Kaap juig oor voller damme maar inwoners moet steeds spaar

  • 0

Kapenaars is in die wolke oor die milde reën wat die afgelope seisoen oor die droogtegeteisterde provinsie neergesak het. Dit beteken egter nie die sluise van die hemel het al die provinsie se waterprobleme weggespoel nie.

Die provinsie se damme is gemiddeld die volste wat dit in vier jaar was en die weerkantoor voorspel nog reën wat op pad is. Die Theewaterskloofdam wat twee jaar gelede slegs 22 persent vol was, is tans byna 67 persent vol. Die gemiddelde damvlak van die Wes-Kaap se damme is tans 61,2 persent.

Theewaterskloofdam, suidoos vanaf Villiersdorp geneem (Foto: FJ Erasmus)

In die Metropool lyk sake nog beter en is die hoofopgaardamme gemiddeld byna 80 persent vol. Die weerprofete waarsku egter dat dit nie beteken Kapenaars kan nou maar water mors nie. Daar sal gewag word totdat die winterreën verby is voordat enige hersiening van die huidige waterbeperkings heroorweeg sal word.

Ondanks die stygende damme het die Kaapse metroraad ook sy kommer uitgespreek oor waterverbruik in die stad. Die burgemeesterskomiteelid van water, Xanthea Limberg, sê die raad is besorg omdat waterverbruik in die metro die afgelope week tot 588 miljoen liter per dag toegeneem het.

Limberg sê dis ’n toename van 38 miljoen liter per dag teenoor die vorige week. Sy het inwoners van die Moederstad aangemoedig om steeds water spaarsamig te gebruik.

Die Kaapstadse waterkrisis het in 2015 begin en tot ’n ernstige waterskaarste in die streek en veral in Kaapstad gelei. Aan die begin van 2018 is daar voorspel dat damvlakke teen April tot kritieke vlakke sou daal. Die stadsraad het planne aangekondig vir “Day Zero”, wanneer die stad se krane leeg sou wees. Dit sou Kaapstad potensieel die eerste groot stad ter wêreld maak waar die water opraak.

Foto: Pixabay.com

Deur middel van waterbeperkings en ’n waterbesparingsveldtog het die stad teen Maart 2018 sy daaglikse waterverbruik met meer as die helfte tot sowat 500 miljoen liter per dag verminder. Teen Junie 2018 het hierdie besparings en goeie reën daartoe gelei dat watervlakke in damme tot 43 persent gestyg het. Kaapstad het daarna aangekondig “Day Zero” sou waarskynlik nie in 2019 aanbreek nie. In September, met damvlakke naby 70 persent, het die stad waterbeperkings begin afskaal en tans lyk die kans goed dat daar later vanjaar verdere afskaling van beperkings sal wees.

Die jongste stand van damme in die Wes-Kaap kan hier gesien word.

Die grootste bron van kommer in die provinsie is steeds die Karoo-gebied wat steeds onder ’n ernstige droogte gebuk gaan.

Intussen het ’n internasionale verslag oor waterhulpbronne aangetoon dat ’n kwart van die wêreld se bevolking erge watertekorte ondervind. Die Instituut vir Wêreldhulpbronne se Waterrisiko-atlas het ’n lys uitgereik wat toon dat 17 lande naby aan die sogenaamde “day zero” is. Die verslag verwys onder meer na die onlangse waterkrisis in Kaapstad, Sao Paulo en Chennai.

Die grootste watertekorte is in die Midde-Ooste en in die noorde van Afrika. Katar, Israel, Lebanon, Saoedi-Arabië, Indië en Botswana is onder dié lande.

Suid-Afrika is 48ste op die lys van 168 lande en word bestempel as ’n land met ’n medium- tot hoë risiko.

Ysland, Jamaika, Liberië en Suriname is onderaan die lys.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top