Is ’n filantroop met ’n skildery bedrieg?

  • 0

Afbeelding 1. Skildery, olieverf op doek. Die NOIK-vaarder Africa wat Tafelbaai binneseil. Deur die Nederlandse skilder Regnier Nooms (1623–1687) (sic), ook genoem Zeeman. (C 32/1 De Pass-versameling, Iziko Museums. Inligting en afbeelding deur Iziko Museums van Kaapstad vir publikasie verskaf.)

  • Woordverklaring: Die woord "reede" word gebruik soos in die outyd as die aangewese, uitverkose, beste en veiligste ankerplek vir skepe, en dié spelling word gebruik om verwarring met "rede" te vermy. 

Inleiding

Die onondertekende en ongedateerde skildery van ’n VOC-skip wat Tafelbaai binneseil vergesel van kleiner vaartuie, word in die hoofsaal by Groot Constantia, Kaapstad uitgestal. Die vergulde raam se buitemate is 187 cm x 112 cm. ’n Geelkoperplaatjie aan die raam is gegraveer: “The Dutch East Indiaman “Africa” by Regnier Zeeman. Presented by AA de Pass, 1931.”1

Die skilder, Regnier Zeeman (sic), is Reinier Nooms (1623–1664), ’n Nederlandse maritieme kunstenaar wat sommige van sy werke met die naam Zeeman onderteken het. Hy het die bynaam verwerf oor die nougesette besonderhede van sy etse en skilderye van skepe. Sy kennis van skeepsbou en vreemde hawens blyk uit sy buitengewone akkuraatheid, wat ook ander skilders as voorbeeld gedien het.2 Hoewel voorgaande aanhaling duidelik waar is ten opsigte van sy vele etse, wat met die noukeurige aandag aan besonderhede van ’n maritieme argitek uitgevoer is,3 is sy skilderye nie op die vlak van maritieme skilders soos Vroom en die Van de Veldes, vader en seun, nie. ’n Ander voorbeeld van Nooms se styl kan gesien word in sy Before the battle of the Downs, 21 October 1639 in die National Maritime Museum, Greenwich. Tussen dié seetoneel met admiraal Tromp se vlagskip Amalia en dié van Africa in Constantia, is sekere ooreenkomste waarna ek hier onder sal verwys.

Die skenker

Die skenker, Alfred Aaron de Pass (1861–1952), was die seun van ’n pionier-suikerboer in Natal en kleinseun van ’n skeepseienaar wat sy fortuin uit die vis- en guanohandel op die Suidwes-Afrikaanse (nou Namibiese) kus gemaak het.4 De Pass, wat in Suid-Afrika en in Engeland gewoon het, het op die ouderdom van 27 jaar kunsvoorwerpe begin versamel. Hy het sy fortuin aan skilderye, keramiek, silwer en meubels van die hoogste gehalte bestee en dit dan aan museums in Suid-Afrika en in Engeland geskenk, waardeur onder andere die Tate Art Gallery, National Gallery, Bristol Museum, Plymouth City Museum en Fitzwilliam Museum in Cambridge by sy vrygewigheid gebaat het.

In 1926, terwyl Constantia se opstal herbou is nadat die ou huis totaal afgebrand het, het De Pass die argitek F Kendall genader met ’n aanbod om die nuwe gebou te meubileer. Vir dié doel het hy skilderye, keramiek en meubels van so na as moontlik aan die Simon van der Stel-tydperk (1685–1712), toe die plaas ontstaan het, aangekoop. ’n Geelkoperplaat in Constantia se ontvangsportaal herinner besoekers daaraan dat De Pass die nuwe gebou gemeubileer het as ’n geskenk aan die mense van Suid-Afrika.

De Pass het gewoonlik op die mees befaamde handelaars en afslaers soos Ashbey’s van Kaapstad en Spink and Son van Londen vir sy aankope vertrou. Op 23 Desember 1931 stuur hy aan J Herold, die opsigter (soos Constantia se kurator destyds genoem is), ’n eksemplaar van die London Daily News van 11 Desember 1931, waarin ’n afdruk is van Reinier Zeeman se skildery van die VOC-skip Africa wat Tafelbaai binneseil, wat hy vir die opstal gekoop het. Hy skryf in Februarie 1932 weer aan Herold om te verneem of die nuwe kunswerk so goed is as sy ander NOIK-vaarder, deur Vroom geskilder, omdat hy te siek was om Londen toe te reis toe dit deur Spink and Son aangebied is.5 Caveat emptor! Het die kunshandelaar die afwesige koper gewaarsku dat hulle nie van die skilder se identiteit oortuig is nie?

