Kaap van storms berei voor vir vlak-8-waarskuwing

  • 0

Wes-Kapenaars berei hulle voor vir nóg hewige reën en storms nadat ’n vlak-8-waarskuwing uitgereik is wat die provinsie na verwagting vandag (Donderdag) sal tref.

Die Wes-Kaapse regering sê hulle neem kennis van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se jongste impakwaarskuwing, wat ’n vlak-8-waarskuwing uitgereik het vir ontwrigtende reën Donderdag oor Kaapstad, Drakenstein en Stellenbosch.

Die stad het inwoners gemaan om van die paaie af te bly en indien moontlik Donderdag binnenshuis te bly.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Woensdag saam met lede van sy provinsiale kabinet die publiek tydens ’n mediakonferensie ingelig oor die gekoördineerde reaksie op die gure weer wat groot dele van die provinsie raak.

Sedert die begin van die week was rampbestuurspanne regoor die provinsie op hoë gereedheid en moes op talle weerverwante voorvalle reageer.

Colin Deiner, hoof van ramprisikobestuur in die Wes-Kaap, het gesê 70 agentskappe, insluitend lug- en seebestuur en reddingspanne, is op bystand om die impak van die vlak-8-weerwaarskuwing wat deur die SA Weerdiens uitgereik is, te hanteer.

“Die gebied wat die meeste geraak word, is die Stad Kaapstad, waar daar reeds 14 000 strukture beskadig is en paaie oorstroom is,” het hy gesê.

Deiner het gesê dat ontruimingsbevele reeds in Citrusdal en die Kaapse Wynlande uitgereik is. Hulle oorweeg dit om ook ontruimings in die Drakenstain-omgewing te doen.

Premier Winde het die publiek versoek om gehoor te gee aan amptenare se oproepe om hul huise te ontruim waar nodig en paaie wat gesluit is te vermy.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het besluit om sommige skole Donderdag te sluit te midde van ’n vlak 8-weerwaarskuwing vir ontwrigtende reën.

David Maynier, LUR vir onderwys, het gesê die besluit is in belang van leerling- en onderwyserveiligheid.

“Ná uitgebreide konsultasie met die Provinsiale Ramprisikobestuursentrum en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), is daar besluit om skole in sekere distrikte in die Wes-Kaap Donderdag te sluit,” het hy gesê.

Alle openbare gewone en spesiale skole in die volgende onderwysdistrikte sal op Donderdag, 11 Julie 2024 gesluit wees as gevolg van die erge stormwaarskuwings vir hierdie gebiede:

  • Metro Sentrale Onderwysdistrik
  • Metro-Oos Onderwysdistrik
  • Metro-Noord Onderwysdistrik
  • Metro-Suid Onderwysdistrik
  • Kaapse Wynland Onderwysdistrik
  • Overberg Onderwysdistrik
  • Kring 1 en 2 van die Weskus Onderwysdistrik (Malmesbury en Piketberg gebiede)

Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, het gesê die weerstoestande sal waarskynlik tot wydverspreide oorstromings lei en ’n impak op reaksietye hê.

Hy sê die aanduidings is dat die ergste nog voorlê voordat daar enige blaaskans kom. Smith het die personeel van die stad se veiligheid en sekuriteit, sowel as ander departemente en entiteite bedank vir hul pogings tot dusver.

Hy het ook die publiek gemaan om nie plasings, video's en foto's op sosiale media te deel sonder om dit te verifieer nie, en gesê dat ou snitte in die verlede weer opgeduik het.

“Die probleem met die onoordeelkundige deel van inligting of beeldmateriaal is dat ons personeel moet uitstuur om dit te verifieer, veral as daar ’n potensiële risiko vir lewe of eiendom is. Dit is hulpbronne wat elders gebruik kan word,” het Smith gesê.

Groot dele van die provinsie het Woensdag weer aansienlike hoeveelhede reën gekry. Humanitêre pogings om skuiling, kos en komberse te verskaf duur regdeur die provinsie voort.

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, sê in ’n verklaring hulle neem kennis van die vlak 8-waarskuwing wat as ’n lae waarskynlikheid beskou word, maar met potensieel ernstige gevolge sou dit realiseer.

“Ons is bekommerd oor die moontlikheid van oorstromings, modderstortings en rotsstortings, en as sodanig doen ons ’n beroep op mense om veilig te bly, onnodige reis te vermy en op hoogte te bly van die weerstoestande deur betroubare mediaplatforms,” het Bredell gesê.

“Ons sal saam met ons privaatsektorvennote byna 9 000 warm maaltye en meer as 1 000 komberse uitdeel aan mense in nood,” het Bredell Woensdag gesê.

Feitlik alle Wes-Kaapse regeringsdepartemente werk saam om die moontlike impak van hierdie weerstelsel te versag. Premier Winde sê alle rolspelers sal waaksaam bly. Hy het ’n beroep op lede van die publiek gedoen om dit ook te doen.

Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê meer as 70 woonbuurte is reeds die afgelope week oorstroom.

Die Liesbeek-, Lotus- en Eersterivier het almal hul walle oorstoom. Hill-Lewis het ’n beroep op die publiek gedoen om weg te bly van vinnig vloeiende water en enige lewensgevaarlike situasies onmiddellik by die stad se noodoproepsentrum te rapporteer.

In sommige woongebiede, soos Dunoon en ander oorstroomde gebiede, moes spanne van die stadsraad onverpoosd werk om stormwaterpype en dreine skoon te maak, terwyl onwettige besetting hulle taak erg bemoeilik het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top