Kaapse dokters waarsku teen COVID hel

  • 0

Twee mediese dokters in die Wes-Kaap het hulle frustrasie op sosiale media uitgestort met mense wat nie die omvang van COVID-19 wil besef nie.

“Covid is ’n desperate plek,” sê dr Ricardo Titus van Valsbaai-hospitaal in ’n video op Facebook wat ook deur die Wes-Kaapse premier, Allan Winde, op sosiale media gedeel is. In die video deel Titus die verhaal van ’n jong man wat in die hospitaal se ongevalle-afdeling opgeneem is as gevolg van COVID-19 en aan ’n ventilator gekoppel moes word.  

’n Kollega en vriend van Titus, dr Hannes Stander, het die video ook op sy Facebook-profiel gedeel. Hy sê hy doen dit omdat hy as mediese dokter moeg is vir die virus, maar veral moeg is vir die hordes mense wat voortfoeter asof daar geen pandemie of tweede golf is nie.

“Ek is gatvol om na ‘Groot dae’ of jaareindpartytjies uitgenooi te word waar twintig of meer gaste teenwoordig is en sosiale afstand, maskers en ventilasie nie bestaan nie. Ek weier sulke uitnodigings voor die voet, want ons medici moet die gelag betaal, soms met ons lewens,” skryf Stander.

Hy sê indien enigiemand dalk gedink het dat COVID 'n lastige tydelike “pretbederwer” is, nooi hy sulke mense vir 'n begeleide toer deur hulle hospitaal, waar jonk en oud na hulle asems lê en hyg, waar 15% van geïnfekteerde pasiënte sterf, na die propvol lykshuis, maar veral na ongevalle.

Die video waarna hy verwys, is in die ongevalle-afdeling van die hospitaal geneem. Hy verwys daarna as die poorte van Covid-hel. “As jy daarna steeds vere voel, vra ek jou om my te unfriend. Want ek en my kollegas is só-só Gatvol vir die Covid denialists.”

Stander sê baie mense beskou mense soos hy wat groot sosiale byeenkomste vermy, as pretbederwers. “Ek is onlangs uitgenooi na ’n magdom jaareindfunksies en -partytjies waar daar gelag word oor die handhawing van sosiale afstand, die dra van maskers en goeie ventilasie.”

Stander sê hy wonder of die mense nog sal lag as hulle moet veg vir asem om te leef.  “Sal die Covid-ontkenners nog lag as hulle ’n nabye familielid of vriend as gevolg van COVID-19 aan die dood moet afstaan?”

Hy doen ’n ernstige beroep op mense om hulle maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf, al is dit net om die mediese dokters en hulle personeel te help.

“As jy gedink het die Covid-pandemie is danksy inenting byna iets van die verlede, is jy in vir ’n wrede verrassing. ’n Covid-vrye wêreld, en veral Suid-Afrika, is nog jare ver weg.

“As jy nie ’n duit omgee vir ander nie, kom dan ten minste die Covid-regulasies na ter wille van jou geliefdes en jouself, want jy mag ons wat op die voorhoede daarvan werk, dalk net nodig kry wanneer jy dit die minste verwag. Ek wens julle almal ’n Covid-veilige feesseisoen toe,” sluit Stander sy pleidooi af.

Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, het intussen die dood van gesondheidswerkers weens COVID-19 betreur. Dit volg te midde van ’n tweede vlaag van koronavirusinfeksies wat deur ’n nuwe variant van die virus vererger word. Zikala sê 7 891 gesondheidswerkers by staatshospitale in die provinsie het sedert die begin van die pandemie die koronavirus opgedoen, van wie 91 oorlede is. Hy sê die meeste van die gesondheidswerkers wat die virus opgedoen het, is verpleegpersoneel. Volgens Zikalala het 449 gesondheidswerkers in die afgelope week positief vir die koronavirus getoets.

In Kaapstad het die stad se burgemeester, Dan Plato, gesê hy huldig nog die mening dat die metro se strande moet oop bly. Hy het inwoners egter gewaarsku dat die hele situasie kan verander en dat die metro maklik een van die brandpunte kan word. Plato het ook die publiek versoek om aan inperkingsregulasies te voldoen om die tweede vlaag van die virus te stuit.

Hy sê as elkeen sy deel doen en ’n gesonde afstand handhaaf, maskers dra en hulle hande was, kan die virus oorwin word.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top