstof gekant is – ongeveer 10–15%. “’n Groter aantal mense is net onseker. Hulle soek meer inligting van ’n betroubare bron.”
“Die antwoord is vertroue – vertroue in wetenskap, vertroue in die regering, vertroue in plaaslike leiers. Dit is iets wat verder ontwikkel moet word, en dit neem tyd. Dit is iets waarmee die regering sukkel.”
Zengeziwe Msimang, die hoofskakelbeampte by Harambee Youth Accelerator, wat die geleentheid gemodereer het, het gesê dat entstofhuiwerigheid nie uniek aan Suid-Afrika is nie – slegs ongeveer 36% van die wêreld is tans ingeënt, al is entstowwe gratis beskikbaar is in baie lande. Sy het gesê dat mense regoor die wêreld ’n “tsunami van inligting” ontvang het “wat bestaan uit ’n kombinasie van feite en mites, wat dit moeilik maak om feite van fiksie te onderskei.”
Yaseen Theba, voorsitter van die Moslemvereniging van Suid-Afrika, ’n organisasie sonder winsbejag wat suksesvol met die owerhede in Gauteng saamgewerk het om bystand te lewer vir die inentingsveldtog, het gesê dat die pandemie die probleem van inligtingoorvloed beklemtoon het, berig Segar.
Theba het saamgestem dat die kwessie van vertroue belangrik is vir die bevordering van entstofopname. “As wyksraadslede, gemeenskapsleiers en godsdienstige leiers die inentingsveldtogte gedryf het, sou baie mense hulle laat inent het omdat hulle daardie mense vertrou.”
Drie uit elke vyf mense ouer as 50 jaar in Suid-Afrika is nou ingeënt, het die kabinet Donderdag aangekondig. “Ons moet teen die einde van die jaar by vyf uit vyf van sulke ingeënte ouderdomsgroepe uitkom om die krag van die verwagte vierde golf dood te maak.”
Die kabinet sê in hulle verklaring volgende naweek se Vooma-inentingsnaweek van 12 tot 14 November is ’n geleentheid vir ongeënte mense om deel te neem aan die land se stryd teen COVID-19 deur die gratis entstowwe by enige van die inentingsplekke regoor die land te neem.
Die kabinet het mense daaraan herinner om te verseker dat hulle ’n tweede dosis van die Pfizer-entstof neem om ten volle beskerm te word.
Bronne:
Lees ook op LitNet:
Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide
Fopnuus vier hoogty in tye van onsekerheid