Irrasionele inperkings moet end kry

  • 0

Foto: Robin Higgins | Pixabay

Daar bestaan geen getuienis wat die regering se voortgesette verbod op drankverkope oor naweke ondersteun nie.

Dit was die reaksie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Eienaars van Drankhandelsmerke, Salba, op Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand dat drankwinkels weer Vrydae oop mag wees, maar steeds nie Saterdae en Sondae nie.

Salba sê in ’n verklaring die regering se rasionaal agter die besluit om alkoholverkope oor naweke steeds te verbied, is onduidelik. Die land is van Maandag na ’n aangepaste vlak 2-inperking geskuif.

Ingevolge die nuwe inperkingsmaatreëls mag drankhandelaars van Maandag tot Vrydag drank tussen tienuur soggens en sesuur saans verkoop. Alkohol by restaurante mag nou tot tienuur saans verkoop word.

Salba se voorsitter, Sibani Mngadi, sê nie een van die ministers of regeringsamptenare by Nedlac wat deur hulle gekontak is, kon enige regverdiging vir die besluit verskaf nie. Hulle kan ook nie wetenskaplike redes aanvoer om dit te ondersteun nie.

Die vereniging sê die beperkings op drankverkope het die verkoop van onwettige drank bevorder. Intussen gaan die wettige verkopers van drank swaar gebuk onder die “irrasionele  inperkingsmaatreëls” wat hulle benadeel. Hulle sê dit dra ook by tot georganiseerde misdaad, en dit bekommer die wettige drankbedryf.

Salba se bestuurshoof, Kurt Moore, sê dit is tyd om te fokus op die herstel van die land se ekonomie. Hy sê die drankbedryf beklemtoon wel hulle ondersteuning vir openbare opvoeding en bewusmaking wat mense aanmoedig om hulle te laat inent asook vir die reeds gevestigde maniere om die verspreiding van die virus te bekamp

Die DA het ook die verligting van die inperkingsmaatreëls in ’n verklaring verwelkom maar sê dit het nou tyd geword dat die President hom moet verbind tot die opheffing van alle inperkingsmaatreëls en ook die beëindiging van die ramptoestand.

Volgens die DA is die enigste rede vir voortgesette inperkings die geleentheid om aan jongmense ouer as 18 kans te gee om ook ingeënt te word. Aangesien die groep tussen 18 en 35 jaar nou ook toegang tot die vaksiene het en hulle sedert 20 Augustus kan laat inent, behoort daar op die laatste teen middel-November genoeg mense ingeënt te wees om alle inperkings op te hef, sê die DA in hulle verklaring.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê indien besighede weet daar sal geen inperkings of aandklokreël na 15 November wees nie, kan hulle begin met oorbruggingsplanne om hulle besighede in die aanloop tot dan te probeer red.

Steenhuisen sê die land se mense kan nie  onbepaald gyselaar gehou word deur die grille en giere van ’n groep mense wat ’n obsessie het om alles sentraal te wil beheer nie. Veral nie mense wat self nooit ’n besigheid bestuur het of ’n enkele werksgeleentheid geskep het nie en wie salarisse nooit in die gedrang is nie ongeag hoe swak hulle die pandemie bestuur. 

Steenhuisen sê indien Ramaphosa nie saamstem dit is wat gedoen moet word nie, moet hy en sy regering redes gee waarom nie.

“Suid-Afrikaners het buitengewone opofferings gemaak om aan die inperkingsregulasies, wat selde geregverdig was, te voldoen. Die President moet die land se mense in sy vertroue neem en verduidelik presies waarom hierdie opofferings langer moet voortduur,” het Steenhuisen gesê.

Die aangepaste vlak 2-inperking behels onder meer ook dat:

  • Die aandklokreël verkort word en van 23:00 tot 04:00 geld.
  • Alle sosiale, politieke, kulturele en godsdienstige byeenkomste nou tot 250 mense binne en 500 mense buite beperk word. Dit mag steeds nie 50% van die toelaatbare kapasiteit van ’n perseel oorskry nie.
  • Nie meer as 50 mense ’n begrafnis of verassing mag bywoon nie. Geen byeenkomste ná begrafnisse of nagwake word toegelaat nie.
  • Die nasionale ramptoestand tot 15 Oktober verleng word.

Die instel van entstofpaspoorte word tans ondersoek, wat onder andere beteken dat diegene wat teen die virus ingeënt is, voordeel sal trek uit aansporings soos die bywoning van musiekkonserte, sportwedstryde en meer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top