Inperking het ekonomie onberekenbare skade berokken

  • 0

Die landbou-organisasie Saai het sy stem gevoeg by diegene wat meen die verslapping van die inperkingsregulasies wat die naweek deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is, is te laat en te min.

Saai sê in ’n mediaverklaring die President se aankondiging dat inperkingsregulasies verslap word om die ekonomiese skade wat die regering se oordrewe staat van inperking veroorsaak het, te beperk, is vir baie boere, landboubedrywe en waardekettings te min en te laat.

Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê vir die wildbedryf, wat reeds deur die afwesigheid van buitelandse trofeejagters vermink is, was die onverklaarbare verbod op interprovinsiale reise vir plaaslike jagters (te midde van ’n bedeling waar taxipassasiers op dieselfde roetes vervoer mag word) ’n nekslag.

Hy sê die tradisionele jagseisoen is byna verby en honderde wildplase is in ’n finansiële krisis gedompel met duisende werkverliese stroomop en stroomaf in die waardeketting.

“Soortgelyke werkverliese het reeds ’n maatskaplike krisis tot gevolg in die wynbedryf, waar die verlies aan besigheid nie net tot die 2020-produksiejaar beperk is nie. Oorvol kelders het nie bergingskapasiteit in tenks en vate nie en het produsente reeds in kennis gestel dat hulle nie 2021-kwotas kan toeken nie.

“’n Plaas kan nie vir ’n jaar gesluit word nie en baie min familieboere kan twee agtereenvolgende jare se verlies aan inkomste of omset oorleef,” sê De Jager.

Die tabakboere en hulle werkers wat deur 20 weke se sigaretverbod tot kontantvloeikrisisse gedoem is, is volgens Saai se verklaring ontsteld oor die opsigtelik gebrekkige navorsing en data waarop die besluit om rook te verbied, gegrond was.

“Die argumente en inligting wat Nkosazana Dlamini-Zuma in Saai, BATSA en ander se hofaansoeke gebruik het om die verbod op die verkoop van sigarette te regverdig, is ver van die werklikheid van ’n afgetakelde waardeketting waarin miljarde se staatsinkomste verlore gaan en ondernemings, boerderye en werkgeleenthede nie kan oorleef nie.”

Saai sê die afgelope naweek se aankondigings was nie ’n verrassing nie, gegewe die druk van die hofaansoeke in die tabak-, jag- en wynbedryf wat Saai aanhangig gemaak het en die swak argumente en datastelle waarop die regering sy verdediging gebaseer het.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, deel Saai se sentiment. Groenewald sê dit was nie goeie leierskap nie, maar omstandighede wat die President  gedwing het om die drakoniese inperkingsregulasies aansienlik te verslap.

Groenewald sê dit is duidelik dat die talle regsgedinge wat teen die regering aanhangig gemaak is, insluitend die hofaansoek van die VF Plus, druk op die regering laat toeneem het tot so ’n mate dat hy toegewings moet maak. Hy het die vlakverlaging verwelkom, maar sê ook dit is te min en te laat.

Die tabakvereniging Fita sê hoewel hulle verlig is oor die verslapping van maatreëls, het die bedryf reeds groot verliese gely. Die voorsitter van Fita, Sinenhlanhla Mnguni, sê na vyf maande sonder verkope gaan dit ’n logistieke uitdaging wees om te verseker dat alle verskaffers betyds voldoende voorraad het, volgens ’n berig op RSG.

Groenewald sê die skade wat reeds aan die ekonomie aangerig is, is enorm en VF Plus kan nie ’n vinnige herstel daarvan voorsien onder ’n ANC-regering nie, gegewe die feit dat die ekonomie reeds voor die pandemie tot rommelstatus versleg het.

"Die fiskus het in die laaste maande miljarde rand verloor want eindelik van die belastingbetaler verhaal sal word. Miljoene werksgeleenthede het verlore gegaan in ’n arbeidsomgewing waar werkloosheid voor die inperking reeds kritieke vlakke bereik het.

"Dit raak ook toenemend duidelik dat die regering in werklikheid beheer word deur Cosatu van buite en van binne deur sekere enkelinge in sy kabinet soos minister Nkosazana Dlamini-Zuma.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top