Jeug en Wes-Kapenaars is die grootste struikelblokke teen inenting 

  • 0

Jong Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 18 en 24 jaar is baie meer huiwerig as mense ouer as 60 om hulle teen COVID-19 te laat inent.

Hoewel byna twee uit elke drie Suid-Afrikaners (62%) in ʼn onlangse studie aangedui het hulle is bereid om ingeënt te word, is net meer as die helfte van land se jonger mense bereid om hulle te laat inent.

Dit blyk uit navorsingsresultate wat deur die regering se Solidariteitsfonds en die kommunikasie en inligtingsdiens (GCIS) bekendgemaak is.

Volgens die navorsing is mense ouer as 60 die gewilligste om hulle te laat inent (65%), gevolg deur mense tussen 50 en 59 (63%).

Die studie, waarvan die resultate vroeër die week tydens ʼn webinaar  bekend gemaak is, toon dat jongmense die grootste struikelblok is in die regering se strewe om soveel as moontlik Suid-Afrikaners teen COVID-19 te laat inent.

Die studie is tussen Mei en Junie vanjaar gedoen deur middel van honderde persoonlike onderhoude met mense van verskillende ouderdomme oral in die land en voordat die regering amptelik bekendgemaak het dat mense van 18 en ouer ook kan registreer om ingeënt te word.

Slegs 16% van alle Suid-Afrikaners is tot op datum ingeënt. Daar was aanvanklik groot belangstelling onder mense tussen 35 en 49 om te registreer vir inenting. Meer as een miljoen mense in daardie ouderdomsgroep het binne die eerste 24 uur nadat registrasie geopen het, geregistreer. Die belangstelling het egter gou gekwyn, waarna daar besluit is diegene tussen 18 en 35 kan ook vroeër as wat beplan is, registreer.

Volgens die jongste resultate is soveel as 36% van die land se jongmense aansienlik onwillig om die vaksine te neem.

Ask Afrika se bestuurshoof, Andrea Rademeyer, het tydens die webinaar gesê daar is kommer oor die weerstand onder die jonger geslag om die entstof te ontvang. Sy sê dit is ʼn groot uitdaging om veral diegene tussen 18 en 24 te oortuig.

Die regering se hoop om teen die einde van die jaar sowat 70% van die land se bevolking ingeënt te hê word ernstig hierdeur in die wiele gery, met slegs ʼn raps meer as 13 miljoen inspuitings wat tot dusver in die land toegedien is.

Verskillende gemeenskappe en provinsies in die land reageer ook verskillend op oproepe om ingeënt te word.

Volgens die beskikbare data is meer as 70% van die Indiërgemeenskap in die land bereid om hulle te laat inent, gevolg deur swart Suid-Afrikaners (64%) en wit Suid-Afrikaners (53%); bruin Suid-Afrikaners is in die laaste plek, met slegs sowat 45% wat gesê het hulle is gewillig om hulle te laat inent.

Dit verklaar waarskynlik ook waarom die Wes-Kapenaars die huiwerigste is om hulle te laat ent. Mense in Noordwes en Limpopo is volgens die studie die gretigste om die entstof te ontvang.

Die grootste redes wat mense aanvoer waarom hulle nie die entstof wil ontvang nie, is dat hulle bang is vir die newe-effekte of dat die entstof nie doeltreffend is nie.

Vals gerugte op sosiale media en elders waarom mense hulle nie moet laat inent nie, is skynbaar nie die grootste rede vir mense se weerstand daarteen nie. Slegs 5% van die respondente wat huiwerig is, voer dit as rede aan en slegs 2% van die respondente het gesê godsdienstige besware of samesweringsteorieë weerhou hulle daarvan om hulle te laat inent.

Volgens Rademeyer help dit nie om mense wat nie ingeënt wil word te demoniseer nie, omdat dit tot groter weerstand teen inenting sal lei. Die beste aansporing is volgens haar om die ware feite en korrekte inligting rakende die entstof onder mense se aandag te bring.

Die volledige webinaar kan hier gesien word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top