Historiese agtergrond

Die VOC (1602–1798) het in 1652 ’n maritieme aanvullingsdiens in Tafelbaai gevestig, waarvan die direkteure herstelwerk aan sy skepe op hul hoogs winsgewende reise tussen Europa en Asië verwag het, sowel as voedsel, brandhout, water en mediese behandeling vir sy personeel, onder die bestuur van ’n spaarsame, vlytige, vindingryke en doeltreffende administrasie. Die beskrywing “verversingspos” vir die diensstasie is ’n uitgediende en waardelose term. Die Kaapse diensstasie se taak was aanvulling, verdediging, land- en seevervoer, skeepsherstelwerk, tuinbou, landbou, veeteelt, bosbou, brandstofvoorsiening, plaaslike bestuur, rassepolitiek, kommunikasie, ontdekking, ens. Die skeepsdiens is uit ’n fort op die Tafelbaaise strand bestuur. ’n Kasteel, in 1665 begin, het later die ontoereikende fort vervang. In 1658 is ’n kaai wes van die fort gebou. ’n Groter kaai, wat gereeld verleng moes word, is in 1687 by die nuwe kasteel begin.

Diensbote (“ligters”) het vrag, voorraad en passasiers tussen skepe en die kaai vervoer. In 1673, toe Nederland tegelykertyd teen Frankryk, Engeland en die Münsterse biskopdomme in oorlog verkeer het, is maste vir seinvlae op Leeukop en Vlaeberg geplant. In 1674 is vrede met Engeland gesluit maar die stryd teen Frankryk het voortgegaan. Die nuwe kasteel is in Julie 1674 betrek toe die Kompanjie se fortifikasies en pakhuise sowel as vryburgers se woonhuise reeds na die kante van die Tafelvallei uitgestrek het.

Die VOC het twee skepe met die naam Africa besit. Die eerste, ’n Oosindiëvaarder van 1 100 ton, is in 1673 in die Kompanjie se Rotterdamse skeepswerf gebou. Die tweede, ’n Franse oorlogskip genaamd Le Coche wat in 1689 in Tafelbaai gebuit is, is tot Africa hernoem en aan die Amsterdamse kamer oorhandig.6

Die skip Africa was op 1 100 ton een van die heel grootste tipes Oosindiëvaarders, wat uiterlik nie veel van oorlogskepe verskil het nie. Dit is gebou toe die staat handelskepe vir militêre diens kon kommandeer en is swaar bewapen om ook as oorlogskip te dien. Daar was byvoorbeeld 21 handelskepe aan Nederlandse kant in die groot seeslag by Lowestoft in 1665. Vier van hulle, Maerseveen (78 kanonne), Orangie (76), Delftland (70) en Huys te Swieten (70), was almal 170 voet lank, groter as die oorlogskepe, en ewe swaar bewapen.7 In vredestyd is omtrent twee-derdes van die kanonne, met hul affuite, talies en gereedskap weer uit handelskepe verwyder ter wille van groter vragruim en meer spoed.

Die eerste van Africa se vier Oosterse vaarte was ook sy enigste onder Kamer Rotterdam se groen-en-wit-gestreepte vlag. Dit het Goeree in die Maas-delta op 26 Junie 1674 verlaat op die uitwaartse skof van sy reis, onder bevel van skipper Cornelis Blankerood. Daar was 321 mense aan boord, van wie sewe oorlede is gedurende die tog, wat gedwonge besoeke aan Kaap Lopez, São Tomé en Saldanhabaai ingesluit het. Dit is nie bekend waarom hy ’n noodbesoek aan Saldanhabaai, ’n enkele dag se seil van Tafelbaai af, gebring het nie. Hy het Tafelbaai op 15 Januarie 1675, na byna sewe maande op see, ingeseil en tot 5 Februarie daar vertoef, toe hy sy reis na Batavia hervat het.8

