
Jan Mutton (voorsitter: SASNEV en oud-ambassadeur vir België) aan die woord.
Die volledige Ingrid Jonker-argief het veilig in Suid-Afrika aangekom en word tans by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek gekatalogiseer. Dié dele wat nog nie georden is nie, word nou gesorteer. Dit sal teen einde April vir die publiek en navorsers oopgestel word.
Die dokumente – manuskripte, briefwisselinge en foto’s – was ’n kwarteeu in Nederland en dit is van die Literatuurmuseum in Den Haag versend na Suid-Afrika. Die onderhandelinge om die dokumente van dié museum na Suid-Afrika terug te bring, het sedert die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) daarby betrokke geraak het, meer as drie jaar geduur, met Jan Mutton (voorsitter van SASNEV), Eureka Barnard (SASNEV se bestuurshoof), Andries Visagie, Ena Jansen (beide bestuursraadlede van SASNEV) en die Jonker-familie wat saamgewerk het hieraan. Die FAK was aanvanklik betrokke, maar het later onttrek en die proses aan SASNEV oorgelaat.
Die repatriëring van haar dokumente is ’n groot gebeurtenis in die 60ste jaar sedert dié bekroonde digter se dood én in die jaar wat Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal gevier word, het Jan Saterdag by ’n huldigingsfunksie by SASNEV in Pinelands gesê. Hy sê toe hulle die omvang van die argief in Den Haag gesien het, het hulle besef dat haar argief slegs hier op eie bodem ten volle gewaardeer kan word.
Jan het gesê: “Hierdie hele projek het skielik aan SASNEV ’n nuwe perspektief gegee as speler in die netwerk van kultuurinstitute.
“Ek kan nie aan ’n meer geskikte geskenk dink nie.” Hy is verskeie male gedurende die vieringe geloof vir sy harde werk om hierdie droom ’n realiteit te maak.
Die argief – die fisieke en digitale weergawe – sal by die US Biblioteek gehuisves word en beskikbaar wees vir navorsing. Hy het gesê in Ingrid Jonker se geval is beide vorme belangrik, omdat haar poësie van die sestigerjare haar ’n ikoniese figuur gemaak het. Dis belangrik dat die fisieke werke ook terugkeer na Suid-Afrika.

Helene Rekkers (Konsul-Generaal van Nederland), Eureka Barnard (bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, SASNEV) en Jan Mutton (voorsitter: SASNEV en oud-ambassadeur vir België).
Die dag het verskeie belangrike gaste gehad, waaronder Hélène Rekkers, Konsul-Generaal van Nederland; Gwen Fagan, historikus en rooskundige; verskeie familielede van Jonker, waaronder haar kleindogter, Margarita Celeste Strybis (Jonker se enigste dogter, Simone Garcia Marques wat in 2023 oorlede is, se dogter) en haar niggie Ashleigh Herselman. Ook Catherine de Villiers, Simone se niggie; Simone se tweede man, Ernesto Garcia Marques; die digter Diana Ferrus; en Vlaamse digter-dramaturg, Tom Lanoye; die skrywers, Valda Jansen, Karina M Szczurek, André P Brink se weduwee en ook verskeie akademici.

Bertram Mourits
’n Aanlyn bydrae deur Bertram Mourits, hoof van kolleksies by die Literatuurmuseum, het verduidelik hoe groot eer dit vir hom was om die digitalisering waar te neem en ook om deel van dié argief se geskiedenis te wees.
Die argief het van die digter, Gerrit Komrij, wat dit uit die Jonker-boedel gekoop het, gekom en hy het dit by sy huis in Portugal bewaar. Hy was onbewus daarvan dat die argief onwettig aan hom verkoop is. Met sy afsterwe was sy wens dat dit eendag na Suid-Afrika sou kon terugkeer en hierdie dag het nou aangebreek.
Mimi Seyffert-Wirth, assistent-direkteur van die Universiteit Stellenbosch Biblioteek, het vertel die Literatuurmuseum in Den Haag het die argief uitstekend bewaar. Sy het gesê argiewe van Jonker se vriende, Jan Rabie en Uys Krige, en ’n paar dokumente van Breyten Breytenbach, word onder meer ook by die universiteitsbiblioteek-dokumentesentrum gehuisves. Die sentrum is in 1967 gestig en die eerste versameling wat daarin opgeneem is, is die werke van DF Malan.
“Sy is uiteindelik tuis tussen haar vriende,” het sy gesê. Seyffert-Wirth het vertel dat sy baie opgewonde was om die krat oop te maak. “Ek het dadelik vir my kollega gevra om ‘Bitterbessie dagbreek’ uit te haal.”
“Ons is dankbaar dat ons met dié versameling van Ingrid Jonker vertrou is. Ons sien uit na ’n nuwe geslag studente en navorsers wat die werk sal kom bestudeer. Dis ’n navorser se droom om met die oorspronklike dokumente te werk, want dit word ’n sensoriese ervaring.
“Dis vir ons belangrik om studente bekend te stel aan primêre navorsingsmateriaal.”

