Daar is steeds geen aanduiding van owerheidskant of oudpresident Jacob Zuma, wat tans in Rusland is, ooit weer die binnekant van ’n tronk in Suid-Afrika sal sien nie.
Die Konstitusionele Hof het vroeër die maand bevestig dat Zuma se mediese parool ongrondwetlik was en dat hy nie sy volle vonnis agter tralies uitgedien het nie.
Dit is meer as ’n week sedert die hof beslis het dat Zuma streng gesproke moet teruggaan tronk toe, maar volgens mediaberigte is hy steeds in Rusland.
Die hof het dit aan die waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste oorgelaat om te besluit of Zuma moet teruggaan tronk toe en of die tyd wat hy op mediese parool was, as deel van sy vonnis in die tronk gereken moet word.
Die Departement van Korrektiewe Dienste sloer egter om tot ’n besluit te kom. Intussen sit die polisie ook met hulle hande gevou en wag vir ’n opdrag van die departement oor Zuma se moontlike inhegtenisneming.
Bheki Cele, minister van polisie, sê die polisie sal enige bevel ook al wat gegee word, uitvoer.
“Die hof het die voorreg aan hulle, aan die waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, gegee om ’n besluit te neem. Ons wag vir daardie besluit. Ek het met die minister gepraat. Hulle het gesê die regspan probeer interpreteer wat veronderstel is om te gebeur,” het Cele aan die media gesê.
Opposisiepartye soos die DA soek antwoorde by die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste oor Zuma se moontlike arrestasie.
Die DA sê in ’n verklaring dit het opvallend duidelik geword dat Zuma in ’n voortvlugtige van die gereg verander het nadat hy sy verblyf in Rusland verleng het.
Die DA se skaduminister van korrektiewe dienste, Janho Engelbrecht, sê Zuma se reis na Rusland dien ongetwyfeld as ’n reaksie op die ongunstige uitspraak van die Konstitusionele Hof.
Zuma staan boonop op 15 Augustus tereg op aanklagte van korrupsie. Volgens Engelbrecht skep dit verdere agterdog oor sy reis na Rusland.
“Suid-Afrika wag al byna twee weke vir ’n aankondiging van die Departement van Korrektiewe Dienste oor wanneer Zuma moet terugkeer tronk toe om die res van sy vonnis uit te dien. Hierdie stilswye is ’n aanklag teen die departement [...], wat hul gesloer moet beëindig en sonder versuim ’n aankondiging moet maak,” sê Engelbrecht.
Die DA sê ’n verskeidenheid relevante vrae moet beantwoord word oor die toenemend onregverdigbare vertraging in die departement.
Dit sluit die volgende in:
- Was Zuma nog onder parool toe hy Suid-Afrika verlaat het, aangesien die wettigheid van sy vrylating nog onbeslis was?
- Wat was die voorwaardes van Zuma se mediese parool en het dit hom toegelaat om die land te verlaat?
- Is die departement bekommerd dat Zuma in Rusland is nadat die Konstitusionele Hof bevestig het dat hy volgens wet nie sy vonnis uitgedien het nie?
- Doen die departement enige stappe om te verseker dat Zuma na Suid-Afrika terugkeer om die res van sy termyn uit te dien soos vereis?
- Het die departement enige inligting oor wanneer Zuma na die land sal terugkeer?
- Waarom het die departement daarop aangedring om te appelleer teen die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl dat Zuma se vrylating op mediese parool onwettig was?
- Wat was die totale koste vir die departement, insluitend die kostebevel wat in hierdie appèl teen hulle toegeken is?
- Sal die departement ’n lasbrief vir inhegtenisneming aanvra sou Zuma versuim om na Suid-Afrika terug te keer om die res van sy vonnis uit te dien?
Die DA het ’n beroep op die kommissaris gedoen om Zuma se terugkeer na die tronk onverwyld aan te kondig.