Elke skip se aankoms, toestand en die aantal ongevalle is getrou in die Kaapse Daghregister aangeteken vir die direkteure se inligting. Die besoekende skipper en plaaslike administrateur het per brief gekommunikeer (“Inkomende Brieven” en “Uitgaande Brieven”) rakende sake van gesondheid, herstelwerk en aanvulling. Beëdigde verklarings (“Attestatiën”) is opgestel, beëdig, onderteken en deur getuies medeonderteken as bewys van dienste aan skepe gelewer. Sulke dokumentasie vir die jaar 1675 ontbreek in die Kaapse Argiefbewaarplek. En tog was Africa op die Kaapse reede; die dokumentasie van sy besoek, afgesien van die betrokke Daghregister in die Nationaal Archief, Den Haag en ’n skildery toegeskryf aan Nooms, is ’n enkele geskrewe reël: “Per Africa 15 Janu ontfangen”, op ’n andersins blanko vel in die afdeling gemerk “Dokumente wat nie geplaas kon word nie” agter in ’n bundel Inkomende Brieven in die Kaapse Argiefbewaarplek.9

Africa se besoek aan Tafelbaai onder ’n Rotterdamse vlag is dus ’n verifieerbare historiese gebeurtenis.

Sy volgende besoek aan Tafelbaai was van 4 Februarie tot 18 Maart 1676 op die retoervaart van Oos-Indië af Nederland toe, onder skipper Zwart. Op sy tweede Oos-Indiese reis was hy onder die Amsterdamse vlag, onder skipper Van der Kamme en het die Kaap op die heenreis van 16 tot 31 Julie 1677 aangedoen en weer op die retoerreis onder skipper Vonck van 14 Mei af tot 1 Junie 1679. Sy derde reis was weer onder die Amsterdamse vlag; op die heenreis onder skipper Wildvank het hy van 18 September tot 18 November 1680 op die Kaapse reede vertoef en op die retoerreis (onder skipper Van Eyk) van 16 Februarie tot 28 April 1682. Sy vierde reis was onder die Zeelandse vlag; op die heenreis onder skipper De Voogd was hy van 17 April tot 16 Mei 1683 in Tafelbaai. Op die retoerreis (skipper De Vos) het hy in April 1684 in die Indiese Oseaan vergaan. Daar was geen oorlewendes nie.10

Die sogenaamde Nooms-skildery as historiese dokument

’n Skilder hoef, anders as ’n fotograaf, nie teenwoordig te wees by die gebeurtenis wat hy uitbeeld nie. Da Vinci het nie die Laaste Avondmaal bygewoon nie en Gèricault het nooit Medusa se vlot gesien nie, maar vir enigeen bly dit onmoontlik om iets te skilder wat ná sy dood plaasgevind het.

Die skildery beeld ’n dwarsgetuigde skip genaamd Africa met Nederlandse en VOC-vlae uit wat onder vol seil met ’n oostewind die Tafelbaaise reede nader. Sy wit onderromp is sigbaar want hy is in ballast met ’n ligte vrag en is dus op sy heenreis. Die ballast sou grootliks uit voorraad en boumateriaal soos bakstene en houtwerk vir die Kaap bestaan het. Hy nader sy bestemming, sy bakboordanker is losgemaak, gereed om te laat val. Op sy rykversierde hek is die sogenaamde tafereel gesny en beskilder: die naam Africa staan oor ’n toneel van ’n swart koning op ’n troon, omring van onderdane, slawe en wilde diere. Die geskrewe naam Africa is ’n anakronisme en dalk ’n latere toevoeging; op ’n tyd toe baie matrose ongeletterd was, kon ’n skip aan die tafereel op sy hek uitgeken word. Geskrewe name het die geskilderde taferele in die eerste helfte van die 18de eeu vervang.

In die skildery het Africa net bramra’s, op ’n tydstip toe groot skepe reeds marsra’s aan die voor- en grootmaste gedra het. Moontlik is die marsra’s gestryk om windweerstand te verminder en die skip meer seevas te maak, maar so iets is gewoonlik gedoen nadat die skip geanker is, of net in baie swaar weer. Africa vorder onder voor-, voorbram, grootbram, besaan- en besaanbramseile met sy grootseil en kluiwers opgegei vir beter uitsig. Daar is teen ’n lokval voorberei. Al die kanonne op die dek en oorloopdek is uitgerol; Nederland verkeer in oorlog en die vier of vyf geankerde skepe op die reede kan lokvinke wees. Hy maak hom bekend met landsvlae aan die vlagstok en grootbramspriet, die vlag van die Rotterdamse kamer aan die agterste vlagstok en ’n soortgelyke maar kleiner huisvlag aan die besaanbram. Aan die voorbramspriet is ’n Nederlandse kommissiewimpel onder ’n onbekende vlag met beurtelingse oranje en wit bane.