Grethe van der Merwe en Jacques Coetzee
Grethe van der Merwe het twee toonsettings van Jonker se gedigte gesing en Jacques Coetzee, wat die Ingrid Jonker-poësieprys in 2022 ontvang het, het van sy gedigte voorgelees. Hy het reeds op 12 as koorlid met haar gedig “Korreltjie sand” kennis gemaak en gesê dit het sy lewe verander.

Courtneigh Ess
Die feeslesing is deur Courtneigh Ess, dosent verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland se departement Afrikaans en Nederlands, wat besig is met haar PhD-graad, gelewer. Sy het na die hedendaagse benadering tot Jonker gekyk. Basies: Wat beteken hierdie digter nou 60 jaar ná haar dood vir jong akademici?
In haar lesing het die ware waarde van die repatriasie na vore gekom en ook die belangrikheid van Jonker in die hedendaagse literêre ruimte. Sy het die terugkeer van die Jonker-argief as ’n “monumentale geleentheid en as die viering van ’n tuiskoms” beskryf.
Sy het die repatriasie van die argief in ’n akademiese konteks geplaas, en gesê dat die argief nie meer net ’n bewaarplek is nie, maar ook ’n bron van kreatiwiteit. “Dis betekenisdraend én betekenisskeppend. Die argief is die grondslag van kennis. Dit bepaal wat ons weet, maar ook dit wat ons nie weet nie.
“Met elke opname in ’n argief is ook iets wat uitgelaat en verswyg word. Dis dus nie altyd wat gesê word wat belangrik is nie, maar ook dit wat nie gesê word nie.”
Ess het gesê vir baie mense is Jonker die digter bekend vir haar handvol huishoudelike gedigte; vir ander die tragiese digter aan die rand as uitgeworpene wat uiteindelik tot haar selfdood gelei het; en vir baie is sy die digter met die warrelwind-romanses.
Maar vir baie is sy die een wat “Die kind” geskryf het – voorgelees deur oudpres Mandela met die eerste demokratiese parlementsitting.
“Die ironie is dat wanneer ’n digter so bekend raak, ontstaan daar soveel mites en stories wat dit moeilik maak om die werklike literêre stem te hoor. Die beeld of postuur van Jonker verdring haar werk en die biologiese narratief word ingeforseer.
“Die repatriasie van die argief gee aan ons die geleentheid om Ingrid Jonker nuut te lees; losgemaak van die bekende diskoers. Ons kry die kans om te lees wat die argief sê, maar ook wat die argief versuim om te sê. Die stiltes en die leemtes. En dit behels ’n proses van vervreemding om haar weer opnuut te verken en ons los te maak van die bekende diskoers en mites.
“Vervreemding is ’n belangrike motief in Jonker se werk. En dis interessant dat hierdie sin van vervreemding ook vasgevang word in die jonger geslag feministiese Afrikaanse skrywers soos Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips, Lynthia Julius en Veronique Jephtas, wat hulself van die rand van die samelewing posisioneer – op die marge tussen binne en buite – plaas.
“Die randposisie word – net soos vir Jonker – ’n ruimte wat radikale literêre moontlikhede voortbring.” Sy meen die skrywers is gewis in gesprek met Jonker. Die soeke na sin, identiteit, vervulling en bowenal die soeke na ’n gevoel van behoort kenmerk Jonker se digkuns. Skryf was haar padkaart, haar GPS, haar rigtingwyser.
“Vervreemding van self, van plek en die samelewing word in haar skrywes na vore gebring.”
Ess het ook uitgelig dat Jonker ’n groter politieke digter was as waarvoor sy krediet ontvang. Haar verset en ontuisheid met huisarres, die witbevoorregting en die tradisionele rol van die vrou en ma in die sestigers in Suid-Afrika, is tekens hiervan.
Vervreemding is ook die deurlopende tema wat hierdie skrywers aan mekaar bind, ses dekades uitmekaar, het sy vertel. En dis ook die enigste manier hoe die repatriasie van die Jonker-argief betekenis kan kry: As ons as lesers, navorsers en studente ons vervreem van dit wat ons reeds van Jonker weet en daardie vervreemding as leesstrategie inspan.
Ess het ook na Jonker se politieke vervreemding onder apartheid verwys en “dat haar ontuisheid gelê het in die wete dat haar wit vel haar vrywaar van die verdrukking wat swart mense ervaar”.
Dit laat haar ook onverwags in gesprek tree met hedendaagse swart Afrikaanse vroueskrywers. Alhoewel hul geskiedenis en sosiale posisies radikaal verskil, is daar een gemene aspek: Hulle skryf vanaf die rand, vanuit ontworteling en ’n vreemdheid van die self.
“Ek is huiwerig om te sê Jonker het ’n direkte invloed op genoemde skrywers gehad, maar daar is wel parallelle-ervarings, -temas en -motiewe wat hul werk dalk onbedoeld in gesprek sit.
“Hierdie skrywers skryf ook oor matriargale herkoms; vervreemding van die self en taal; en die kwesbare, maar kreatiewe ruimte van die randposisie.
“Om Ingrid opnuut te lees, vra dat ons haar stem herposisioneer en in gesprek bring met hierdie feministiese ontwikkelings in die Afrikaanse letterkunde.”
Ess sien reeds talle navorsingsmoontlikhede oor die bande tussen Jonker en swart vroueskrywers – sy gee ’n paar tesisvoorstelle vir die studente in die gehoor oor matriargale verhoudings, vervreemding van die self, die simboliese rol van die see en die rand as ’n plek van variëteit.
Ess wys daarop dat die repatriasie van Jonker se argief ’n dag nadat die landwye protesaksie teen geslagsgeweld gehou is, gevier word en dis betekenisvol. “Dit toon die noodsaak dat die vroulike ervaring, stemme en solidariteit voortdurend herbevestig moet word.”

