Internetvryer swendel miljoene uit verliefde vrou

  • 0

Die polisie het veral vroue gemaan om waaksaam te bly om nie die prooi te word van swendelaars wat hulle die maan en die sterre beloof, maar in werklikheid besig is om hulle uit al hulle geld te bedrieg nie. Dit volg nadat die polisie se handelsmisdaadondersoekeenheid ’n vermeende romanseswendelaar in hegtenis geneem het wat ’n vrou na bewering uit ’n geraamde R24 miljoen bedrieg het.

’n Romansebedrogspul is ’n skema waar individue wat hulle dikwels as potensiële romantiese vennote voordoen, emosies manipuleer om vertroue te vestig voordat hulle slagoffers finansieel uitbuit. Hierdie swendelary behels tipies die skep van ’n valse identiteit op die internet, die bou van ’n romantiese verbintenis, en dan versoeke vir geld of finansiële bystand onder valse voorwendsels.

Polisielede verbonde aan die handelsmisdaadondersoekeenheid het die afgelope Dinsdag, 5 Maart, ’n multidissiplinêre operasie uitgevoer wat gelei het tot die arrestasie van ’n 42-jarige Nigeriese burger in Kaapstad.

Die man is in Charing Crescent, Parklands, in Table View in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting in die landdroshof in Kaapstad verskyn sodra hy formeel van bedrog aangekla word.

Volgens die polisie het die klaagster, ’n Kanadese burger, in 2022 ’n romansebedrogspul aangemeld waarin sy aangedui het dat sy ’n onbekende persoon op sosiale media, bekend as Raymond Butler, ontmoet het.

Die verdagte het met haar bevriend geraak en hulle het via ’n bekende webwerf en later privaat begin gesels. Die digitale verhouding het so uitgebrei dat die verdagte haar oorreed het om R24 miljoen in ’n projek in die buiteland te belê.

Die ondersoekbeampte het die relevante inligting opgevolg en ’n deurbraak gemaak toe hy die bovermelde Nigeriër in hegtenis neem.

Die polisie sê in ’n verklaring veral vroue moet versigtig wees om om nie die prooi te word van swendelaars wat hul lewens met die belofte van liefde wil betree om hulle uit hul geld te bedrieg nie.

Die volgende wenke kan vroue help om moontlike afspraakswendelaars te identifiseer:

  • Hulle lyk en klink baie sorgsaam en verantwoordelik.
  • Hulle kom altyd met besigheidvoorstelle.
  • Hulle wil nie hê hul foto’s moet geneem word nie.
  • Hulle wil jou nie in ’n openbare plek ontmoet nie.
  • Hulle steek altyd hul identifikasiedokumente weg.
  • Hulle stel jou nie aan hul families voor nie.
  • Hulle wil alles in ’n verhouding besit.
  • Hulle neem jou nie na hul regte huis nie.
  • Hulle kom altyd met teenstrydige stories.

Daar word geraam dat 440 miljoen mense teen 2027 aanlynafspraak-toepassings sal gebruik om liefde te vind, wat dit een van die primêre katalisators maak om verhoudings te begin. Daar word voorspel dat Suid-Afrikaanse aanlynafspraakwebwerwe teen 2028 8,9 miljoen gebruikers sal hê.

Hoewel daar ook suksesstories is wat uit sulke verhoudings spruit, bly dit ’n teelaarde vir swendelary waar mense se vertroue vir finansiële gewin uitgebuit word.

’n Studie wat deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) gedoen is, het bevind dat die waarde van romanse- en sake-e-pos-swendelary in 2022 R125 miljoen bereik het.

Terwyl gewilde sogenaamde dating apps wat wêreldwyd gebruik word – soos Tinder, Plenty of Fish Dating en OkCupid – dit makliker gemaak het om afsprake te kry, skep dit ook nuwe risiko's om liefde te vind.

Met al hoe meer mense wat hulle tot aanlyn afsprake wend om nuwe mense te ontmoet, waarsku sekuriteitkenners teen die toenemende risiko's om die slagoffer te word van gesofistikeerde romanseswendelary, wat veral deur die opkoms van KI en generatiewe-KI-gereedskap moontlik gemaak word.

Volgens navorsing wat deur Lloyd’s Bank gedoen is, het die aantal mense wat in 2023 die prooi geword het van romanseswendelary met 22 persent toegeneem vergeleke met die jaar tevore.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top