Johannesburg: ’n stad op die rand van ineenstorting?

  • 0

Inwoners en belange-organisasies van Johannesburg vrees die Goudstad is op die rand van ineenstoring weens ’n gebrek aan dienslewering, ’n getwis oor die omstrede heraanstelling van die stadsbestuurder en daaglikse gevalle van swak bestuur.

Die Joburg Crisis Alliance (JCA) is woedend oor die raad se geheimsinnige heraanstelling van Floyd Brink as die stadsbestuurder van die Stad Johannesburg.

Die JCA, wat uit vyf organisasies bestaan, wil weet waarom die regerende koalisie in die stadsraad so desperaat om Brink as stadsbestuurder te hê.

Die organisasies wat deel is van die JCA, is die Organisasie teen belastingmisbruik (Outa), die Ahmed Kathrada-stigting, The Johannesburg Inner City Partnership, Action for Accountability en Defend Our Democracy.

Die organisasies sê in ’n gesamentlike verklaring hulle is ontsteld oor die wyse waarop die regerende ANC-oorheerste koalisie Brink as stadsbestuurder heraangestel het, want dit verontagsaam ’n onlangse Hooggeregshofbeslissing dat die Stad se vorige poging om hom aan te stel ongrondwetlik, onwettig en ongeldig was.

Die Hooggeregshof het bevind dat die raad versuim het om sy eie prosedures te volg met betrekking tot dringende aangeleenthede wat die raad se oorweging en goedkeuring vereis toe hulle hom aangestel het.

Sy aanstelling is deur die DA in die hof betwis, wat daartoe gelei het dat die hof beslis het dat dit onwettig was.

Die JCA glo dat die aanstelling van die stadsbestuurder wat ’n deurslaggewende pos is, doelbewus uitgerek is ten koste van goeie stadsbestuur om die huidige koalisieregering in staat te stel om hulle voorkeurkandidaat, Brink, in die pos te kry.

Die Hooggeregshof se uitspraak van 7 November skets volgens die JCA die chaotiese en twyfelagtige manier waarop die raad funksioneer.

Op 29 November het ’n woordvoerder van die burgemeester, Kabelo Gwamanda, se kantoor aangekondig dat die raad “sy voorheen aanvaarde verslag om Brink as die stadsbestuurder aan te stel, aanvaar het” en ten spyte van die hofuitspraak het hulle hom heraangestel.

Met verwysing na die Hooggeregshof se afwysing van sy appèl, het die kantoor van die burgemeester gesê die Stad glo steeds dat die Hooggeregshof versuim het om onafhanklik en sonder vooroordeel die geldige en wesenlike regsargumente wat voor die hof gedien het, te oorweeg.

Die JCA sê hulle is verstom dat die raad dink hy kan sy blatante vertrapping van prosedures regstel deur sy eie onwettige gedrag terugwerkend te bekragtig.

“Ons neem kennis dat Brink se heraanstelling nie op die raadsagenda vir verlede Woensdag se vergadering (29 November) verskyn het nie, wat dui op ’n voorneme om enige debat daaroor tydens die geslote sitting wat oor hierdie item gehandel het, te vermy.”

Die JCA sê die arrogansie – en desperaatheid om ’n begunstigde kandidaat aan te stel, asook ’n aanval op die regbank – behoort groot kommer by inwoners van die Stad te wek. Dit laat  volgens hulle ’n paar baie ontstellende vrae ontstaan: Is daar twyfelagtige kontrakte wat op ondertekening deur die stadsbestuurder wag? Is daar twyfelagtige betalings wat wag op aftekening wat nie kan wag nie? Is daar verreikende ondersoeke in die stadsbestuurder se kantoor wat teruggetrek moet word?

“Waarom is die raad so desperaat om Floyd Brink te behou ten spyte van ’n duidelike hofuitspraak?”

Hulle sê hulle is bekommerd dat daar moontlik twyfelagtige kontrakte in die pyplyn is wat onwettig mag wees.

Die organisasies het ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om, as ’n saak van dringendheid, ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te gelas na die omstandighede van Brink se aanstelling, asook alle besluite en magtigings wat deur Brink as stadsbestuurder geneem is, insluitend dié na sy twyfelagtige heraanstelling.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top