In ’n paneelbespreking gelei deur Louise Viljoen, met die digter Diana Ferrus, Ess en die skrywer Valda Jansen.
In ’n paneelbespreking gelei deur Louise Viljoen, met Diana Ferrus, Ess en Valda Jansen, is Jonker se invloed op hulle en ook op die digter Antjie Krog bespreek.
Viljoen het gesê die argief skep ’n wonderlike opwinding van moontlikhede wat jong navorsers met daardie werk gaan doen.
Die bespreking het teruggekyk op wat Jonker destyds vermag het – hoe onapologeties sy opgestaan het teen die status quo, maar ook na die kollektiewe bestaan van vrouwees; wat dit beteken om vrou te wees. Ook dat sy eerder ’n politieke figuur as ’n slagoffer is.
Jansen het gesê sy identifiseer baie met Jonker, want sy het gekies om haar stem stil te maak. “Jonker het in die see geloop. Ek het my hele lewe lank my stem stilgemaak deur na mense te luister wat gesê het ‘nee’ vir my digkuns. My skrywes was nie versetpoësie nie en het dus nie ingepas in die era waarin dit geskryf is nie.”

Ingrid Jonker se kleinkind (Simone se dogter), Margarita Celeste Strybis, en haar niggie, Ashleigh Herselman, lees saam voor.
Die geleentheid is afgesluit met bydraes van die Jonker-familie wat benadruk hoe graag Simone haar ma se dokumente weer in Suid-Afrika wou sien. Haar kleindogter, Margarita, en niggie, Ashleigh (Ash), het saam “Die kind” in Engels voorgelees en gesê die repatriasie is die genesing van generasietrauma.

Ingrid se susterskind, Catherine de Villiers, lees voor.
Ingrid se susterskind, Catherine, het gesê dié dag verander die geskiedenis. “Simone het haar hele lewe daaraan gewy om haar ma se geskrifte huis toe te bring.”
Catherine het haar dank betuig aan almal betrokke – veral Jan – en gesê die repatriasie bied drade van heling. Sy het toe “Toemaar die donkerman” voorgelees.

Die spesiale gedenkboek
Die sowat 100 gaste is gevra om die spesiale gedenkboek wat deur ’n lid van die Kaapse Vriende van Kalligrafie, Hilary Adams, ontwerp en geskenk is, te skryf. Die boek word aan die Jonker-familie geskenk.
- SASNEV se missie en visie is die bekendstelling van die kulturele gebeure in die Lae Lande en hulle doen dit deur middel van woord, prosa en poësie, met boekbekendstellings, literêre praatjies en besoeke van oorsese skrywers. “So die woord is vir ons baie belangrik.”
- Ingrid Jonker is op 19 September 1933 op Douglas gebore en het op 19 Julie 1965 haar eie lewe geneem deur by Drieankerbaai in die see in te loop. Sy het een dogter, Simone, agtergelaat. Simone is twee jaar gelede aan kanker oorlede, midde-in die onderhandelings om haar ma se geskrifte terug te bring.
- Nelson Mandela het in 1994 haar gedig, “Die kind (wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga)”, met sy inhuldiging as eerste demokratiese president van Suid-Afrika voorgelees.
Die Kind
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpeville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ’n koeël deur sy kop
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte
van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ’n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld
Sonder ’n pas

Catherine de Villiers, Ash Herselman, Margarita Strybis en Jan Mutton.

Francis Galloway, skrywer en samesteller van Vlam in die sneeu, en Jacques Coetzee.

Die Vlaamse digter en dramaturg, Tom Lanoye, en Ena Jansen.

Dorothea van Zyl en Karina M Szczurek, skrywer en ook André P Brink se weduwee.

Jan Mutton, Louise Viljoen, Diana Ferrus, Courtneigh Ess en Valda Jansen.

Die SASNEV-kat, Tiberta, by ’n skildery van Ingrid Jonker.
- Foto’s: Maryke Roberts
