Die Kaapse suidoostewind, wat ook bekend staan as die Kaapse Dokter, het Kapenaars die afgelope dae behoorlik deurmekaar gewaai.
Die stormsterk Suidooster wat die Kaap sedert verlede week teister, het wingerde omgewaai, verhoed dat skepe Kaapstad se hawe verlaat en selfs daartoe bygedra dat die hele land met ’n stadige internet sukkel.
Die stadiger internetspoed wat in dele van die land ondervind word, is te wyte aan twee ondersese kommunikasiekabels wat Portugal en Spanje met Suid-Afrika verbind en probleme veroorsaak. Die WACS-kabel wat Suid-Afrika met Brittanje verbind, gee ook van Donderdag af probleme.
Foto: Pixabay.com
Die skip wat herstelwerk aan die kabels moet doen, was die naweek in Kaapstad se hawe vasgekeer as gevolg van die stormwind.
Een van Suid-Afrika se internetbedieners, Afrihost, het die naweek getwiet hulle het addisionele internasionale kapasiteit van ’n ander kabel bekom om dienslewering te verbeter sodat hulle nie slegs op die herstel van die kabels aangewese moet wees om hulle normale diens te verskaf nie.
We have purchased additional international capacity to improve international performance. This means that we will not be reliant on repairs to the damaged cables. We hope to implement additional capacity this evening or tomorrow morning. https://t.co/DGc7oRC2wf
— Afrihost (@Afrihost) January 19, 2020
In Kaapstad se middestad moes voetgangers die afgelope week letterlik aan pale en ander strukture vasklou om te keer dat die wind hulle omwaai.
Jare lange inwoners sê dit is die ergste wind wat hulle in dekades in die Kaap ervaar. “Ons is bokkoms gewaai hier in die Kaap. Ons kén wind, en die Kaap van Storms, maar hemel, die afgelope week was erg! Vrydag- en Saterdagaand was rillers van gale force winds wat klink soos reusehande wat die dak skielik vasgryp en rondskud. Ek kan glad nie slaap as die wind so erg waai nie. Mens kry nuwe respek vir jou huis se dak wat die aanslae moet weerstaan,” het ’n Strand-inwoner, Douwleen Bredenhann, op haar Facebookblad geskryf.
Netwerk24 het verlede week berig die passasierskip MSC Orchestra was met 3 200 mense aan boord in Tafelbaai-hawe vasgekeer as gevolg van die siedende Suidooster wat verhoed het dat die skip kon uitvaar.
Foto’s van die rye wingerde wat tussen Somerset-Wes en Stellenbosch deur die stormwind platgeslaan is, is Maandag in Die Burger geplaas. Meer as ’n hektaar se shirazwingerde is beskadig.
Die Bay to Bay-wedloop van 15 km tot en 30 km in Kamspbaai en Houtbaai moes ook Sondag gekanselleer word ter wille van die deelnemers se veiligheid. Die Topform-atletiekklub het op Facebook geskryf die besluit om die wedloop te kanselleer is nie ligtelik geneem nie.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag ’n satellietfoto op Twitter geplaas wat nog wind langs die Kaapse kusgebied voorspel het.
Late morning satellite image (20 January 2020). Cloudy in the east and south where it will be cool today. Another windy day along the coastal areas especially the south-west coast. Thundershowers expected later today over the central interior. Have a good day. pic.twitter.com/F2FVDQSjmq
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) January 20, 2020
Daar was die naweek in verskeie woongebiede kragonderbrekings as gevolg van die stormwind. In Kaapstad is dakke in verskeie woongebiede afgewaai en bome ontwortel.
[ALERT] Weather update
Severe wind conditions over our region have led to power outages & damaged property in some communities. As trees are uprooted or branches broken off, electricity lines are often damaged in the process. 59 km/h wind gusts are expected throughout the day.
— Stellenbosch Municipality (@StellMun) January 19, 2020
Die Kaapse Dokter is ’n droë suidoostewind wat vanaf lente tot laat somer (September tot Maart in die Suidelike Halfrond) oor die Kaapse Skiereiland waai. Sonder hierdie wind sal die lugbesoedeling in Kaapstad en omgewing baie erg wees.
Op warm vogtige somerdae bring dit lafenis en veroorsaak die “tafeldoek” oor Tafelberg. Die wind hou vir ure, maar soms selfs vir dae, aan. Snags neem dit egter af. Tydens die lente en herfs kom die swart Suidooster soms voor en gaan gepaard met ’n besonder swaar neerslag.
Buro: MvH