Johannesburg op die randjie van katastrofiese watervoorsieningskrisis 

  • 0

Daar heers toenemende kommer oor die al erger wordende watervoorsieningskrisis in Johannesburg en dringende optrede word geëis om die krisis te beredder.

WaterCAN, ’n toonaangewende burgerlike organisasie wat toegewy is daartoe om toegang tot skoon en veilige water te verseker, is bekommerd dat die owerhede in gebreke bly om die haglike situasie op te los.

Duisende inwoners van Johannesburg moes dié week ’n tweede week sonder water in die gesig staar omdat reservoirs wat groot dele van Randburg en die westelike dele van die stad voorsien, buite werking is.

“Johannesburg staan ​​op die randjie van ’n katastrofiese watervoorsieningskrisis,” sê dr Ferrial Adam, uitvoerende bestuurder van WaterCAN. Hy sê Rand Water en Johannesburg Water se versuim om waterhulpbronne voldoende te bestuur, het die stad tot op die rand gedruk.”

WaterCAN sê in ’n verklaring hulle glo dat die nasionale Departement van Water en Sanitasie (DWS), Rand Water en Johannesburg Water nie duidelik met inwoners kommunikeer nie, alhoewel WaterCAN en die burgerlike samelewing in November ’n gesamentlike forum met dié owerhede oor die waterkrisis gestig het.

“Ons het ’n gevestigde forum vir die owerhede om met die burgerlike samelewing en inwoners te kommunikeer. Dit is heeltemal frustrerend dat ons hierdie liggame moet smeek vir antwoorde. Hoekom kan hulle nie hierdie inligting na die forum bring waar alle strukture verteenwoordig word nie? Is protes die enigste taal wat hulle verstaan?” wil Adam weet.

Hy sê die dreigende waterkrisis verg dringende aandag en daadwerklike optrede. “Ons kan nie stilsit ​​terwyl ons gemeenskappe die bedreiging van waterskaarste in die gesig staar nie. Dit is noodsaaklik dat ons bymekaarkom om aanspreeklikheid te eis en vir volhoubare oplossings werk.”

WaterCAN bied eerskomende Vrydag, 15 Maart, om 14:00 ’n dringende burgerlike gemeenskapsvergadering aan om die krisis te bespreek. Die vergadering sal ’n platform bied vir besorgde organisasies om hul griewe uit te spreek en aanspreeklikheid van owerhede te eis.

WaterCAN het burgerlike organisasie wat binne die Stad Johannesburg werksaam is, genooi om deel te wees van die vergadering om ’n pad vorentoe te bespreek en te beplan rondom die krisis wat die stad teister.

“Ons kan nie bekostig om langer te wag nie. Daar moet nou opgetree word om ’n volskaalse waterkatastrofe af te weer,” sê Adam. "Die vlakke van reservoirs is op historiese laagtepunte, wat ’n ernstige bedreiging vir die welstand van ons gemeenskappe inhou."

Sommige van die reservoirs en torings is leeg, met 14 van hulle wat 10% of minder water oor het.

Intussen is daar verskeie groot waterlekke oral in die stad, en paaie gee mee as gevolg daarvan.

Die waterkenner en ontleder Mike Muller het aan die SABC gesê die aanhoudende wateruitdagings in Johannesburg toon dat daar ’n moontlike organiese ineenstorting binne Joburg Water is, ’n probleem wat verlede week deur weerlig in die Eikenhof-pompstasie veroorsaak is.

Joburg Water sê egter dat hul tegnici met die hulp van die Rand Water-span op die terrein is.

Muller sê ’n voorval by een pompstasie behoort egter nie so ’n uitgebreide ineenstorting oor groot gebiede te veroorsaak soos wat tans die geval is nie. Hy sê dit is veral kommerwekkend dat daar niks van Joburg Water se kant gehoor word nie en dat hulle nie die uitdagings openlik in die gesig wil staar nie.

Intussen het Johannesburgse nooddienste inwoners van die stad gewaarsku om gehidreer te bly en om nie te veel tyd in die son deur te bring tydens die huidige hittegolf nie. Die Suid-Afrikaanse Weerdienste het Maandag gewaarsku teen hoë temperature wat Woensdag ’n hoogtepunt van plus 37 grade oor Gauteng en verskillende dele van die land kan bereik.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top