Julius Malema en Steve Hofmeyr albei in Menseregtekommissie se visier

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het twee bekende Suid-Afrikaners, Julius Malema en Steve Hofmeyr, in hulle visier na omstrede uitlatings wat hulle na bewering in die openbaar gemaak het en wat glo op haatspraak dui.

Beide Malema en Hofmeyr ontken dat hulle skuldig is aan haatspraak.

Die MRK sê in ’n verklaring die kommissie het verskeie klagtes ontvang wat verband hou met verklarings wat deur die EFF-leier, Julius Malema, gemaak is, asook plakkate en baniere wat deur die EFF vertoon is by die vergadering van die EFF se provinsiale vergadering in die Wes-Kaap op 16 Oktober 2022.

Die saak teen Hofmeyr spruit uit kommentaar wat in April 2022 deur hom op sosiale media gemaak is met betrekking tot die LGBTIQ+-gemeenskap. Hy het glo daarop gesinspeel dat LGBTQIA+ ook bestialiteit kan insluit.

Met verwysing na ’n voorval by die Hoërskool Brackenfell verlede jaar, en beeldmateriaal van ’n wit persoon wat na bewering ’n EFF-lid aanrand, wou Malema weet waarom daardie (wit) persoon nie opgespoor en na ’n geïsoleerde ruimte geneem is en behoorlik voor stok gekry is nie.

“Jy moet nooit bang wees om dood te maak nie; ’n revolusie vra dat daar een of ander tyd moord moet wees, want moord is deel van ’n revolusionêre daad,” het Malema glo aan sy ondersteuners gesê.

Van die ander uitsprake wat hy na bewering gemaak het, is volgens die MRK se verklaring die volgende:

“Hoekom het Mandela ’n geweer opgeneem, was hy die eerste soldaat van uMkhonto we Sizwe wat rose uitgedeel het? Hy het ’n geweer opgetel omdat die revolusie ’n punt bereik het waar daar nie meer ’n alternatief is as om dood te maak nie.”

“Enigiets wat in die pad van die revolusie staan, moet uitgeskakel word.”

“Revolusionêre sal nie twee keer dink wanneer hulle deur daardie situasie gekonfronteer word nie.”

“Die EFF moet bekend wees dat dit nie ’n speelplek vir rassiste is nie, dat enige rassiste wat langs die EFF speel en die lede en die leierskap van die EFF dreig en aanrand, ’n uitnodiging is om jou Maker met onmiddellike effek te ontmoet. “

“Geweld kan slegs met geweld beëindig word, nie enige ander middel nie.”

“Dit is ’n oorlog tussen wit oppergesag en swart bewussyn; jy moet weet die twee sal mekaar nooit ontmoet nie. Ons is in ’n permanente oorlog met wit oppergesag.”

Die MRK sê hulle het ook kennis geneem van plakkate en baniere met EFF-kentekens wat by die geleentheid deur EFF-lede geswaai is.

Van die boodskappe daarop lui:

“Honeymoon is verby vir wit mense in Suid-Afrika.” “’n Revolusionêr moet ’n koue moordmasjien word wat deur pure haat gemotiveer word.”

Die kommissie is van mening dat sekere dele van Malema se toespraak en van die plakkate en baniere wat by die geleentheid vertoon is, aanhitsing van geweld, haatspraak en moontlik ander oortredings is van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000.

Die kommissie het Malema en die EFF skriftelike kennis gegee dat indien hulle nie binne tien dae hulle stellings terugtrek en verskoning vra vir die gewraakte stellings  en onderneem om nie verdere haat en geweld te bevorder nie, sal daar met verdere stappe teen hulle voortgegaan word.

Die EFF sê hulle verwerp die MRK se beskuldigings en beskou dit as ’n poging om vryheid van spraak in te kort.

Hofmeyr het op Facebook bevestig dat hy en die MRK nie op mediasie kon ooreenkom nie en dat die saak teen hom uitgestel is tot 16 Februarie volgende jaar.

Volgens hom wag hy steeds dat die MRK sal vorentoe tree as welwillende bemiddelaar, maar hulle weier glo. “Dit is alleen die voorreg van Julius Malema – waar hulle vir maande lank konsulteer en opinies inwin oor rasegte haatspraak en dan nog in sy guns beslis!” het hy op Facebook geskryf.

Die MRK sê in ’n verklaring hulle het regstappe ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000 teen Hofmeyr ingestel op grond van kommentaar deur hom met betrekking tot die LGBTIQ+-gemeenskap in April 2022. ’n Aanwysingsverhoor word voortgesit in die Hooggeregshof in Gqeberha, wat as ’n gelykheidshof sit, wat sal bepaal hoe die aangeleentheid vorentoe sal verloop.

Die Kommissie beklemtoon die belangrikheid van die bevordering en beskerming van die regte van alle LGBTQIA+- en van niebinêre persone (gender non-conforming persons).

Hofmeyr het gesê hy het onmiddellik na sy gewraakte inskrywing apologie aangeteken indien dit verkeerd verstaan is, maar sy apologie was glo nie aanvaarbaar nie. Hy sê die gaygemeenskap in sy geselskap het gelukkig nie so ’n apologie nodig nie, want hulle stem geensins saam met die eise teen hom nie.

“Ek’s nie naïef nie. Hierdie is die tipe saak wat jy nie kan verloor nie, maar NOOIT mag wen nie,” het Hofmeyr op Facebook geskryf.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top