Suid-Afrikaners is keelvol om op te dok vir munisipale dienste wat nie gelewer word nie. Belastingbetalers wend hulle in al hoe groter getalle suksesvol tot die howe om te eis dat dienste gelewer word of neem self die beheer oor hulle dorpe se infrastruktuur oor.
Opposisiepartye skaar hulle by hierdie gemeenskapsgedrewe inisiatiewe. Die Vryheidsfront Plus sê in ’n verklaring dit raak nou ’n tendens dat belastingbetalers hulle tot die howe moet wend om ANC-beheerde munisipaliteite te dwing om basiese munisipale dienste te verskaf.
In die jongste voorval is die Modimolle-Mookgophong- plaaslike munisipaliteit deur die Hooggeregshof in Polokwane beveel om volhoubare watervoorsiening aan Naboomspruit, Thusang en Roedtan te lewer.
In die Noord-Kaap het die inwoners van Warrenton ook besluit om beheer oor te neem van hulle dorp se vervalle infrastruktuur en dienste. Die DA in die Noord-Kaap sê hy ondersteun die gemeenskapsgedrewe inisiatief om self vir dienste te sorg.
Die DA het ook ’n beroep op die ANC gedoen om die ANC-beheerde Sol Plaatjie-munisipaliteit onder administrasie te plaas omdat daar geen behoorlike dienste gelewer word nie.
Op verskeie plattelandse dorpe herstel inwoners self die slaggate in die paaie, asook watertoevoer en ander dienste wat die munisipaliteit se verantwoordelikheid is.
Op Standerton in Mpumalanga het die Valke onlangs toegeslaan om beweerde korrupte politici en amptenare in hegtenis te neem, en in Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap het munisipale dienste heeltemal ineengestort. Die Hooggeregshof het gelas dat die munisipaliteit ontbind en ’n verkiesing gehou word.
Op Koster en Swartruggens in Noordwes is die voorsiening van plaaslike water- en rioleringsdienste ook deur die hof tydelik aan die inwoners toegeken. Hierdie hofbevel volg kort nadat inwoners in die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit (Koster, Swartruggens en Derby) hulle teen groot onkoste tot die howe moes wend om die reg te verkry om self sekere dienste aan die gemeenskap te lewer.
Die Tswaing- plaaslike munisipaliteit wat Delareyville, Ottosdal en Sannieshof bedien, is nóg ’n voorbeeld van beweerde wanbestuur en korrupsie op plaaslikeregeringsvlak. Kontrakteurs het hofbevele bekom om op die munisipaliteit se roerende bates beslag te lê vir uitstaande skuld vir dienste gelewer.
Die howe het beveel dat die munisipaliteit se roerende bates op 11 April 2021 per openbare veiling verkoop moet word. Hierdie bates van miljoene rande sluit volgens ’n verklaring van die VF Plus vragmotors, trekkers, bakkies en kantoortoerusting soos 26 rekenaars, fotostaatmasjiene en meubels in.
Michal Groenewald van die VF Plus sê dit is ’n skande dat howe dienslewering in ANC-beheerde munisipaliteite moet afdwing. Hy sê die howe het die aangewese instansies geword om basiese dienste en die regte van betalende inwoners af te dwing.
“Dit is ’n skande dat belastingbetalers gedwing word om sulke ekstreme en duur regstappe te [doen] om bloot normaal-beskaafde vlakke van lewenstandaarde te kan handhaaf.”
Munisipaliteite onder ANC-beheer het nou ontaard in ’n netto las vir die land se inwoners, sê Groenewald. “Belastingbetalers betaal al hoe meer vir dienste wat hulle in baie gevalle geensins ontvang nie, terwyl plaaslike ANC-regeringslui hul uitspattige lewenstyle met belasting- en dienstegelde finansier en verder in ontkenning leef.”
Groenewald sê hierdie situasie hou ’n wesenlike bedreiging vir die land in, omdat inwoners moet ervaar hoe ’n klein korrupte ANC-elite hulself verryk terwyl munisipaliteite en die omgewing om hulle verval ten koste van die breër bevolking.
“Dit skrei in teen die wese van Suid-Afrika se demokratiese bestel en ondermyn die geloofwaardigheid van die land se uitvoerenderegeringsbestel onder alle inwoners.”
Hierdie opeenvolgende suksesvolle hofbevele teen ANC-beheerde plaaslike regerings, waar die howe in werklikheid byna noodgedwonge ’n uitvoerende regeringsfunksie vervul, ontbloot volgens Groenewald ’n ANC wat onherroeplik verval het tot ’n onbeholpe, onbekwame en korrupte regering. Hy sê kiesers moet in die komende plaaslikeregeringsverkiesing ’n verdoemende oordeel vel oor korrupte ANC-munisipaliteite om seker te maak hulle word vervang om plaaslike regering in Suid-Afrika se geloofwaardigheid te herstel.