
Bron: Twitter, Working on Fire
Meer as 17 000 hektaar veld het reeds afgebrand sedert die begin van die brandseisoen in die Wes-Kaap terwyl talle diere ook in die slag gebly het.
In die Bettiesbaai-brand wat sedert Nuwejaarsdag wyd versprei het na die Kogelberg-natuurreservaat en omliggende gebiede, is reeds meer as 8 000 hektaar veld vernietig. Van die mees bedreigde fynbosspesies onder andere die krities bedreigde Kogelberg Sandsteenfynbos kom in die gebied voor. Nog een van die bedreigde spesies is die uiters skaars Vleiroos of Bergroos (Orothamnus zeyheri) wat in ’n stadium reeds byna uitgewis was.
Vleiroos of Bergroos (Orothamnus zeyheri)
Bron: http://pza.sanbi.org/orothamnus-zeyheri
Onder normale omstandighede is dit goed vir fynbos om periodiek te brand. Fynbos is vuur-aangepaste plante en afhanklik van periodieke brande om te oorleef. Die Kogelberg-natuurreservaat se fynbos behoort sowat elke 17 jaar te brand. Die fynbos wat sedert Nuwejaar brand is egter slegs tussen agt en 12 jaar oud. ’n Toename in die opeenvolgende brandperiodes veroorsaak dat die struktuur en komposisie van die fynbos verander wat die uitwissing van sekere spesies tot gevolg kan hê. Dit kan ’n vernietigende invloed hê op die fynbosspesies se vermoë om te herstel.
Bykans 150 brandbestryders van Working on Fire help om die veldbrand in Kogelberg in die Suid-Kaap onder beheer te probeer bring. Die brand wat tans nie gevaar inhou vir enige eiendomme nie, was Woensdag bykans 80 persent onder beheer. Die R44 tussen Gordonsbaai en Rooi Els was sedert Nuwejaarsdag die meeste van die tyd gesluit vir verkeer.
Die departement van omgewingsake se afdeling Working on Fire, het Woensdag op Twitter gesê sowat 300 brandslaners van die departement omgewingsake help sedert 1 Desember om 24 brande te blus. Die brande het in ’n gebied van altesaam 17 000 hektaar gewoed. Working on Fire is bygestaan deur verskeie ondersteuningsdienste soos die brandweer, vliegtuie, helikopters, munisipaliteite, natuurbewaring en etlike vrywillige organisasies.
2018/19 Summer #FireSeason is well under way!!
From 1 December 2018, close to 300 firefighters Department of Environmental Affairs Working on Fire programme, pilots and aircraft, assisted multiple partners in suppressing 24 fires limiting the area’s burnt to 17 000 hectares. pic.twitter.com/JHuxqgWtjQ
— Working on Fire (@wo_fire) January 9, 2019
Die Overstrand Munisipaliteit sê in ’n verklaring hulle is besig om die skade te beraam wat deur die Bettiesbaai-brand aangerig is in terme van lewensverlies op diere sowel as die impak wat dit op die natuurlike plantelewe gehad het.
’n Groep vrywilligers van die dierebeskermingsvereniging (DBV) het sedert die uitbreek van die brande gehelp om na beseerde diere te soek. Verskeie voëls, reptiele en bokke is gevind en meer inligting hieroor sal binne die volgende week bekend gemaak word. Die DBV het die publiek en brandbestryders bedank wat gehelp het om die beseerde diere op te spoor. Die publiek is wel versoek om nie die brandende gebiede binne te gaan in ’n poging om diere te red nie en liewer die betrokke owerhede in kennis te stel van beseerde diere waarvan hulle kennis dra.
Lugfoto’s wat op Twitter geplaas is toon die omvang van die brand wat ook vanaf die Strand en Somerset-Wes sigbaar was.
The Betty's Bay fire is now visible from the Helderberg basin on Monday night. #BettysBayFire #fire #bettysbay #strand #photography pic.twitter.com/hO8GWgdpVt
— Bryn (@BrynFTW) January 7, 2019
Burn severity of the #BettysBayFire on 06/01/2019. @vwsfires @VulcanWildfire @CapeNature1 @CopernicusEU #GoogleEarthEngine pic.twitter.com/e9NyOz74Hs
— Lloyd Hughes (@LloydHughesZA) January 8, 2019
Die man wat daarvan verdink word dat hy die Bettiesbaai-brande begin het, is aangekeer en word aangehou tot sy volgende hofverskyning op 14 Januarie wanneer hy waarskynlik om borgtog aansoek sal doen. Die 34-jarige Shelton April staar aanklagte in die gesig van die oortreding van wetgewing vir die beweerde stig van ’n brand, die afvuur van iets wat ’n brand kon begin, asook optrede wat tot ’n brand kan lei. Hy sal waarskynlik ook op ’n aanklag van die oortreding van die natuurbewaringswet verskyn.
Lees ook op LitNet 'n artikel deur Lien Botha oor die brand:
Buro: NB