Die stryd tussen die ANC en die DA-geleide koalisie oor die politieke beheer van Johannesburg se metroraad is nog lank nie afgehandel nie.
DA-raadslid Mpho Phalatse het Dinsdag haar burgemeestersketting teruggekry nadat die Hooggeregshof haar onregmatige uitsetting as Johannesburgse burgemeester tersyde gestel het.
Regskenners waarsku egter dat haar oorwinning van korte duur kan wees as haar politieke teenstanders besluit om teen die uitspraak te appelleer.
Hoewel die vreugdevure die afgelope week hoog gebrand het in die DA-kamp na afloop van die hofsaak, is dit ook onseker of Phalatse ’n volgende mosie van wantroue in haar sal oorleef indien dit volgens die regte prosedure geskied.
So ’n mosie deur die ANC sal slegs afgeweer kan word indien die koalisievennote hulle geskille kan bylê en die Patriotic Alliance (PA), wat as koningmaker optree, of die EFF hulle nie weer by die ANC skaar nie.
Phalatse het haar pligte as uitvoerende burgemeester van die land se rykste en grootste metro onmiddellik na die hofuitspraak hervat.
Hoewel sy nie Woensdag haar kantoor kon binnegaan nie, omdat haar ANC-opvolger die slotte vervang het, het sy gesê dit sal haar nie keer om haar werk te doen nie. Sy het reeds ’n dringende virtuele vergadering van die burgemeesterskomitee gelei om die stad en sy bestuur weer aan die werk te kry.
Sy sê in ’n verklaring daar moet kennis geneem word dat die burgemeesterskomitee in die paar weke waartydens die onwettig verkose munisipale regering in beheer was, nooit gesit het nie. Hulle het wel probeer om ’n burgemeesterskomitee byeen te roep op die dag dat die Hooggeregshof hul “ongrondwetlike” magsgreep nietig verklaar het.
Van die sake wat tydens die afgelope week se burgemeesterskomiteevergadering bespreek is nadat Phalatse in haar amp herstel is, sluit in die status van ondersoeke na beweerde korrupsie wat aan die raad voorgelê moet word om vandag (Donderdag) oorweeg te word.
Die kantoor van die burgemeester het ook na die Hooggeregshof se uitspraak met die kantoor van die stadsbestuurder geskakel om vas te stel watter besluite geneem is en die impak daarvan op dienslewering sedert sy uit haar amp verwyder is.
Phalatse sê oor die komende dae sal haar kantoor verseker dat dringende sake, soos die water- en kragkrisisse, aandag kry, asook die veiligheid en sekuriteit van die stad se inwoners.
Sy sê terwyl die regstryd vir Johannesburg gewen is, is daar steeds politieke oorwegings wat haar aandag verg om die stad verder te stabiliseer. “Ek sal dus voortgaan met gesprekke met politieke leiers om ’n deursigtige en georganiseerde ooreenkoms te vind wat die korruptes uithou. Hierdie werk sal nie ten koste van die stad se kernmandaat kom nie, naamlik die lewering van gehalte- basiese dienste.”
Sy het al ses miljoen inwoners van Johannesburg bedank vir hul geduld, gebede en boodskappe van ondersteuning.
Die DA het in hulle reaksie gesê dat die speaker van die raad, Colleen Makhubele, en die ANC onwettig, oneerlik en ongrondwetlik opgetree het deur effektief ’n staatsgreep uit te voer deur die vinnige verwydering van die behoorlik verkose uitvoerende burgemeester van Johannesburg en lede van die burgemeesterskomitee.
Die DA sê in ’n verklaring die regter se uitspraak vandeesweek moet dien as ’n waarskuwing aan politici regoor die land wat bereid is om enigiets te doen, selfs moontlik die wet te ondermyn, om mag te gryp ter wille van toegang tot hulpbronne, in plaas daarvan om die werk te doen waarvoor hulle verkies is en kwaliteitdienste aan inwoners te lewer.
Phalatse sê haar party het die laaste paar weke met verskeie politieke partye en belanghebbendes gesels wat nie wil sien dat dienslewering in Johannesburg onder ’n korrupte regering in duie stort nie. Daarom het sy ’n onmiddellike vergadering van die heringestelde burgemeesterskomitee belê. Volgens haar verdien die inwoners van die land se ekonomiese hoofstad ’n bekwame en stabiele regering wat Johannesburg sal herstel en herbou.