’n Omstrede advertensie van ’n kaalbas vrou teen die lamppale van Kaapstad se metro wat die stad se sedebewakers rooi laat sien het, het die groen lig gekry van die Suid-Afrikaanse Advertensiebeheerraad (ARB).
Dit was veral Somerset-Wes se wagters op Sionsmure wat beswaar gemaak het teen die plakkate wat die jaarlikse seksekspo geadverteer het.
Die sanger en Christelike prediker van Somerset-Wes, Heinz Winckler, het hom veral sterk uitgelaat oor die plakkate en gesê dit is tyd dat die stil meerderheid opstaan vir gesonde norme en waardes.
Dit het daartoe gelei dat 13 mense ’n klag teen die vertoon van die plakkate by die ARB ingedien het.
Hulle het onder andere aangevoer die plakkate vertoon ’n eksplisiete prentjie van ’n vrou se halfnaakte agterkant in openbare areas waar kinders dit kan sien en hulle aan seks blootstel as ’n kommoditeit terwyl dit vroue as objekte uitbeeld.
Volgens die klaers het die advertensie die waarde van vroue ondermyn. “Dit is absoluut walglik, want ek gebruik hierdie pad elke dag om my kinders skool toe te neem en dit stel hulle aan pornografie bloot op pad skool toe,” lui een van die klagtes.
Hoewel die seksekspo nie ’n lid is van die ARB nie, het die ARB wel die klagtes oorweeg sodat hulle namens hul lede rigting kan gee aan adverteerders wat wel onderworpe is aan die ARB se kode en op wie die raad se bevindings bindend is.
Die ARB sê in sy uitspraak hy sal beslis oor wat ook al voor hom is wanneer ’n besluit geneem word ter wille van sy lede, maar sy uitsprake sal slegs op ARB-lede en ingevolge die Wet op Elektroniese Kommunikasie uitsaaiers bindend wees.
Die advertensie-uitsaaikode bepaal onder andere dat geen advertensie aanstoot mag gee teen goeie smaak en ordentlikheid nie, tensy dit redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing wat gebaseer is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid.
Die raad erken wel dat daar ’n mate van kommer is oor die seksekspo se advertensies, hoofsaaklik omdat dit te doen het met die uitbeelding van ’n vrou se boude in ’n G-string.
Advertising Regulatory Board finds that bare bum image is not degrading to women or harmful to children.https://t.co/78MQ03HKCP
— Times LIVE (@TimesLIVE) July 18, 2023
Daar is egter bevind dat die beeld op sigself nie eintlik aanstootlik is nie. “Geen onvanpaste liggaamsdele word gewys nie en daar word geen sensuele daad in die prent uitgebeeld nie.”
In hierdie geval is die konteks volgens die uitspraak dat die foto ’n seksekspo bevorder.
Dit is volgens die raad in werklikheid die bestaan van die sekekspo op sigself wat baie kykers ongemaklik laat voel. Die noem van seks in die openbaar en verkoop van seksverwante produkte is nie in Suid-Afrika verbode nie en die geleentheid self is wettig, lui die uitspraak verder.
In 2022 het die ARB ’n soortgelyke klag oor die seksekspo se advertensies ontvang.
In daardie saak het die foto ’n vrou uitgebeeld wat haar onderklere verwyder, met net haar dye en knieë wat vertoon word. In daardie geval is die klag gehandhaaf. Die raad het toe bevind: “Terwyl dit waar is dat daar geen uitbeelding van seksuele liggaamsdele is nie, gaan die boodskap van die foto veel verder as die vertoon van onderklere.”
In daardie konteks het die raad met die klaagster saamgestem dat die vrou uitgebeeld is op ’n wyse wat van vroue ’n objek maak en hulle afkraak.
Die raad sê in sy jongste uitspraak daar moet kennis geneem word dat die seksekspo op beide mans en vroue gerig is, en daarom beoog om die genot van beide geslagte te bevorder en uit te beeld.
Die beeld op die plakkate is volgens die raad in werklikheid ’n taamlik mak uitdrukking van die gebeurtenis, en is produkrelevant. “Dit kan byvoorbeeld nie vergelyk word met die objektivering van ’n vrou om ’n motor te verkoop nie.”
Hoewel die raad dus ’n mate van ongemak het dat slegs vroue gebruik word in die bevordering van die ekspo, is dit volgens hulle nie voldoende kommer om die advertensie in stryd met die advertensiekode te vind nie.
Die volledige uitspraak kan hier gelees word.