Jy en Wagter mag nie om die blok gaan stap terwyl die land vir minstens die volgende drie weke in ’n staat van inperking verkeer nie. Jy mag ook nie gaan draf nie. Die feit dat almal drie weke by die huis moet bly, beteken nie die hele land is nou met vakansie nie.
Aanvanklik het die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, Woensdag gesê dit is in orde as mense gedurende die volgende drie weke hulle hond vir ’n stappie om die blok neem of ’n entjie gaan draf.
#ZweliMkhize says there's no problem with jogging, walking the dogs and going to the grocery store during the #SouthAfricaLockdown.
He says the lockdown is to avoid congregating in large numbers. #Covid19SA #CoronavirusInSA— National Health Insurance - NHI (@NationalNhi) March 25, 2020
Die minister van polisie, Bheki Cele, het egter gou ’n stokkie daarvoor gesteek. Hy sê geen stappery of drawwery in die openbaar sal toegelaat word nie. As jy jou hond vir ’n wandeling wil neem, doen dit in jou erf, het Cele gesê.
JUST IN: Police Minister Bheki Cele has announced that there will be no dog walks, no jogging, no alcohol buying and no restaurants allowed during the 21-day lockdown.
Story to follow. https://t.co/mO7YJwfKY7 pic.twitter.com/D5KXRIQLPz
— IOL News (@IOL) March 25, 2020
Moet ook nie dink jy mag maar die bure nooi vir ’n wilde partytjie by jou huis nie. Diegene wat die regulasies oortree, kan tot ses maande tronkstraf gevonnis word of beboet word. En as jy lief is vir jou drankie, sorg dat jou drankkabinet teen Donderdagaand genoeg voorraad vir die volgende drie weke het. Drankwinkels sal toe wees, asook daardie dele in supermarkte wat drank verkoop. Die regulasies is Woensdag in die Staatskoerant gedruk.
Restaurants and liquor stores will be shut down: Bheki Cele on governments measure on #SouthAfricaLockdown pic.twitter.com/LNZUaT57BZ
— eNCA (@eNCA) March 25, 2020
Mkhize het Woensdag tydens ’n gesprek op die TV-program Morning Live gesê die regering sal nie huiwer om enige skuiwergate in die regulasies toe maak as mense dit misbruik om die staat van inperking te probeer omseil nie.
“Hierdie virus sal nie deur dokters en verpleegsters verslaan word nie, dit sal verslaan word deur ons mense,” het die Minister gesê. Hy het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om gedurende dié tyd ’n sosiale afstand met ander mense te handhaaf en die nodige higiëniese maatreëls te tref, soos om gereeld hulle hande te was.
Hy sê as mense groot partytjies met vriende in die huis wil hou, skep dit probleme. “Wat ons wil verhoed, is dat mense in groot getalle saamdrom of paniekaankope doen.” Hy het dit beklemtoon dat die inperking nie beteken die President het die land drie weke vakansie gegee nie. Die Minister het gewaarsku dat mense nie die inperkingsmaatreëls ligtelik moet opneem nie.
"I'm worried about people who will take this lightly," #ZweliMkhize says about the #21daysLockdown. He warns against people inviting friends and family over to their homes for social activities. #CoronavirusInSA #Covid19SA
— National Health Insurance - NHI (@NationalNhi) March 25, 2020
Mkhize het op Morning Live vrae van die publiek beantwoord oor die moets en moenies waarvan die publiek moet kennis dra tydens die staat van inperking.
Diegene wat gehoop het om wegneemetes te bestel tydens die drie weke van inperking, sal maar die resepteboeke moet nadersleep. Net soos alle restaurante en openbare eetplekke moet sluit, sal daar geen wegneemrestaurante oop wees nie, en ook sal geen tuisaflewerings van wegneemeetplekke toegelaat word nie.
Die COVID-19-gevalle in Suid-Afrika het skerp gestyg en het Woensdag die 700-merk oorskry toe die aantal mense wat positief gediagnoseer is, binne 24 uur met 155 gevalle toegeneem het.
Teen Woensdag was daar nog geen sterftes in Suid-Afrika as gevolg van die siekte nie. Twee mense wat die siekte opgedoen het, was reeds kritiek. Die stad in Suid-Afrika waar daar tans die grootste kommer oor die koronavirus is, is Bloemfontein, gevolg deur Kaapstad en Johannesburg, waar die infeksies besig is om te versprei. Die land se inwoners moet hulle daarop voorberei dat die getal geïnfekteerde persone nog aansienlik sal styg voordat dit hopelik sal begin afplat as gevolg van die landwye inperking wat Donderdag om middernag in werking tree.
Die meeste openbare plekke in die land het reeds Woensdag begin sluit. Dit sluit feitlik alle strande in, asook Sanparke, museums, restaurante en ander kuier- of ontspanningsplekke soos teaters en sportgeriewe. Wetstoepassers in Kaapstad het Woensdag reeds hulle hande vol gehad om mense van die strande af te hou toe die strande gesluit is.
Openbare vervoer word ook tot slegs die noodsaaklike beperk. Mkhize sê alles moet gedoen word om te verhoed dat die virus verder versprei, en die inperking wil ook verhoed dat groot getalle mense in taxi’s of treine reis.
RSG berig dat mynmaatskappye hulle gereed maak vir die negatiewe impak wat die 21 dae van afsondering op die bedryf gaan hê. ’n Mynontleder, Johan Meyer, waarsku dat daar ’n onverwagse styging in koste gaan wees tesame met produksieverliese. Die moontlikheid van die oordrag van die virus in Suid-Afrika is groot weens duisende mynwerkers wat oorwegend in beperkte ruimtes werk.
’n Vergadering tussen die hoofsekretaris van Saftu, Zwelinzima Vavi, en die President om die situasie van mynwerkers te bespreek, is intussen voorlopig gekanselleer.
Buro: MvH