Verlede week se beurtkrag was waarskynlik een van die oorsake daarvan dat twee van Kaapstad se gewildste strande die naweek vir die publiek gesluit moes word omdat rou riool as gevolg van ’n stukkende pomp in die see gestort is.
Die Kampsbaai-pompstasie het ’n reeks elektriese foute ondervind wat daartoe gelei het dat Kampsbaai-strand, Glen-strand en die Kampsbaai-getypoel moes sluit.
I appeal to all beach users to be cautious and to exercise responsible behaviour. At all times please listen to the instructions of the life guards and law enforcement officers. Thank you to all the officials that were onsite yesterday. pic.twitter.com/ZZPRGI3wvD
— Dr Zahid Badroodien (@ZahidBadroodien) February 6, 2022
Daar word vermoed dat die twee stukkende hoofpompe by die Kampsbaai-see-uitloop verband kan hou met ’n elektriese fout as gevolg van die gereelde kragonderbrekings, sê die stadsraad.
Stad Kaapstad sê in ’n verklaring daar sal ’n volledige evaluering oor die grondoorsaak gedoen word.
Die stad se water- en sanitasiedepartement moes Sondag onverpoos tot in die vroeë oggendure werk om een van die beskadigde pompe suksesvol te vervang. Dit is sedertdien geïnstalleer en getoets en funksioneer weer.
Voordat die vervangingspomp geïnstalleer kon word, moes al die afvalwater eers uit die stasie in die see gepomp word. Hiervoor moes die strande sowel as die getypoele vir die publiek gesluit word
Die spanne het aanvanklik probeer om vakuumvragmotors te gebruik om die riool op te vang. Weens die groot volume moes die rioolwater egter as ’n tydelike maatreël vanaf die pompstasie in die see gestort word.
Deur dit direk in die see te pomp, kon hulle die rioolvloei oor die strand uitskakel.
Inwoners en besighede in die Kampsbaai-omgewing is versoek om die skepping van afvalwater te verlaag deur die gebruik van wasmasjiene en skottelgoedwassers te verminder en om tot verdere kennisgewing slegs hul toilette te spoel wanneer nodig.
Die stadsraad sê hulle betreur die impak wat dit op die omgewing gehad het en die ongerief wat vir inwoners en strandgebruikers veroorsaak is.
Hulle het beloof om te verseker dat toekomstige voorkomende instandhouding geprioritiseer word om sulke voorvalle te voorkom.
Watermonsters sal by alle plekke geneem word om die besoedeling te monitor. Die strande sal slegs heropen wanneer watermonsters ’n terugkeer na normale vlakke aandui. Die stadsraad sê die strand sal gesluit bly totdat Environmental Health die watermonsters teruggekry het om te verseker dat E coli-vlakke weer aanvaarbaar is.
The beach remains closed until water testing results allow for the safe usage of the sea. City Health officials will be on site to assess the environment and to ensure that all signs remain in place until further notice. pic.twitter.com/ENwoowDpGi
— Dr Zahid Badroodien (@ZahidBadroodien) February 6, 2022
Volgens die stadsraad sal die strande sal na verwagting vir minstens twee tot drie dae gesluit wees.
Waarskuwingsborde is by die betrokke strande en die getypoele opgerig wat die publiek van die situasie in kennis gestel het.
Nicola Jowell, wyksraadslid vir die gebied, het aan die radiostasie Cape Talk gesê hulle vermoed dit was ’n elektriese fout, en nie ’n meganiese fout nie, wat die probleem veroorsaak het.
Sy sê sover hulle weet, was dit die eerste keer dat so ’n fout by die Kampsbaai-pompstasie voorgekom het.
Die hoofpomp het vroeër die week ophou werk en hulle was besig om die herstelwerk uit te sorteer oor die elektriese probleem toe die sekondêre pyp wat daar is om die hoofpomp te dek wanneer iets verkeerd loop, ook begin moeilikheid gee het.
“Dit was een van daardie weke waar een ding verkeerd loop en jy nie verwag dat ’n tweede ding en ’n derde ding ook sal verkeerd loop nie,” sê Jowell.
Sy sê sy is bly die probleem kon so gou aangespreek word. “Die feit dat die strand gesluit moes word as gevolg van rou riool moet vir ons almal ’n herinnering wees hoe dom en onwettig dit is wanneer daar in ander provinsies in die reël rou riool in die see gestort word,” het Jowell gesê.