Johannesburg se waterkrisis laat Konstitusionele Hof hoog en droog

  • 0

Gauteng verloor daagliks meer as 2,3 miljard liter water van Rand Water weens lekkasies terwyl honderde huishoudings met droë krane sit.

Johannesburgers beleef ’n waterkrisis en die reservoirs wat water aan Johannesburg verskaf, is slegs sowat 40% vol. Inwoners van Johannesburg sal van vandag (Donderdag) af verminderde waterdruk ervaar as ’n maatreël om die stad se voortslepende waterprobleme aan te pak.

Die stad se watertoevoerdruk sal van nou af elke dag van 21:00 tot 04:00 verlaag word sodat die reservoirs kans kry om voller te word.

Die verswakking van watertoevoer gedurende hierdie tye sal deurlopend geïmplementeer word totdat die stelsel ten volle herwin is. Dit is  volgens die owerhede in ooreenstemming met die beperkings op vlak een om die reservoirs in staat te stel om oornag te herstel.

Die afgelope week was die waterstelsels in Midrand en Sandton af, asook gebiede in die suidweste van die stad, soos Coronationville, waar die toevoer volgens daaglikse verslae van die gemeenskap meer gereeld af as aan is.

Die situasie is so ernstig dat die Konstitusionele Hof Maandag weens onbetroubare watertoevoer nie kon voortgaan met sy werksaamhede nie.

Die DA sê in ’n verklaring dit is ’n nasionale verleentheid dat die onvermoë van die Stad Johannesburg om water aan sy inwoners, sake- en openbaresektorkantore te verskaf, gelei het tot die stilstand van bedrywighede by die Konstitusionele Hof op Constitution Hill in Braamfontein.

“Die hoogste hof in die land, verantwoordelik vir die belangrikste besluite, is gesluit deur ’n mislukte, ineenstortende munisipaliteit. Die DA is bekommerd dat hierdie onderbreking in bedrywighede weens die Stad Johannesburg se mislukkings ’n onnodige ongerief en hindernis is vir ’n hof wat ons ernstigste sake hanteer.”

Die DA se woordvoerder oor geregtigheid en grondwetlike ontwikkeling, Glynnis Breytenbach, sê haar party neem kennis dat die Konstitusionele Hof sake op virtuele aanlyn platforms moet aanhoor as gevolg van die onbruikbaarheid van sy hofgebou.

Die kantoor van die hoofregter het aan die media gesê hoewel die Konstitusionele Hof ’n watertenk vir ablusiefasiliteite laat installeer het, hou hierdie bykomende watertoevoer slegs vir een werksdag. Die Stad is nie in staat om dit dadelik op ’n daaglikse basis te hervul om hofbedrywighede toe te laat om ononderbroke voort te gaan nie.”

Die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, het toegegee die krisis in Johannesburg se water is weens waterinfrastruktuur wat verwaarloos is. Die DA sê hulle stem saam met die minister, en dit is ’n skande dat hierdie verwaarlosing deur die Stad Johannesburg nou die bedrywighede van die land se hoogste hof in die gedrang gebring het. Die DA doen ’n beroep op die Stad Johannesburg om dienste na die Konstitusionele Hof sonder enige verdere vertraging te herstel.

Majodina het die afgelope Sondag ’n dringende vergadering belê om die uitdagings van water in die Stad Johannesburg aan te spreek. Die vergadering is bygewoon deur die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, die adjunkministers van water en sanitasie, David Mahlobo en Sello Seitlholo, die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Gauteng, Jacob Mamabolo, die uitvoerende burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, en die leierskap van Rand Water.

Die watertoevoeronderbrekings wat tans in Gauteng en eThekwini en omliggende munisipaliteite ervaar word, word, volgens die departement van water en sanitasie, nie weens droogte veroorsaak nie. Dit word veroorsaak deur vinnige groei in die vraag na water in hierdie stede, deels veroorsaak deur bevolkingsgroei en deels weens toenemende lekkasies in munisipale waterverspreidingstelsels. Die lekkasies is weer die gevolg van onderbegroting vir infrastruktuuronderhoud deur munisipaliteite, wat deels veroorsaak word deur swak munisipale fakturering en inkomste-invordering vir waterdienste.

Die departement sê die piekvraag na water in Gauteng en eThekwini oorskry soms die aanbod wat beskikbaar is van die waterrade. Dit beteken dat die vraag na water verminder moet word. Een van die belangrikste maniere om die vraag te verminder, is dat munisipaliteite die lekkasies in hul waterverspreidingstelsels regmaak. Hierdie verliese is gemiddeld 33% in Gautengse munisipaliteite, en ongeveer 45% in eThekwini vergeleke met die internasionale norm van 15%.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top