Dwarsgetuigde skepe is sierlike strukture, soos Nooms wel geweet het, maar Africa se kunstenaar het dit nie reggekry nie; die skip word basies uitgebeeld, byna vereenvoudig, met foute en weglatings. Daar is byvoorbeeld nege vertikale toue in die bakboordvoorwant, maar net agt aan stuurboord. Dit is onverskoonbaar vir ’n skilder wat voorgee om Nooms te wees. Selfs op sy nooiensvaart en in die hoogsomer lyk die skip oud, afgeleef en swaar, ’n geskilderde skip op ’n geskilderde see. Coleridge se spookskip dwaal in die kyker se gedagte.

Weg van die skip is daar ’n deurmekaar, verbeelde wêreld. Nooms se reputasie vir akkuraatheid en fyn besonderhede ten opsigte van vreemde plekke is hier oorboord gegooi of was nooit aan boord nie. Geoordeel aan die skadu’s van die maste op die seile sit die son laag in die ooste, asof dit middelwinter is. Beide die voorgestelde stand van die son en die wind wat lyk of dit uit die noordooste kom, is hoogs onwaarskynlik in Tafelbaai op 15 Januarie. Aanvaarbare voorstellings van Duiwelspiek en Tafelberg maak deel uit van die agtergrond, maar Leeukop en Vlaeberg is misvorm. Die Leeuberg bestaan geografies uit Leeukop, die Leeuromp (Vlaeberg of “de Leeuwenbil”) en die Leeustert. In die skildery is Kloofnek te hoog en te steil voorgestel; trotse Leeukop het tot ’n gesiglose heuwel inmekaar gesak, die Romp is gepunt, geduik en vol gate en die Stert buig in die verkeerde rigting, na die weste. ’n Verbeelde skiereiland, lank, groen, noordwaarts uitgestrek, wat meermale in 17de- en 18de-eeuse uitbeeldings van die Kaap te sien is, lê op die westelike horison. Die land wat onder die stuurboordheklantern sigbaar is, is verkeerd vir Robbeneiland geleë. Die afwesigheid van seinvlae op die Kop en Romp openbaar onkunde oor hul bestaan. Dit is ’n vals landskap, van verkeerde voorstellings af oorgeteken.

Drie seilbote, op die loefboeg en dwars opsy, gaan almal in verskillende rigtings op onbekende sendings. Byna onder die boeg, en in groot gevaar om onderdeur geloop te word, loef ’n galjoot na bakboord. Vreemd is dit dat sy kluiwer (die sprietseil) gehys is maar die voet (die voorste, onderste hoek) nie aan die boegspriet geheg is nie. Op ’n veiliger afstand van Africa se bakboordboeg seil ’n breë, vlak vaartuig soos ’n kaag onder bastertuig bestaande uit ’n enkele mas met ’n dwarsseil soos ’n Noorse langskip op ’n parallelle koers; ’n groot landsvlag maak ’n indruk van belangrike amptelike sake. Op die voorgrond haas ’n klein skuitjie, as sampan getuig, uit die ooste asof op ’n reddingsdiens, tot die boorde gelaai met wat soos groente lyk. Die Kaapse diensstasie het vars voorraad aan geankerde skepe gelewer in mandjies met teerseil bedek, nie in ’n oop boot gestort nie. Die drie bote is natuurlik aan die land verbonde, maar die land is ’n vae skyn van een of twee reghoekige strukture en die diensbote lyk haweloos en verward.

Op die afgeleë reede lê vier of vyf vaartuie, waarskynlik geanker. Party voer Nederlandse vlae. Geankerde skepe lê natuurlik kop teen die wind, maar nie hier nie; hulle lê dwars teen die wind en, hoogs ongewoon, in reguit rye asof hulle in ’n rivier geanker is. Aan hul bakboordkant wys ’n tweemassloep, oos gedraai, sy silhoeët.

