Inligtingsreguleerder loop bloutjie in hof oor matriekuitslae

  • 0

Die Inligtingsreguleerder (IR) wat die bekendmaking van die 2024-matriekeksamenuitslae in die media wou verbied, het ’n bloutjie geloop in die Pretoriase Hooggeregshof.

Dit beteken die matriekuitslae sal op 14 Januarie in die media gepubliseer word nadat dit die vorige dag, Maandag 13 Januarie 2025, bekendgemaak is.

Die IR se poging om die publikasie van die 2024-matriekuitslae in Suid-Afrika se koerante te keer, is deur die Pretoriase Hooggeregshof met koste van die hand gewys. Die aansoek is van die rol geskrap en die regter het bevind dit was nie dringend nie.

AfriForum het dit verwelkom dat die dringende aansoek van die IR om ’n interdik teen die openbare bekendmaking van die 2024-matriekuitslae te verkry, onsuksesvol was.

AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, het ook die uitspraak verwelkom.

“Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag die Inligtingsreguleerder se aansoek om die publikasie van matriekuitslae van die rol te verhoed met ’n bestraffende kostebevel geskrap en in die guns van AfriForum en die Departement van Basiese Onderwys beslis. Welgedaan aan AfriForum se regspan en onderwysafdeling!” het Kriel getwiet.

Die saak is Dinsdag aangehoor en regter Ronèl Tolmay het gister (Woensdag) die uitspraak ten gunste van die publikasie van die uitslae gelewer. AfriForum en verskeie ander groepe is as belanghebbende partye tot die IR se saak teen die Departement van Basiese Onderwys gevoeg.

Die IR het aangevoer dat  die bekendmaking van die matriekuitslae in openbare media ’n skending van matrikulante se reg op privaatheid is. Daarteenoor het die regter beslis dat dit in openbare belang is en dat die openbare bekendmaking daarvan moet voortgaan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het AfriForum en ander partye ook in 2022 geslaag met ’n saak oor dieselfde kwessie. ’n Bevel is toe uitgereik dat die uitslae wel gepubliseer moet word.

AfriForum sê in ’n verklaring die saak, waar daar oor die meriete van die weerhouding of publikasie beslis sal word, sal later in die jaar volg, maar die dringende aansoek was nou nodig sodat daar duidelikheid kon wees of die uitslae volgende week in koerante en op ander openbare platforms gepubliseer mag word, al dan nie.

“Die uitspraak is ’n oorwinning vir die matrikulante vir wie die bekendmaking van hulle uitslae op hierdie wyse van groot belang is. Dit is ook deel van die groter gesprek wat nodig is om die onderskeid tussen die reg op privaatheid en openbare belang duideliker te omlyn,” het Bailey na afloop van die saak gesê.

Regter Tolmay het in haar uitspraak gesê daar is geen bewyse van gevolge wat voor haar in die hof geplaas is nie en die effek van die besluit op kandidate moes die middelpunt gewees het. “Die saak is nie dringend nie en moet van die rol geskrap word,” het sy gesê.

Die regstryd hou verband met ’n bevel wat die Hooggeregshof in Januarie 2022 uitgereik het vir die Departement om matriekuitslae in die media te publiseer, maar om kandidate se name weg te laat.

Die IR het aangevoer dat die gebruik van kandidaatnommers in die vrystelling van resultate in die media steeds die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) oortree.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top