Iranse oorlogkepe in Kaapstad kan tot sanksies lei, waarsku VSA

  • 0

Suid-Afrika se vriendskapsbande met lande soos Rusland en Iran en hulle militêre teenwoordigheid aan die Suid-Afrikaanse kus is besig om die wenkbroue van sy Westerse bondgenote al hoe meer te laat lig.

Enkele weke nadat ’n Russiese oorlogskip ten spyte van wye veroordeling deur kundiges, diplomate en aktiviste in Kaapstad se hawe vasgemeer het, het twee Iranse oorlogskepe verlede Vrydagoggend ook by die hawe aangekom.

Die skepe is verwelkom deur Iran se ambassadeur in Pretoria, Mehdi Aqa Jafari, en plaaslike amptenare.

Die Suid-Afrikaanse regering is wyd in die Westerse wêreld veroordeel omdat hulle vroeër vanjaar saam met China en Rusland deelgeneem het aan vlootoefeninge aan die Suid-Afrikaanse kus.

Die Iranse TV-netwerk Press TV berig die Iranse vloot se 86ste vloot oorlogskepe het by Kaapstad se hawe vasgemeer in ooreenstemming met die Islamitiese Republiek se pogings om sy vlootteenwoordigheid in internasionale waters uit te brei.

Foto: Pixabay

Iran se ambassadeur in Suid-Afrika het die sterk teenwoordigheid van die Islamitiese Republiek se “strategiese vloot” in die Atlantiese Oseaan verwelkom en Suid-Afrika se gasvryheid geprys. Hy het gesê die flottielje se missie sal beslis ’n belangrike rol speel in die “bevordering van globale vrede en stabiliteit en veiligheid van maritieme verbindingsroetes”.

Die Iranse diplomaat het opgemerk dat die besoek die hoë vlak van betrekkinge tussen die twee lande toon en baie sal help om samewerking tussen die twee lande se vlote verder te versterk.

Almal is egter nie so in hulle noppies met die Russiese en Iranse besoekers aan Suid-Afrika se kuslyn en hawens nie.

Die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Darren Bergman, sê die besluit deur die ANC-regering om oorlogskepe van Iran by die hawe van Kaapstad te laat vasmeer, het die risiko van sanksies teen Suid-Afrika deur die Weste aansienlik verhoog.

’n Nota wat deur die Amerikaanse ambassade aan die Internasionale Betrekkinge-komitee in die parlement gestuur is, waarsku Suid-Afrikaanse owerhede dat "entiteite en individue wat ondersteuning bied, insluitend maritieme dienste aan aangewese entiteite, onderworpe kan wees aan sanksiesrisiko onder Amerikaanse owerhede."

Bergman sê in ’n verklaring deur te kies om ’n swaar ekonomiese prys op Suid-Afrikaners te plaas vir sy roekelose steun aan internasionale pariaregimes soos Iran, wys die ANC-regering aktief dat hy nie meer in die beste belang van die land optree nie.

Die DA doen ’n beroep op die parlement se Internasionale Betrekkinge-komitee om te vra dat minister Naledi Pandor aan die komitee moet kom verduidelik waarom sy toegelaat het dat Iranse oorlogskepe by ’n Suid-Afrikaanse hawe aandoen ten spyte van waarskuwings van moontlike ekonomiese reperkussies deur die internasionale gemeenskap.

“Dit maak mens woedend dat ons nou ’n regering het wat alle voorgee van rasionaliteit laat vaar het en aktief Suid-Afrika se beeld in die buiteland in gevaar stel, eers deur te weier om Rusland se aanvalsoorlog in die Oekraïne te veroordeel en nou deur Iranse oorlogskepe toe te laat om by die hawe van Kaapstad vas te meer.”

Volgens Bergman is die Iranse regering nie net ’n misbruiker van menseregte op sy burgers nie, maar is hy jare reeds ’n groot destabiliserende mag in die Midde-Ooste en het hy aktief Rusland se oorlog in die Oekraïne ondersteun deur die verskaffing van militêre hardeware.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is op lewensondersteuning, en ekonomiese sanksies in enige vorm sal tot onvermydelike ineenstorting lei, waarsku die DA. “Dit is die prys wat die ANC wil hê dat Suid-Afrikaners moet betaal omdat hy betrekkinge met pariastate wil handhaaf wie se bydrae tot ons ekonomie weglaatbaar klein is.”

Bergman sê dit is verstommend om te sien hoe ver die ANC afgedwaal het van ’n veronderstelde menseregtegebaseerde buitelandse beleid na een waar die beskerming van Poetin en die Iranse outoritêre regime voorrang geniet. “Pandor se verdediging van die wêreld se outoritêre regimes kan nie meer toegelaat word om voort te gaan nie; sy moet nou rekenskap gee van haar rampspoedige standpunt oor buitelandse beleid,” het Bergman gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top