Die bedrag wat die belastingbetalers in Suid-Afrika moet opdok om ministers se ligte te laat brand terwyl die res van die land in die duister tas, beloop reeds byna drie miljoen rand.
Nadat dit aan die lig gekom het dat die ministers se ampswonings in die Bryntirion-landgoed in Pretoria geen beurtkrag het nie, blyk dit nou verder dat duisende rand uit die belastingbetalers se sak bestee word aan kragopwekker by die wonings van ministers wat nie daar woon nie.
Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur sê altesaam R1,3 miljoen is gedurende die 2021/22-boekjaar bestee om kragopwekkers by die huise van kabinetsministers en hul adjunkte te installeer.
Thami Mchunu, woordvoerder van die departement, het volgens Radio Jakaranda ook bevestig dat daar geen beurtkrag geïmplementeer word by die Bryntirion-landgoed nie.
Nie al die ministers woon egter op die landgoed nie. Diegene wat nie daar woon nie, word op die staat se onkoste van kragopwekkers voorsien.
Die DA sê in ’n verklaring dit is onregverdig dat ministers van kragopwekkers voorsien word terwyl ander in die donker moet sukkel.
Die DA het ’n beroep gedoen op die ANC-regering om hulp aan kwesbare Suid-Afrikaners te prioritiseer, in plaas daarvan om meer as R2,6 miljoen te bestee om die ligte by ministers se huise te laat brand.
Volgens City Press het minister Patricia de Lille se Departement van Openbare Werke verlede jaar R1,3 miljoen bestee om kragopwekkers by ministers se huise te installeer, en nog R681 000 vanjaar. Die koste om hierdie kragopwekkers te bedryf, het dramaties gestyg van R31 750 verlede jaar tot R621 000 in die eerste helfte van 2022 alleen.
Die DA se skaduminister van openbare werke en infrastruktuur, Samantha Graham-Maré, sê as die ANC-regering werklik vir arm en kwesbare Suid-Afrikaners omgegee het, sou hulle hierdie geld geprioritiseer het om te verseker dat alle hospitale en klinieke krag het tydens die aanhoudende donker en toesien dat misdaadbrandpunte nie sonder ligte is wanneer beurtkrag toegepas word nie.
Sy sê klein sakeondernemings wat van kritieke belang is vir ’n herstellende ekonomie, kan ook nie in die donker bly funksioneer nie.
“Minister De Lille moet belastingbetalers se geld (...) nie misbruik om haar en haar medevetkatministers se gemak te verseker nie. ANC-ministers word enorme salarisse betaal. Terwyl hulle weier om die land se kragramp op te los, moet hulle ten minste vir hul eie kragopwekkers en brandstof betaal,” het sy gesê.
Sy sê die regering moet onthou dat hulle in opdrag van die mense dien. Die mense is nie bedoel om hulle te dien nie.
’n Skrefie lig in die donker beurtkragtonnel is dat daar teen die einde van die week dalk verligting kan wees vir die beurtkragvoos publiek.
Volgens André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, kan Suid-Afrika teen einde van die week voorlopig verlos te wees van beurtkrag namate meer opwekkingseenhede weer in werking gestel word..
Die kragonderbrekings het die land se ekonomie vir die grootste deel van die afgelope twee maande onberekenbare skade berokken. Die land was vir byna twee weke aan fase 6-beurtkrag onderworpe.
Tydens fase 6-beurtkrag het die land meer as twee keer per dag kragonderbrekings in die gesig gestaar vir periodes wat wissel van twee tot vier uur per dag.
Dit het ’n negatiewe impak op die ekonomie gehad waartydens groot sowel as klein besighede erg geraak is weens die onbetroubare kragtoevoer.