Inwoners wil Bo-Kaap red

  • 0

Inwoners van die historiese Bo-Kaap veg hand en tand om hulle erfenis te behou en te keer dat ontwikkelaars dit vernietig.

Die Bo-Kaap is 'n deel van Kaapstad wat voorheen as die Maleierbuurt bekend gestaan het. Dit is aan die hange van Vlaeberg bo die middestad geleë en is die historiese sentrum van die Kaapse Maleierkultuur in Kaapstad. Die bevolking is ongeveer 6 000 waarvan ongeveer 90% Moslem is.

Die inwoners wil deur middel van ʼn hofsaak keer dat ontwikkelaars die buurt se karakter skend. Hulle eis dat die ontwikkeling gestaak word. Die Hooggeregshof in Kaapstad het die saak  vroeër die week tot Februarie volgende jaar uitgestel.

Die hofsaak volg nadat daar verlede maand gewelddadige betogings uitgebreek het toe inwoners wou verhoed dat die ontwikkelaars voorgaan met hulle bouwerk. Hulle  het verhoed dat die hyskraan na die bouperseel gaan en die polisie het vyf mense in hegtenis geneem maar die klagtes teen hulle is later laat vaar.

Volgens die voorsitter van die Bo-Kaap-belastingbetalersvereniging, Osman Shaboodien, het die verkope van die gebou en grond baie vinnig plaasgevind sonder die deelname van enige openbare deelnameproses.

Bo-Kaapse inwoners voer aan dat die ontwikkeling van die Bo-Kaap die erfenisgebied sal skend. Die beoogde ontwikkeling het wye reaksie by die publiek uitgelok en die regering het intussen ook ingegryp om die gebied tot ʼn erfenisgebied verklaar te kry.

Die Bo-Kaap het 10 moskees waarvan Auwal Moskee volgens oorlewering die eerste, en ook die oudste moskee in Suid-Afrika is. Daar is ook drie kramatte (Moslem-graftombes) en twee agter die Bo-Kaap op Vlaeberg. Die kramatte in die Bo-Kaap is geleë in die Tana Baru-begraafplaas wat in 1840 deur die Kaapse imams aangekoop is.

Die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het die afgelope week aangekondig dat daar met ʼn proses begin is om die ongeveer vierkante kilometer gebied aanstaande jaar as ʼn nasionale erfenisgebied te verklaar.

Die aankondiging is onder toejuiging deur die inwoners begroet tydens ʼn protesgeleentheid teen die hange van Vlaeberg wat deur die belastingbetalersvereniging gereël is.

Die minister sê die regering is ook van plan om by die Verenigde Nasies aansoek te doen dat die gebied as ʼn wêrelderfenisgebied verklaar word.

Die Bo-Kaap se karakter het reeds begin vorm aanneem tussen 1790 en 1840. Die huise word gekenmerk deur beide Nederlandse en Britse invloed. Die oudste huise word aangetref in die onderste deel van die Bo-Kaap tussen Dorpstraat en die strandgebied.

Die huise is meestal skakelhuise maar daar is ook vrystaande huise. Dit is veral die fasades van die huise wat saam met die plat dakke, stoepe en helder kleure die voorstad se unieke karakter bepaal. Huise is meestal omtrent 6 meter wyd. Sommige huise het 'n L-vorm met 'n klein tuin aan die agterkant. Vensters en vensterrame is meestal uit hout (djati- of dennehout) in Kaaps-Hollandse, Georgiaanse of Victoriaanse styl.

Weens die buurt se ligging so na aan die stad loer eiendomsontwikkelaars al lank daarna en is van die eiendomme reeds geïdentifiseer vir ontwikkeling.  Die tragedie is dat die unieke kultuur-historiese erfenis van die Bo-Kaap daardeur verlore gaan.

Van die inwoners sê egter hulle is bereid om hulle herinneringe en kultuur met hulle lewe te verdedig.

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top