Onderlinge gevegte tussen koalisievennote in Johannesburg se stadsraad het weer eens die politieke beheer van Johannesburg se metroraad aan die ANC oorhandig.
Dit volg nadat samesprekings tussen die DA en die Patriotic Alliance (PA) om die koalisie te probeer red Woensdagaand op die rotse beland het. Dit het die veelparty-koalisie in die stad Johannesburg se magsbasis vernietig en die burgemeester se kop vir ’n tweede keer binne ’n jaar geëis.
Die mosie van wantroue teen die uitvoerende burgemeester is met stemme van 147 teen 129 stemme aanvaar. Drie minderheidspartye, die African Transformation Movement (ATM), African Independent Congress (AIC) en Al Jama-ah, het elk mosies van wantroue teen die burgemeester ingedien.
Votes are in. The motion of no confidence against Executive Mayor @mphophalate1 has been passed with votes of 147 to 129 #JoburgCouncil #JoburgLive ^NJ pic.twitter.com/I59zuzohGl
— City of Joburg (@CityofJoburgZA) January 26, 2023
Die DA beskuldig die PA daarvan dat dit hulle skuld is dat Johannesburg se beheer weer aan die ANC oorgegee word, terwyl ActionSA sê die finale onderhandelinge tussen die DA en die PA het misluk omdat die DA geweier het om te luister na die menings van al sy koalisievennote.
Die PA het Woensdagaand geweier om die huidige veelparty-koalisieregering te ondersteun tensy hulle beheer kry oor die stad se finansies. Die DA sê in ’n verklaring die PA wou beheer hê oor die twee mees winsgewende portefeuljes op die burgemeesterskomitee: ekonomiese sake en infrastruktuurontwikkeling.
ActionSA beskuldig die DA daarvan dat hulle die PA as korrup brandmerk eerder as om die universeel-aanvaarde voorstel tussen al die koalisievennote te eerbiedig. Volgens ActionSA is die kern van die dispuut ’n oorspronklike voorstel waartoe alle partye, insluitend die DA, ingestem het en wat deur die PA aanvaar is.
Die DA sê egter in hulle verklaring hulle het dit vanaf die begin van die huidige rondte van onderhandelinge om ’n mosie van wantroue teen die DA-burgemeester Mpho Phalatse af te weer, duidelik gemaak dat hulle nie die swaarverdiende belasting wat deur die mense van Johannesburg betaal is, sal oorhandig aan ’n party soos die PA wat, volgens die DA, boeties vir baantjie beloon nie.
Die DA sê die PA se leier, Gayton McKenzie, het dit herhaaldelik duidelik gemaak dat sy party geen belang by beginselvaste bestuur het nie en uitsluitlik bestaan, volgens die DA, om enige mag wat hy verkry, te benut en te misbruik.
“Gevolglik is die huidige rondte van onderhandelinge gekenmerk deur die PA se konstante afpersingstaktiek, wat klaarblyklik ontwerp is om die koalisie teen die ANC af te speel om ’n beter ooreenkoms vir homself te kry.”
Volgens ActionSA openbaar die DA se optrede dié van ’n organisasie wat nie wou hê dat hierdie onderhandelinge moes slaag nie.
ActionSA sê in hulle verklaring hulle het geen affiniteit met die PA nie, maar saam met die meeste van die koalisievennote verstaan hulle die seteltoekennings in Johannesburg, en dat die PA se voorstel die mees waarskynlike manier sou wees om die meerderheid van die koalisie te herstel.
Die DA sê weer samesprekings het uiteindelik in duie gestort nadat dit duidelik geword het dat, volgens die DA, die PA se enigste belang die heeltyd was om óf beheer oor die geldkoffers te verkry om Johannesburg blindweg te beroof óf om sy versuim om sulke beheer te verkry te benut om ’n beter ooreenkoms met die ANC te kry.
“Dit is ook belangrik om daarop te let dat, soos verlede September die geval was, ActionSA weer aandadig is aan die PA se poging tot afpersing van die koalisie. Terwyl ander vennote in goeder trou by die DA aangesluit het om te onderhandel, het ActionSA verkies om die DA oneerlik in die openbaar aan te val selfs voordat die onderhandelinge afgehandel is. Dit bewys dat ActionSA, soos die PA, ook die onderhandelingsproses misbruik het met ’n bymotief: om goedkoop politieke punte teen die DA aan te teken.”
Die DA sê ten spyte van hulle kommer oor die samewerking met ’n party wat, volgens die DA, reeds verlede September die veelparty-regering verraai het in ’n mislukte poging om die ANC weer aan bewind te plaas, het hulle nietemin weke se onderhandelinge onderneem om ’n oplossing te probeer vind.