Internasionale woede oor Suid-Afrikaanse vrou wat kameelperd skiet

  • 0

Foto: Pixabay.com

Diereliefhebbers wêreldwyd is woedend vir ’n Suid-Afrikaanse vou wat op Facebook daarmee spog hoe sy ’n kameelperd op Valentynsdag doodgeskiet en met die dooie dier se hart vir foto’s geposeer het.

Die 32-jarige Merelize van der Merwe is min gesteurd oor die wêreldwye negatiewe reaksie en haatpos wat op haar Facebook-blad en elders geplaas word. Sy dryf die spot met diegene wat haar kritiseer asook met die media wat negatief daaroor berig. Die foto van haar en die dooie kameelperd wat sy geskiet het, pryk steeds as dekfoto op haar Facebook-blad.

In haar aanvanklike inskrywing het Van der Merwe gesê sy is in die wolke oor haar Valentynsgeskenk van haar man, naamlik die geleentheid om die kameelperd te skiet. Sy sê as trofeejagter wag sy al jare vir die geleentheid om ’n groot swart kameelperdbul te jag.

Haar man het geweet dit is haar droom en het die reëlings vir die jagtog getref toe hy gehoor het van die kameelperd wat beskikbaar is om te skiet.

Nadat sy foto’s en selfs ’n video op Facebook geplaas het hoe die statige kameelperd doodgeskiet word, het daar ’n storm op sosiale media losgebars. Verskeie internasionale publikasies het daaroor berig en sy is uit verskeie oorde skerp veroordeel.

Dit het haar egter geensins afgeskrik nie. Sy het die geleentheid aangegryp om in die bres te tree vir trofeejagters en beskou al die kritiek as ’n groot grap.

Sy sê mens mag ook nie meer oor die geskiedenis praat en trots wees daarop nie. “Wanneer jy ’n mening het word jy arrogant genoem en as jy jag val mense jou aan soos ’n klomp hiënas.”

Byna 30 000 mense het reeds ’n aanlyn petisie onderteken waarin gevra word dat haar Facebook-rekening gesluit word.

Hoewel sy ook steun op sosiale media ontvang vir haar uitgesproke standpunt ten gunste van trofeejag, was die meeste reaksies uiters negatief teenoor haar.

Sy hou vol dat sy is ’n trotse jagter is wat sal aanhou jag. “Ek is al deur honderde van hierdie sogenaamde emosionele aanvalle en dit bewys my punt dat niemand dit in my gesig sal kom sê nie.”

Mense moet hulle gevoelens prioritiseer, sê sy. “Daar is kinders daar buite wat verkrag word, mensehandel wat plaasvind en kindermolestering wat reg onder mense se neus plaasvind maar ek haal die voorblaaie regoor die wêreld oor ’n kameelperd wat weens ouderdom op die punt was om dood te gaan.”

Al die negatiewe publisiteit is vir haar soos water op ’n eend se rug. Sy laat haar ook nie afskrik deur diereregte-aktiviste nie. “Ek is nie bang vir ‘sh$*’ veral nie vir diereregte aktiviste wat nog by mamma woon nie. Hulle raak op hol oor alles en gaan koop dan hulle vleis by die supermark want geen dier word mos daar seergemaak nie.”

By ’n foto van haarself met ’n blikkie bier in die hand wat sy op Facebook gepos het, sê Van der Merwe sy hoop sy kry ’n deel van die wins wat Kleenex maak as gevolg van al die “emosioneel onstabiele” mense daar buite wat so tekere gaan oor haar optrede.

While I make headlines across the globe thought I'll take a second to have a beer and enjoy our game farm. I hope...

Posted by Merelize van der Merwe on Tuesday, February 23, 2021

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top