Joost se Amor erf net ’n TV

  • 0

Die rugbylegende, Joost van der Westhuizen se vervreemde vrou Amor Vittone het haar stryd om haar oorlede man se laaste testament ongeldig te verklaar, verloor. Sy erf slegs ’n TV-stel uit sy boedel. Vittone is ’n sangeres en tree volgens haar Facebook-blad onder meer op as motiveringspreker en TV-aanbieder.

“Ek hoop dis darem ten minste ’n platskerm-TV,” het een van die siniese kommentators op sosiale media opgemerk.

Dit volg na ’n morsige hofsaak tussen Vittone en Van der Westhuizen se familie om vas te stel wie Joost se erfgename moet wees. Van der Westhuizen het aanvanklik sy hele boedel aan sy vervreemde vrou nagelaat in ’n gesamentlike testament wat hulle in 2009 opgestel het. Na sy dood moes sy tot haar ontnugtering uitvind hy het later ’n tweede testament laat opstel waarin sy vir alle praktiese doeleindes heeltemal onterf is, behalwe vir ’n TV-stel.

Vittone het haar tot die hof gewend en aangevoer die laaste testament is ongeldig. Die hof het die eerste testament in ’n vorige uitspraak as die wettige testament aanvaar en bekragtig. Joost se broer, Pieter van der Westhuizen en hul regsverteenwoordiger, Ferdinand Hartzenberg het die vorige testament betwis.

In sy laaste testament waarvan die volledige teks hier gelees kan word bemaak Van der Westhuizen alles aan sy kinders.

Vittone was nie in die hof nie, en haar regsverteenwoordiger sê hulle sal met haar konsulteer oor die hof se beslissing.

Die hofuitspraak beteken ook dat Vittone nie meer die huis waarin sy en Joost gewoon het mag verkoop om haar uitgawes te help delg nie. Sy het aangevoer die huis moet verkoop word omdat dit ’n enorme finansiële las vir haar geword het. Indien Van der Westhuizen se vorige testament as die geldige een verklaar sou word, wou sy die huis verkoop en sou geregtig wees op die helfte van die koopsom.

In ’n verklaring aan die hof het sy aangevoer die R18 000 toelae wat sy per maand uit die boedel ontvang het om na die kinders om te sien, is nie voldoende nie en daarom moet sy die huis verkoop.

Volgens die laaste testament wat nou deur die hof as geldig aanvaar is, sal Vittone ook geen beheer meer hê oor die J9-trust waarin al Van der Westhuizen se bates gestort is nie.  Van der Westhuizen se broer sal in beheer wees van die trust en slegs die kinders sal daaruit baat. Volgens die testament mag hulle ook nie hul van laat verander soos wat Vittone na bewering wou hê nie. Indien hulle hul ma se van aanneem sal hulle al hul voordele uit die trust verbeur.

Ondersteuners van Van der Westhuizen en Vittone het mekaar na afloop van die hofsaak oor en weer op sosiale media in die hare gevlieg oor wie volgens hulle geregtig is op Van der Westhuizen se erfporsie.

Die publiek se simpatie was oorwegend by die Van der Westhuizens en hulle het Vittone van geldgierigheid beskuldig. 

Die meeste reaksie was egter oor die feit dat sy slegs ’n TV erf. “Uitstekende nuus! Nou kan sy heerlik na DVD’s van haarself sit en kyk,” het iemand kommentaar gelewer waarop ’n ander persoon geantwoord het dit sal nie help nie want sy het nie die DVD-speler gekry nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top