Kaapstad aangewys as tweede beste stad in die wêreld om in 2024 te besoek

  • 0

Kaapstad se naglewe is uitgesonder (Foto: Izak de Vries)

Kaapstad het die tweede plek behaal in die Britse media- en gasvryheidsmaatskappy Time Out Group se sesde jaarlikse lys van die beste stede ter wêreld om in 2024 te besoek.

New York is heel bo aan Time Out se lys, wat die afgelope week vrygestel is, met Kaapstad in die tweede plek en Berlyn, Londen en Madrid as die ander topvyf-stede om te besoek.

Time Out het sowat 20 000 stadsbewoners regoor die wêreld, sowel as sy wêreldwye netwerk van skrywers en redakteurs, ondervra om sy jongste opsomming van die beste stede ter wêreld saam te stel.

Kaapstad is volgens Time Out deur elke opnamerespondent as mooi uitgesonder danksy die stad se pragtige kombinasie van die see, die stad se voorkoms en die skouspelagtige, bergagtige omgewing.

Kaapstad se kulturele aanbiedings word spesifiek uitgesonder: van musiek tot teater- en komedie-aanbiedinge by Theatre on the Bay, asook die nuut geopende Time Out Market in Kaapstad.

Katy Scott, wat in Kaapstad grootgeword het en nou in Frankryk woon, het aan CNN Travel gesê sy sien dit as “dalk die mees onpretensieuse kusstad in die wêreld” en prys veral die geleenthede om in die natuur uit te kom, sowel as die “top-gegradeerde restaurante, ongerepte wynplase en topgehaltenaglewe”.

Scott wys egter ook op die ongelykheid in stede soos Kaapstad. Sy sê om die stad en sy mense werklik te verstaan, moet besoekers “uit die toeristeborrel” beweeg en ook plekke soos Robbeneiland of die Distrik Ses-museum besoek, wat albei ook deur Time Out aanbeveel word.

Time Out Group, wie se digitale en fisiese teenwoordigheid ​​uit webwerwe en verskeie ander platforms bestaan, dek geleenthede, vermaak en kultuur in stede regoor die wêreld.

Volgens die webwerf is dit nie moeilik om te sien waarom elke enkele respondent van die opname gesê het Kaapstad is pragtig nie. Tafelberg en die pragtige strande aan die kuslyn word uitgesonder.

Die stad se kultuuropset word ook geprys as van die beste ter wêreld, met ateljees, galerye en openbare geleenthede in oorvloed.

Artscape, die Baxter en Theatre on the Bay se aanbiedings word vergelyk met die West End se musiekblyspele, dramas en stand-up-komedies.

Grace Beard, reisredakteur by Time Out, sê Time Out ken stede soos niemand anders nie. Dit is te danke aan die menings en insigte van hulle wêreldwye netwerk van plaaslike, kundige joernaliste in stede regoor die wêreld: “Ons jaarlikse opname plaas die vinger op die pols van stedelinge se indrukke om ’n wêreldwye momentopname van die stadslewe soos wat dit tans is, te skep.”

Sy sê elke stad wat die lys gehaal het, het dit reggekry omdat plaaslike inwoners dit ook hoog aanslaan. “Ongeag of ’n stad op nommer een, of vyftig, gerangskik is, is dit steeds een van die beste onder die duisende stede regoor die wêreld.”

Hierdie jaar is die topstede volgens Time Out ongelooflike plekke om te besoek, want daar is talle uitgaangeleenthede, soos wêreldklasrestaurante, baie kultuur en ’n puik naglewe. Hulle is egter ook wonderlike plekke om in te woon, met ’n sterk gemeenskapsgees en ’n onmiskenbare atmosfeer.

Vanjaar is stadsbewoners onder andere uitgevra oor die gehalte en bekostigbaarheid van die kos-, kultuur- en naglewetonele in hul stad en hoe hul stad hulle laat voel – van geluk tot romanse.

Deelnemers aan die opname is ook gevra in watter ander stad hulle die graagste sou wou woon. Hierdie insigte is gekombineer met dié van meer as 100 Time Out-personeelskrywers en -redakteurs in stede regoor die wêreld,

Al hierdie faktore het bygedra tot hierdie ranglys van Time Out se beste stede ter wêreld vir 2024.

Hier is 2024 se 50 topstede in die wêreld volgens die jongste lys.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top