Marianne de Jager is lief vir reis. Toe slaan die pandemie toe, grense word gesluit en mense word ingeperk. De Jager het egter aanhou reis. Die oomblik toe ons toegelaat is om weer in ons onmiddellike omgewing te begin stap, het sy Europa aangedurf. Dié keer virtueel.
*
Gee ons asseblief ’n bondige opsomming van jou reise voor die pandemie die wêreld stil gemaak het?
Die meeste van my reise is familieverwant. Met neefs en niggies in Nederland, ’n dogter in Duitsland en ’n suster in Kanada gaan die wêreld makliker oop en mens het verblyf!
Ek is in Nederland gebore en as student het ek saam met my ouers die familie daar besoek. Toe reeds het ek geleer om die tyd in die Noordelike Halfrond te benut. Ons het ook Rome, Athene, Parys en Zürich besoek. [Let op, hulle het stede besoek!] Ek het gevra om ook Israel te besoek.
Na my man oorlede is en die kinders onafhanklik was, het ek weer my vlerke gesprei: Engeland (weens kerkmusiek), die Hooglande van Skotland (vriende), Nederland (familie), Duitsland (familie), Vancouver-eiland (my sus), Nieu-Seeland (’n stiefdogter) ...
In Afrika het ek al die Kgalagadi, die Caprivi en die Serengeti besoek. In Suid-Afrika reis ek soos nodig, maar in 2012 het ek agt weke lank met my motor deur die land getoer.
Ek het ook twee musiektoere deur Europa onderneem, met die passasiersboot na St Helena gegaan, en van Vancouver is ek na Alaska, en les bes in 2019 na Suid-Amerika!
Jy reis op ’n Nederlandse paspoort, so dit is vir jou so maklik om Europa toe te vlieg soos dit vir my is om na Gauteng te vlieg, nie waar nie?
Dis reg. Omdat ek in Nederland gebore is, kon ek ’n Nederlandse paspoort kry. Dit maak die voorbereiding van ’n reis baie, baie makliker!
Maar goed. Toe word alle grense gesluit en jy begin die Camino de Santiago stap. Hoe het dit gebeur?
Ek hou van voetslaan en woon reg oorkant die uMngenivallei-natuurreservaat. Dit was ook tydens ons inperkings gesluit.
Selfs voor die inperkings het ek nie altyd die motivering gehad om hier in ons omgewing te stap nie en het ek agtergekom my fiksheid is besig om af te neem. Toe ek op Facebook afkom op hierdie idee van virtuele reise, was dit net wat ek nodig gehad het. Boonop het die Camino de Santiago de Compostella my lankal gefassineer en het ek heelwat gelees daaroor. Dit het my na die ideale geleentheid gelyk om twee vlieë met een klap te slaan: my fiksheid te herwin en om die Camino (virtueel) te beleef.
Jy stap dus al die kilometers, maar jy stap dit in jou eie omgewing?
Meestal, ja. Maar ek stap waar ek gaan en gebruik ’n toep op my foon om die afstand te meet. In die Drakensberge (ek hóú van die berge), in Johannesburg tydens ’n kuier by my jongste dogter...
Die toep gebruik GPS en wanneer ek klaar gestap het, kommunikeer dit via data of WiFi direk die afstand met die Conquerer-toep! Tegnologie is knap.
Ek is gefassineer deur die poskaarte wat jy so gereeld kry langs die pad. Vertel meer asseblief?
Dis ’n oulike aspek van die CONQUEROR-virtuele reise. Vanaf sekere punte op jou reis kry jy ’n “poskaart” van die dorp of streek waar jy gestap het, kompleet met jou foto en die korrekte datumstempel van jou besoek! Dit kan mens dan stuur aan familie en vriende. Maar meer as dit. Jy kry ook inligting oor die streek as deel van ’n e-pos.
Was dit interessant om meer te leer van die omgewing waardeur jy – virtueel – gestap het?
Ek is van nature nuuskierig en ook op fisiese reise gesels ek graag met plaaslike mense. Op die virtuele reis sien jy jou vordering op die kaart, en kan jy ook beeldmateriaal kry – 360˚! – van waar jy is. Dikwels het ek ook van die plekke gegoogle vir meer inligting en foto’s. Dit was só interessant! Boonop was dit sonder die ongerief van slaapplek en etes soek, en glo my, die Camino is deesdae so populêr, dat slaapplek blykbaar ’n groot probleem is.
Aan die einde van die reis het jy ’n werklike medalje ontvang, nie waar nie?
Daardie medalje is my trots! Dit het met die pos gekom.
Die Camino was nie die laaste van jou virtuele reise nie. Wat het daarna gevolg?
In Nieu-Zeeland het ek virtueel in die Suid-Eiland gestap, van Mount Cook in die weste tot by die kus van die Stille Oseaan in die ooste. Daarna ’n kort virtuele stap van 66 km in Nederland, die sogenaamde blommeroete. Die Romantiese Roete in die suide van Duitsland het gevolg en ek het nou medaljes van al drie.
Tans stap ek die St Francis pelgrimsroete in Italië, van Florence via Assisi na Rome. Dit doen my goed.
Jy skets graag as jy in die veld loop. Het jy tydens jou virtuele reise ook geskets?
Dis ’n manier om ’n plek wat interessant is beter te onthou. Wanneer ek tyd het, skets ek graag van die plekke wat ek interessant vind.
Is dit iets wat jy sou aanbeveel aan ander?
Absoluut! Trouens, heelwat van my vriende en kennisse het navraag gedoen en het self so begin stap. Een vriendin het byvoorbeeld die hele omtrek van Ysland gestap na aanleiding van my El Camino.
Die maatskappy doen boonop heelwat vir die omgewing. Vir elke 20% van enige roete wat jy voltooi, plant hulle ’n boom. Elke voltooide staptog beteken dus vyf bome. Of, in plaas van bome kan jy ook kies dat ’n sekere hoeveelheid plastiek uit die see gehaal word.
Hoe kan lesers wat belangstel ook virtueel begin reis?
The Conqueror Challenges is beskikbaar op Facebook. Hulle het ’n webruimte. Mens kan ook eenvoudig op die internet soek na THE CONQUEROR.