Kaapstad gooi naam weg met misdaad

  • 0

Kaapstad het weereens die bedenklike eer te beurt geval om aangewys te word as die gevaarlikste stad in Afrika en een van die gevaarlikste stede ter wêreld.

Dit blyk uit die jongste verslag van die Mexikaanse burgerraad vir openbare veiligheid en strafreg. Volgens die verslag is Kaapstad die 11de gevaarlikste stad ter wêreld en die gevaarlikste stad in die land.

Met die vlaag moorde in die Moederstad wat grootliks met bendegeweld verband hou, kan die Moederstad ook daarop aanspraak maak dat dit die land se moordhoofstad is.

Tientalle mense is die afgelope weke in bendeverwante misdaad in Kaapstad vermoor, terwyl toeriste ook deur misdadigers geteister is. In ’n onlangse voorval is ’n toeris van Oekraïne doodgesteek toe hy in die Tafelberg Nasionale Park (naby die Oos-fort op Chapmanspiek) gaan stap het.

Verlede maand is gaste, personeel en veiligheidswagte by die wêreldberoemde en weelderige Mount Nelson-hotel deur 15 gewapende mans aangehou en beroof. Gewapende rooftogte het die afgelope week oral in die Kaapse middestad toegeneem.

Gewapende rowers het Donderdag by drie poskantore in Kaapstad toegeslaan en met geld vir maatskaplike toelaes weggekom. Die Suid-Afrikaanse poskantoor het bevestig dat die poskantore in Kuilsrivier, Kenilworth en Houtbaai beroof is.

In Stellenbosch is ’n tweede bejaarde die week op ’n plaas in ’n gewapende rooftog aangeval en beroof. Netwerk24 berig die aanval Woensdagaand op Johan du Bois (88) van die Du Bois-boerdery tussen Koelenhof en die Devonvale-gholfbaan kom twee dae na die aanval Maandagoggend op die plaas Waterfalls in Jonkershoek. Twee gewapende mans het ’n bejaarde vrou in die aanval met ’n vuurwapen en messe gedreig en selfone en juweliersware gesteel.

Die voortslepende bendegeweld, wat feitlik elke dag verskeie lewens eis, het die regering reeds genoop om die weermag in sekere woongebiede te ontplooi om die vlaag van bendegeweld te probeer stuit.

Die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, sê egter daar kan nie van die weermag alleen verwag word om die misdaadkrisis in die Wes-Kaap op te los nie. Altesaam 46 mense is die afgelope naweek in die Wes-Kaap vermoor. Dit is dubbel soveel as die vorige naweek. ’n Bekende juwelierswinkel in die Cape Quarters-sentrum is ook vroeër die week deur gewapende mans beroof.

Byna 3 000 moorde is in 2018 in Kaapstad gepleeg. Tussen November 2018 en Mei 2019 is meer as 2 000 mense in Kaapstad vermoor.

Die tweede gevaarlikste stad in Suid-Afrika is Port-Elizabeth, wat die 45ste plek op die wêreldlys beklee, met Durban in die 47ste plek op die lys, wat dit die derde gevaarlikste stad in Suid-Afrika maak.

Kaapstad word reeds sedert 2013 deur die Mexikaanse burgerraad vir openbare veiligheid en strafreg in hulle jaarlikse verslae as een van die stede met die hoogste moordsyfers genoem. Die stad se moordsyfer het verlede jaar toegeneem tot 66 moorde vir elke 100 000 inwoners nadat dit in 2015 effens gedaal het.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top