Die Africa-skildery bevat minstens vier ooreenkomste met ’n ouer Nooms-skildery, Before the Battle of the Downs, 1639, waarin sy enigste skakel met die naam Nooms lê. Dit is: (a) die menslike aktiwiteit op die sentrale skip is tot die dek rondom die voormas beperk; (b) die boot naaste aan die sentrale skip is ’n galjoot met kluiwer, grootseil, bramseil en vlag, behalwe dat in Before the Battle die kluiwer behoorlik aan die spriet geheg is; (c) op ’n afstand van die sentrale skip lê ’n Nederlandse vloot teen ’n agtergrond van land; (d) swart wolke soos steenkoolrook hang links bo-oor die toneel.

Besluit

In die onderhawige skildery stel die tafereel, Rotterdamse vlag en hoogdrywende skip die historiese gebeurtenis op 15 Januarie 1675, maar die skilder Reinier Nooms is al in 1664 oorlede, nege jaar voor Africa te water gelaat is en 11 jaar voor sy eerste besoek aan Tafelbaai.11 Daarbenewens lei die onrealistiese agtergrond en nagebootste visuele inhoud tot die gevolgtrekking dat die skildery in die styl van Nooms uitgevoer is, dalk deur ’n gewese leerling wat nie sy meester se kennis van skeepsbou of sy respek vir getroue agtergronduitbeelding gehad het nie en ook nooit die Kaap gesien het nie.

Waarom is dit geskilder? Dit mag ’n moderne vervalsing vir geldelike gewin wees, of dit kan die produk wees van ’n onskuldige opdrag vir ’n gelofteteken deur ’n dankbare oorlewende van daardie eerste reis. Wie het die skildery as ’n Nooms geïdentifiseer? Die speurwerk behoort in die argief van die firma Spink and Son in Londen te begin. Die filantroop AA de Pass is in 1931 deur sy kunshandelaar mislei.

Aantekeninge

1 Persoonlike ondersoek van betrokke artefak (slegs voorkant) in Groot Constantia, 27 Mei 2014. Ek is dank verskuldig aan dr Helena Scheffler, wat saam met my die ontleding en vertolking van die arterfak gedoen het.

2 http://en.wikipedia.org/wiki/Reinier_Nooms, 24 Mei 2014, 27 Mei 2014.

3 Vir voorbeelde van Nooms se etse, kyk na I de Groot and R Vorstman: Maritime prints by the Dutch masters (Londen, 1980), ble 71–94.

4 WJ de Kock (red), SA Biografiese Woordeboek, deel 1, (Kaapstad, 1968), ble 229–30.

5 JAS Phillips: Alfred A de Pass: Benefactor of Groot Constantia, in Bulletin of the SA Cultural History Museum, vol 2, 1981: Letter, A de Pass – J Herold, 11.2.1932, bl 12, voetnoot 41.) My dank aan W van Delen van Iziko Museums wat my navrae beantwoord het en so vriendelik was om my van bogenoemde artikel te vertel en ’n afdruk daarvan te voorsien.

6 J Bruin, F Gaastra en I Schöffer (reds), Dutch-Asiatic Shipping, vol 2 ( The Hague, 1979] entry 1269.1; JA Böeseken (red): Resolusies van die Politieke Raad III, (Kaapstad, 1961), bl 209.

7 M Verstegen, De Indische Zeeherberg (Saltbommel, 2001), bl 110.

8 J Bruin, F Gaastra en I Schöffer (reds), Dutch-Asiatic Shipping, vol 3 (The Hague, 1979), entry 5676.

9 C 302 Inkomende Brieven, bl 73, Wes-Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad; J Bruin, F Gaastra en I Schöffer (reds), Dutch-Asiatic Shipping, vol 2 (The Hague, 1979), entry 1269.1.

10 J Bruijn, F Gaastra en I Schöffer (reds), Dutch-Asiatic Shipping, vol 2 (The Hague, 1979), entries 1345, 1379, 1450; vol 3, entries 5721, 5755, 5782.

11 GB Hilterman ea (reds): De Kleine Winkler Prins Encyclopaedie, deel II (Amsterdam, 1950), bl 1002; https://en.wikipedia.org/wiki/Reinier_Nooms, 24 Mei 2014, 27 Mei 2014.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top