Is die skrif aan die muur vir Cyril?

  • 0

President Cyril Ramaphosa is besig om sy greep op die ANC te verloor. Al hoe meer politieke kenners meen die skrif is aan die muur wat sy politieke toekoms betref.

Die ANC se 108ste-verjaarsdagvieringe die afgelope naweek in Kimberley het verder daartoe bygedra om die President se hand te verswak. Die opkoms was veel swakker as wat verwag is en die berg het ’n muis gebaar. Volgens mediaberigte en bronne in die ANC self was dit die swakste opkoms ooit tydens een van die party se 8 Januarie-massabyeenkomste.

Foto: YouTube

Slegs ’n derde van die verwagte 35 000 mense het opgedaag om na Ramaphosa se 8 Januarie-toespraak te luister. Pleks van duidelike rigting te gee waarheen hy met die land op pad is, was sy toespraak volgens die meeste politieke kommentators gekenmerk deur retoriek wat totaal niksseggend was.

Daar word al hoe harder bespiegel dat Ramaphosa se uurglas besig om uit te loop en dat hy nie vir ’n tweede termyn as president herkies sal word nie.

Sy politieke vyande in die ANC, wat hoofsaaklik Zuma-gesindes is, slyp behoorlik hulle tande om van Ramaphosa ontslae te raak en hom na sy politieke graf te stuur.

Een van hulle is die omstrede Carl Niehaus, wat op Twitter kamma trane gestort het oor die swak opkoms by die ANC se verjaardagpartytjie. Eintlik het hy reeds lankal sy mes in vir Ramaphosa. Sy krokodiltrane op Twitter oor die swak opkoms is eerder ’n klap in Ramaphosa se gesig. Niehaus is ’n onbeskaamde Zuma-lojalis en maak geen geheim daarvan nie.

Hy het op Twitter gesê dit was die kleinste skare wat hy nog by ’n 8 Januarie-saamtrek gesien het en die skare se reaksie op Ramaphosa se toespraak was gedemp. “Die skrif is aan die muur, ons beter ons sokkies optrek voordat dit te laat is. Ek sê dit as ’n lojale maar baie bekommerde lid van die ANC,” het Niehaus getwiet.

Niehaus se twiet het ’n stortvloed reaksies uitgelok, waarvan die meeste baie negatief teenoor hom sowel as die ANC was. “Wat ek hier sien, is dat die ANC besig is om uitmekaar te val en nie weens faksiegevegte nie maar omdat hulle eenvoudig nie in staat is om dienste te lewer nie. Die lojale kiesers sterf tragies uit en die jeug kan regdeur die ANC sien. Die jeug stel nie belang in die ANC se herontwikkelingsprogram of toelaes nie, maar verlang billike geleenthede in die lewe,” het iemand met die gebruikersnaam FatherFace getwiet.

Iemand anders het getwiet: “Hulle is gatvol vir beloftes wat nie nagekom word nie, gatvol vir pryse wat styg, gatvol vir werkloosheid en gatvol vir bedrog, korrupsie en misdaad.”

Die rubriekskrywer Justice Malala het in die Sunday Times geskryf hy gaan nie eers probeer om Ramaphosa se 8 Januarie-toespraak te ontleed nie, omdat dit net ’n vervelige spoeg-en-plak-affêre van ou beloftes geword het.

Hy sê van Ramaphosa se vorige beloftes het daar weinig gekom, omdat sy politieke teenstanders in die ANC, soos die party se sekretaris-generaal Ace Magashule, as’t ware ’n parallelle organisasie binne die ANC bedryf. “Dit word gedryf deur ’n anti-Ramaphosa-faksie soos David Mabuza wat hom gereedmaak om Ramaphosa se werk oor te neem as staatshoof.”

Die politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, André Duvenhage, meen ook Ramaphosa se posisie as ANC-leier is in gevaar en dat Mabuza sy tande slyp om die land se nommer een te word. Duvenhage het aan Netwerk24 gesê die politieke en ekonomiese krisis in die land is groter as ooit.

Volgens hom kan wat die naweek in Kimberley gebeur het, gesien word as ’n sege vir die staatskapers. Hy sê dit is duidelik dat Mabuza hom weggedraai het van Ramaphosa af en hom nou by diegene skaar wat Ace Magashule steun.

Die Zuma-ondersteuners se hoop is glo daarop gevestig dat Magashule president van die land sal word en uiteindelik die Zondo-kommissie se werksaamhede en ondersoeke na staatskaping sal opskort en sodoende die skuldiges van moontlike vervolging sal vrywaar.

Buro: MvH
  • 0
Top