Jonas se gesantskap: Brug na VSA of nuwe diplomatieke mynveld?

  • 0

Die aanstelling van Mcebisi Jonas as Suid-Afrika se spesiale gesant in Amerika, wat veronderstel is om die krisis in Suid-Afrika-VSA-verhoudings te besweer, het in nog ’n diplomatieke mynveld ontaard.

Die nuus oor sy aanstelling was pas bekend, toe gons dit wêreldwyd oor uitlatings wat hy vroeër oor Donald Trump gemaak het.

In 2020, tydens ’n toespraak by die Ahmed Kathrada-stigting, het Jonas Trump as ’n “rassistiese homofobiese narsis” beskryf terwyl hy globale populisme bespreek het. Hy het Trump se leierskap gekritiseer as polariserend en skadelik vir internasionale samewerking, met verwysings na Trump se hantering van rasse-onrus en immigrasiebeleid.

Hierdie opmerkings kan sy posisie bemoeilik. Soortgelyke uitsprake deur sy voorganger, Ebrahim Rasool, het daartoe gelei dat Amerika hom uit die land geskop het.

Hoewel Jonas belowe om ’n “gesonde werksverhouding” te bevorder, het Amerikaanse media sy 2020-opmerkings reeds kort na sy aanstelling uitgelig en aan die groot klok gehang. Die risiko van ’n herhaalde teenreaksie, soos in Rasool se geval, is groot.

Die aankondiging het gemengde reaksies in en buite Suid-Afrika uitgelok, wat politieke, ekonomiese en kulturele sensitiwiteit weerspieël.

Die GOOD-party het Jonas se aanstelling verwelkom en hom as “geloofwaardig en beginselvas” beskryf, met verwysing na sy rol as fluitjieblaser tydens die Zondo-kommissie se ondersoek oor staatskaping. Hulle glo sy ervaring in regering en besigheid (as voorsitter van MTN) maak hom geskik om misverstande oor Suid-Afrika se beleid, soos grondhervorming, in die VSA uit die weg te ruim.

Sommige kommentators, soos Jo-Ansie van Wyk van Unisa, het Jonas beskryf as ’n “staatmaker” in die ANC met aansienlike regeringservaring, al het hy minder blootstelling aan internasionale diplomasie.

’n Voormalige ambassadeur, Kingsley Makhubela, het Jonas ondersteun, en gesê hy kan “respekvol verskil” met die VSA sonder om hul president te beledig, anders as sy voorganger, Ebrahim Rasool. Makhubela glo Jonas sal op gedeelde waardes en geleenthede eerder as op verdeeldheid fokus.

Op X het invloedryke figure soos Thuli Madonsela die aanstelling geprys, en Jonas se “leierskapskapasiteite en waardes” uitgelig as ideaal vir die rol in ’n tyd van spanning.

Die Forum for South Africa (Fosa) het die aanstelling volgens die SAUK gekritiseer as “voortydig en misleidend”. Hulle sê Ramaphosa moes self die leiding geneem het om die krisis met die VSA te besweer. Hulle beskou Jonas se rol as onvoldoende om die “verswakkende verhouding” te herstel.

Jaco Kleynhans van die Solidariteit Beweging het gesê daar kan net een van twee redes wees waarom Ramaphosa besluit het om Jonas as gesant na die VSA aan te stel: “Óf hul keuringsproses is so swak dat hulle die video oor sy 2020-uitlatings gemis het (pateties) óf hulle (ANC-geleide regering) wil Trump die middelvinger wys. Ek kan nie sien hoe die verhouding tussen ons twee lande nou herstel gaan word nie.”

Sommige kommentators op X en in die Amerikaanse media het ook hulle bekommernis oor Jonas se 2020-opmerkings uitgespreek. Gebruikers het gespekuleer dat dit sy geloofwaardigheid by die Trump-administrasie kan ondermyn. “Hoe lank voor hy ook uitgeskop word?” wou baie mense weet.

Ramaphosa het in sy aankondiging gesê Suid-Afrika en die VSA het vir dekades ’n historiese en strategiese verhouding gehandhaaf. “In belang van ons land, ons streek en die res van ons vasteland bly ek daartoe verbind om hierdie verhouding vir meer dekades te herbou en in stand te hou op grond van wedersydse respek, erkenning van mekaar se soewereiniteit en tot voordeel vir ons onderskeie volke.”

Jonas het Ramaphosa in ’n verklaring bedank vir hierdie “belangrike maar uitdagende rol” wat aan hom toevertrou is. Hy sê hy sal sy bes doen om ’n gesonde werksverhouding tussen Suid-Afrika en die VSA te bevorder.

“Ek is ten volle bewus van die probleme wat voorlê, met inagneming van onlangse wêreldwye ontwikkelings. Ek glo egter dat areas van gemeenskaplikheid en wedersydse belang omarm kan word om die langdurige bande tussen ons twee lande te herbevestig,” het hy gesê.

Hy sê daar is geen kitsoplossings in so ’n komplekse situasie nie. “Ek doen ’n beroep dat Suid-Afrikaners, in nasionale belang, geduld aan die dag sal lê en ons tyd en ruimte sal gun om ten volle met verskillende belanghebbendes in die Verenigde State en Suid-Afrika te skakel.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top