Jeug stel voorbeeld met COVID-19-inentings

  • 0

Jong Suid-Afrikaners in die ouderdomsgroep 18 tot 34 het verrassend positief reageer op die versoek om hulle teen COVID-19 te laat inent.

Mense 18 jaar en ouer kon sedert verlede Vrydag registreer om ingeënt te word en het nie op hulle laat wag nie.

Meer as ’n halfmiljoen Suid-Afrikaners het geregistreer op die eerste dag waarop inenting vir die 18–34-jaar-ouderdomsgroep geopen het. Daar was aansienlik meer inentings as tydens die afgelope weke. Die gretigheid waarmee jong Suid-Afrikaners na die inentingsentrums stroom sal hopelik help om gouer ’n mate van kudde-immuniteit onder Suid-Afrikaners te bereik sodat daar na ’n meer normale lewenstyl teruggekeer kan word.

Die besluit dat jongeres hulle nou ook kan laat inent, is verlede week deur die kabinet geneem in ’n poging om die inentingsprogram in die land vinniger uit te rol omdat daar genoeg entstof daarvoor beskikbaar is.

President Cyril Ramaphosa het die jeug Maandag in sy weeklikse nuusbrief geloof vir hulle ywerigheid om hulle te laat inent. Ramaphosa sê die jonger generasie toon volwassenheid deur hulle bereidheid om by te dra tot pogings om kudde-immuniteit te bereik.

“Terwyl ek toegekyk het hoe jongmense onderhoude met die media voer terwyl hulle in lang toue wag om ingeënt te word by die onderskeie sentrums, was ek beïndruk met hulle entoesiasme en opgewondenheid. Meer as enige iets anders was ek beïndruk met hulle kennis oor die entstof, hoe dit hulle kan beskerm en waarom dit nodig is,” het die President in sy nuusbrief geskryf.

“Ek het ’n jong man en vrou hoor praat oor die noodsaaklikheid om diegene met hoë risiko’s in hulle gemeenskap te beskerm. Ek het ook op sosiale media gelees van ’n jong persoon wat almal wat haar volg, aanmoedig om kennis te neem van wat in die vroeë dae van die  MIV/Vigs-pandemie gebeur het. Mense het onnodig gesterf omdat hulle vals stories geglo het dat die destydse antiretrovirale medikasie dodelik is of omdat hulle nie ag geslaan het op die advies om veilige seks te beoefen nie.”

Die President het weer ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie vals inligting oor inenting op sosialemediaplatforms te versprei nie. Suid-Afrika het verlede week die 10 miljoen kerf oorgesteek van mense wat die entstof ontvang het en byna  vyf miljoen Suid-Afrikaners is nou ten volle ingeënt, wat beteken hulle het een dosis van die J&J-entstof of twee dosisse van die Pfizer-entstof ontvang, maar daar is nog ’n lang pad wat voorlê, het Ramaphosa gesê.

Die epidemioloog Salim Abdool Karim het volgens die SABC ook weer die belangrikheid beklemtoon van ’n hoë inentingskoers. Hy sê dit sal help om sterftes in die verwagte vierde vlaag in Suid-Afrika, te verminder. Karim het verwys na die inenting van jongmense wat tot dusver bó verwagting vorder. Hy sê lande waar die inentingskoers hoog is, het die beste kans teen die impak van ’n vierde vlaag. Karim het ook verwys na Brittanje en Israel wat die meeste inentings van alle lande afgehandel het, en steeds sukkel met nuwe vlae van die virus. Hy sê hoë inentingsvlakke lei tot aansienlik minder sterftes en minder hospitalisasie, selfs al is daar sommige mense wat die sogenaamde deurbraakinfeksies kry.

Ramaphosa sê in sy nuusbrief die volwassenheid wat jongmense aan die dag lê deur hulle op so ’n groot skaal te laat inent, herinner aan 1994 toe miljoene Suid-Afrikaners in lang toue gestaan het om die missie van politieke bevryding te vervul deur vir die heel eerste keer hulle stem uit te bring.

“Daar is steeds ’n groot klomp bedenklike inhoud wat oor die entstowwe versprei word. Hierdie samesweringsteorieë is vergesog, en ek doen ’n beroep op jongmense om nie mee te doem aan die verspreiding van vals nuus nie.”

Ramaphosa sê sulke vals boodskappe maak mense huiwerig om hulle te laat inent en dit benadeel nie net die jeug nie, maar ook diegene wat hoërisikogevalle is en die entstof baie nodig het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top