Jeugdag – wat sou gebeur het as iemand geluister het?

  • 0

“If we must do Afrikaans, Vorster[i] must do Zulu,” het een van die plakkate gelui wat op 16 Junie 1976 deur die betogende jeugdiges gedra is. Hul opstand was teen die besluit van die apartheidregering en die destydse Bantoe Onderwys-stelsel wat in 1974 geneem is en bepaal het dat swart leerders in Afrikaans onderrig moet ontvang.

Terugskouend was die versoek op die plakkaat dalk nie so ’n onbillik nie. As iemand maar net die opsie deeglik oorweeg het, selfs voordat dit gelei het tot die oproer van die dag. Wat sou gebeur het as die regering van die dag tóé al deeglik na die voordele van meertaligheid ondersoek ingestel het? Dalk sou ons as ’n land, as ’n eenheid van Suid-Afrikaners, op ’n beter plek gewees het.

Ons het nie gevorder nie; ons is presies waar ons in 1976 was.

Jeugdag is tans net nog ’n vakansiedag, ’n dag waarop mense in hul menigtes optrek en deur politici toegespreek word; ’n dag waarop daar fees gevier word. Vanjaar word daar weer feesgevier – in 2018 is dit die 42ste herdenking van ... ja ... van swakgehalte-onderrig, lae geletterdheidsvlakke, werkloosheid onder die jeug en selfs ’n toename in seksuele geweld tussen onderwysers en leerders.

Ons herdenk en vereer die jongmense wat tydens die Soweto-opstande in 1976 gesterf het; ons dink aan die beroemde Hector Pieterson, wat deur ’n dwarskoeël van die polisie getref is en nie eens deel van die optogte was nie, wat hy dalk vandag sou wees; en kan nie anders as om te wonder of hierdie slagting enige verskil gemaak het nie. Het die 176 mense (dis die amptelike getal) wat op dié dag hul lewens verloor het, verniet gesterf?

Wéét vandag se jeug waaroor hierdie dag gaan? Of weet hulle soveel daarvan as wat ons van Hastings Ndlovu weet? Die seun van wie daar nie foto's geneem is nie, die seun van wie daar nie ’n gedenkteken opgerig is nie. Anders as vir Hector Pieterson, na wie ’n museum en gedenkteken vernoem is, is daar slegs ’n gedenkteken by sy huis in Thabetestraat, Soweto, aangebring. Maar wat van die ander slagoffers wat dit gewaag het om hul misnoeë by wyse van deelname aan die optogte te toon? Die totaal waaroor daar nie konsensus is nie, enigiets tussen 176 en 700 mense. Het hulle verniet gesterf?

Die onreg wat ’n persoon aangedoen word wanneer die kern van sy menswees, sy identiteit, misken word, is waarskynlik steeds vandag die rede waarom mense in ons land in frustrasie leef. Ons baklei steeds oor taal, ons baklei steeds oor gehalte-onderwys in ons moedertaal, en ons baklei steeds oor die erkenning van ons erfenis. Ons baklei teen superioriteit. In die diepste van ons menswees maak dit seer, hierdie miskenning.

Op 16 Junie 1976 het dit oor veel meer as net Afrikaans as onderrigtaal gegaan. Minagting van die swart landgenote se vermoëns om in vakke soos wiskunde en wetenskappe te presteer. Miskenning van hul regte om gelyke geleenthede te kry in hul moedertaal, dieselfde gehalte-onderrig as hul wit eweknieë. Daarmee saam is die fondasie gelê vir lae geletterdheidsvlakke, armoede ...

Twee en veertig jaar later bevind ons ons in ’n era waarin armoede, ongeletterdheid, swak ekonomiese omstandighede en misdaad aan die orde van die dag is. In die omgewing waar ek woon en werk, word die jeug se toekoms dikwels bedreig deur veel meer as die uitdagings waarmee die jeug van 1976 te doen gehad het. Ons leef in ’n era van kitsoplossings, die internet en sosiale media en ’n jeug wat geregtig voel op voordele en voorregte waarvoor hulle nie noodwendig wil werk nie. Almal het regte; ons is geregtig op gelyke behandeling as ons wit eweknieë; ons het die reg op gehalteonderwys en die reg op vryheid van spraak. Maar wanneer gemeenskappe uit onderontwikkelde gebiede kla oor basiese geriewe soos water en sanitasie, behuising en elektrisiteit, opgeleide onderwysers en veiligheid, word daar nie aandag aan hul klagtes gegee nie. Daarom is daar vandag steeds optogte, steeds vandalisme, en al bereik dit nie veel nie, al berokken dit eerder meer skade, bied dit in ’n mate ’n stem aan die betoger om sy griewe te lug.

Taal, en veral onderrig in Afrikaans, was nie die enigste grief wat tot die oproer in 1976 in Soweto gelei het nie. Maar taal, die miskenning van ons diepste menswees, ons kommunikasiemiddel en die medium waarin ons opgelei en ontwikkel word, was die finale vonk wat die bom laat bars het.

Dit laat my net wonder oor waar ons as ’n land ons tans bevind op Jeugdag 2018. Deesdae kom Afrikaans as onderrigtaal heel dikwels in die spervuur, met katastrofiese gevolge vir studente by skole met laer onderrigstandaarde. Leerders by wie ’n behoorlike woordeskat in hul moedertaal nog nie vasgelê is nie, moet nou in Engels studeer as hulle enigsins naskoolse opleiding verlang.

Wat sou gebeur het as Vorster daardie plakkaat ter harte geneem het en Zoeloe geleer het? Wat sou gebeur het as Vorster Afrikaans, Engels en Zoeloe, of watter taal ook al in daardie demografiese gebied gepraat word, as drie gelyke onderrigtale by skole bevorder het, sodat wit leerders ’n Afrikataal kon aanleer nes hul swart maatjies ingewikkelde vakterme in Afrikaans of Engels onder die knie moes kry?

Ek kan nie anders as om te wonder oor die voordele wat dit sou ingehou het nie. Ons sou nou beter met mekaar kon kommunikeer. Ons sou die nuanses van gespreksgenote beter verstaan; ons sou mekaar se behoeftes beter kon verstaan, omdat ons nie verwag van die ander persoon om dit in sy tweede of derde taal uit te druk nie, maar in sy moedertaal. Want sien, ons verstaan mos nou sy moedertaal. Dalk sou ons, 42 jaar later, minder optogte en oproer en vandalisme gehad het. Want kommunikasiekanale sou oop wees.

Wat is nodig vir vandag se jeug om die onreg van die verlede reg te stel? Veronderstel dit is nog nie te laat om na mekaar se harte te luister nie? As ons dalk mekaar se taal kon aanleer ...?


 

[i] John Vorster was vanaf 1966 tot 1978 die Eerste Minister van Suid-Afrika (Bron: South African History Online) (MvH - Voertaal).

Buro: MvH
  • 0
Top