Foto: Pixabay.com
Die NG Kerk bevind hom op die oomblik op ’n moeilike plek. So sê die assessor of ondervoorsitter van die kerk se algemene sinode, Nioma Venter. Sy sê sy is ongemaklik en bekommerd oor die kerk.
Sy het by die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees gesê sy het geen idee waar die NG Kerk hom oor tien jaar gaan bevind nie.
Sy was deel van ’n paneelbespreking by die fees, en die gesprek het gehandel oor toekomsscenario’s van die NG Kerk.
Die gesprekleier, Johan van der Merwe, wou by die paneel van drie NG Kerk-dominees weet waar hulle die kerk in 2030 sien.
“’n Kerk wat irrelevant en weglaatbaar klein is? ’n Niskerk vir ’n groepie wat hunker na die verlede? Of ’n kerk wat floreer, divers is en onmisbaar in die samelewing.”
“Dinosourusse het uitgesterf omdat hulle nie kon aanpas nie. Maar hoeveel kan die kerk aanpas voor dit nie meer kerk is nie?” wou Van der Merwe by die paneel hoor. Nie een van die drie het hom regtig geantwoord nie.
Hulle was dit wel eens dat die NG Kerk oor tien jaar waarskynlik nog kleiner sal wees as tans en baie minder van ’n tradisionele kerk as op die oomblik.
Frederick Marais van die Fakulteit Teologie by die US sê die land het nie die NG Kerk nodig nie. Hy sê daar is groot dele van die kerk wat moet sterf. Marais stem saam dat die NG Kerk al hoe kleiner word, maar glo in die breër verband sal die kerk altyd daar wees.
Scherlize Hayes, van die NGK-gemeente Ysterplaat het vertel daar het slegs twee mense opgedaag het toe hulle ’n jeugaand in die gemeente wou hou. Volgens haar is daar egter geen kompetisie vir die NG Kerk in haar omgewing nie. Sy sê die jongmense daar gaan ook nie na die charismatiese kerke toe nie, want dit is te ver.
Sy glo die kerk moet meer diensbaar wees en fokus op die dinge wat saak maak, soos om die armes by te staan en ’n veilige ruimte te skep vir randfigure in die gemeenskap. Sy sê as dit nie gebeur nie, loop die kerk die gevaar om uit te sterf.
’n Lidmaat van die NG Kerk, Chris Fismer, het gesê hy dink dit is beter dat die kerk skeur en klaarkry. Fismer was parlementslid van die ou Nasionale Party. Hy sê die huidige situasie in die kerk herinner om aan die Nasionale Party voordat die party geskeur het. Hy meen dit is soms beter as daar ’n skeuring is wanneer daar onversoenbare standpunte is. Elkeen kan dan sy eie koers kies sonder dat daar kwade gevoelens hoef te wees.
’n Afgetrede NGK-dominee, FD Hugo, het gesê die kerk moet leer om aan te pas by die tye en die wetenskap ernstiger opneem. Hy sê dit lyk of die kerk elke keer 500 jaar terug beweeg en nie tred hou met die nuwe kennis tot sy beskikking nie. Hy het onder meer verwys na die kerk se hantering van die gaykwessie en sê hy kan nie verstaan dat daar nou nog daaroor getwis word nie.
Nog iemand in die gehoor het gesê die kerk se probleem is by die algemene sinode, want dis glo daar waar daar so baklei word. Sy meen die kerk het nie die algemene sinode nodig nie en sê dit behoort afgeskaf te word.
Buro: MvH