
Kaapstad het dit als: Die groen gebiede, die strande, selfs ’n simfonieorkes. (Foto: Izak de Vries)
...
In feitlik elke afdeling het Kaapstad die vloer met die ander stede gevee.
...
Kaapstad doen dit weer. Die Moederstad, wat reeds in verskeie peilings as een van die mooiste of beste stede in die wêreld aangewys is, is deur die Britse koerant The Telegraph as die derde beste stad op aarde aangewys.
Kaapstad is die enigste Afrika-stad in die Top 50 en het ’n telling van 549 uit 810 gehad.
Cape Town has been named the 3️⃣rd greatest city on Earth in a study identifying the 'Greatest city on Earth' by the @Telegraph.
This makes the Mother City the highest-ranking city in Africa. Read more 👉🏽: https://t.co/CQjvgs4cy6 #APlaceOfMore #CapeConfidence #NowhereBetter pic.twitter.com/4PRFnA6aCz
— Wesgro - Cape Town & the Western Cape (@Wesgro) May 8, 2022
As dit nie vir stad se hoë moordsyfer was nie, wat hoofsaaklik aan bendegeweld op die Kaapse Vlakte toegeskryf word, sou Kaapstad volgens dié peiling as die nommer 1-stad op die planeet aangewys word.
The Telegraph hou jaarliks ’n kompetisie om die beste stede ter wêreld te evalueer. Altesaam 19 faktore word oorweeg, insluitend die aantal vyfsterhotelle, die aantal groen ruimtes en die jaarlikse sonskyndae.
In feitlik elke afdeling het Kaapstad die vloer met die ander stede gevee.
Die koerant het ’n kortlys van 50 stede opgestel wat elk volgens hulle daarop kan aanspraak maak dat dit die beste stad op aarde is. Die lys is met behulp van ’n opname onder die koerant se lesers en ’n paneel reisskrywers deur middel van ’n puntestelsel gegradeer om die wenner en die res van die rangorde te bepaal.
Van die top wêreldstede wat die knie voor Kaapstad moes buig, is wêreldbekende wêreldstede soos Parys, Tokio, Londen en New York.
Die koerant maak daarop aanspraak dat hulle uiteindelik deur middel van ’n “wetenskaplike metode” die ranglys kon finaliseer.
Daar is aan elke stad op die kortlys ’n telling toegeken op grond van ’n verskeidenheid faktore, van die aantal museums en galerye, Unesco-erfenisterreine, Michelin-restaurante en vyfsterhotelle wat in elke stad getel word, tot natuurskoonheid en selfs hulle verdraagsaamheid teenoor en aanvaarding van lede van die LGBTQ+-gemeenskap.
Bonuspunte is toegeken vir stede met ’n strand, kanaalstelsel of rivier, ’n simfonieorkes, en ’n gesofistikeerde metrostelsel.
Uit ’n moontlike 810 punte het die hoogste telling – en titel van "die beste stad op aarde" – aan Barcelona in Spanje gegaan. Die koerant het die stad geloof vir sy “ontspanne pas, maande van eindelose sonskyn, onverbeterlike kos en die beste kulturele en ontwerpaanslag van byna enige stad ter wêreld”.
Al wat teen Barcelona getel het, was die gebrek aan groen ruimtes en die stad se hoë bevolkingsdigtheid. Daar is ongeveer 16 000 mense per vierkante kilometer in Barcelona teenoor 1 530 mense per vierkante kilometer in Kaapstad.
In die tweede plek was Sydney in Australië, wat ’n "funksionele, stresvrye stad" genoem is met ’n lae stedelike digtheid, baie groen ruimtes, en dosyne vyfsterhotelle.
Wat Kaapstad kop en skouers bo die meeste ander stede laat uitstaan het, is die stad se topografie en geografie. Die kersie op die koek, wat ander stede in die stof laat byt het, is Kaapstad se goue strande met oorvloedige sonskyn, natuurlik ook Tafelberg met sy asemrowende uitsig en ook die grootste groen ruimte van al die ander stede op die lys.
Hier is die top 50 stede se rangorde en hoeveel punte elke stad uit 810 behaal het.
- Barcelona (588)
- Sydney (556)
- Kaapstad (549)
- Lissabon (548)
- Venesië (543)
- Los Angeles (535)
- Dubai (523)
- Londen (518)
- Vancouver (516)
- Florence (515)
- Stockholm (511)
- Parys (508)
- Sevilla (502)
- San Francisco (501)
- Melbourne (495)
- Wene (491)
- Madrid (491)
- Singapoer (487)
- Dubrovnik (476)
- Beijing (472)
- Tokio (471)
- Rome (470)
- Berlyn (465)
- Dublin (463)
- Istanboel (451)
- Auckland (449)
- Edinburgh (448)
- Tel Aviv (447)
- Havana (445)
- Kopenhagen (444)
- New York (439)
- Rio de Janeiro (435)
- Mexikostad (432)
- New Orleans (427)
- Amsterdam (420)
- Praag (419)
- Brugge (418)
- Toronto (410)
- Buenos Aires (408)
- Krakow (403)
- Las Vegas (398)
- Sjanghai (390)
- Hongkong (376)
- Boedapest (375)
- Chicago (374)
- Nieu-Delhi (368)
- Athene (366)
- Bangkok (318)
- Moembaai (317)
- Marrakesj (314)
Elke stad is volgens die volgende kriteria gerangskik:
- Sy aantal Unesco-wêrelderfenisgebiede
- Aantal Michelin-ster-restaurante per kapita
- Afstand vanaf die middestad na die naaste lughawe
- Skoon-lug-rangorde volgens die CDP-omgewingsprestasie-indeks
- Grootte van die grootste park
- Ouderdom van oudste bestaande gebou
- Aantal vyfsterhotelle per kapita (gelys op booking.com)
- Hoogste toeganklike waarnemingspunt (insluitend natuurlike uitkykpunte)
- Aantal museums en galerye gelys op Tripadvisor (per kapita)
- LGBTQ+-veiligheidsranglys gebaseer op die Asher and Lyric LGBTQ+ Danger Index
- Moordsyfer volgens die UNODC
- Toegang vir gestremdes (volgens hoteldata op kayak.com)
- Jaarlikse sonskynure
- Stedelike bevolkingsdigtheid.
- Bonuspunte is aan stede uitgereik met:
– ’n strand
– ’n kanaalstelsel, hawe of rivier
– ’n fiets- of bromponie-deelskema
– ’n simfonieorkes
– ’n metrostelsel wat uit meer as net busse en voorstedelike spoorwegnetwerke bestaan.