Kaapstad is die wêreld se nommer een-stad vir 2025

  • 0

Dié kolonie Afrika-pikkewyne is een van Kaapstad se trekpleisters (Foto: Fungai Tichawangana | Pixabay)

*

Kaapstad spog met nóg ’n veer in sy hoed nadat die Moederstad deur ’n wêreldwye gehoor aangewys is as die beste stad in die wêreld vir 2025.

Met hierdie toekenning deur Time Out het Kaapstad stof in die oë geskop van bekende wêreldstede soos Londen, New York, Melbourne en Bangkok.

Die Time Out-webwerf, timeout.com, is ’n globale webwerf wat inligting oor stede regoor die wêreld versamel. Dit is deel van Time Out Group, ’n media- en gasvryheidsmaatskappy wat ook ’n tydskrif uitgee en Time Out Markets bedryf.

Nadat Kaapstad in 2024 in die tweede plek geëindig het, het Kaapstad vanjaar die nommer een-plek op die Britse maatskappy se ranglys behaal.

Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het op sosiale media geswel van trots oor die toekenning en gesê dit is fantastiese nuus vir Kaapstad.

So het hy op Facebook en X gespog:

Verlede jaar was ons nommer twee na New York en ek het gesê ons kom vir julle New York. Dié jaar het ons dit tot heel bo gemaak. Dankie aan Time Out! Dit sal meer toeriste na ons stad bring en ook meer werksgeleenthede vir Kapenaars.

Volgens Time Out het 97 persent van die stad se plaaslike inwoners gesê hul stad maak hulle gelukkig, 95 persent gee sy kostoneel ’n hoë gradering en 82 persent beskryf dit as pragtig.

Volgens die tydskrif was leefbaarheid vanjaar ’n sleutelfaktor in hulle ranglys. “Vir vanjaar se lys het meer as 18 500 plaaslike inwoners ons vertel wat hulle van hul stad dink, van sy kos en naglewe tot sy veiligheid en leefbaarheid. Ons het hul insigte gekombineer met dié van ons wêreldwye netwerk van stadsredakteurs, en nadat ons al daardie data verwerk het, kon ons die 50 beste stede op die planeet rangskik.”

Andrew Hallett, Time Out se Suid-Afrikaanse inhoudsdirekteur, sê wat hom die meeste opgewonde maak daarvan dat Kaapstad as Time Out se beste stad ter wêreld vir 2025 aangewys is, is dat Kapenaars uiteindelik erkenning kry vir die verskaffing van ’n wêreldklaservaring aan plaaslike inwoners en besoekers.

Die stad wat die tweede plek behaal het as die beste stad in die wêreld vir 2025, is Bangkok, met New York in die derde plek gevolg deur Melbourne in die vierde plek en Londen vyfde.

Kaapstad se talle besienswaardighede en klein winkeltjies wat weggesteek is op plekke soos Kalkbaai, ook die stad se warm, vriendelike mense wat hard agter die skerms werk om Kaapstad op alle vlakke so geliefd te maak, het volgens Hallett bygedra.

Hier is enkele van die dinge wat vanjaar uitgesonder is:

  • die kolonie Afrika-pikkewyne wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie;
  • die beskikbaarheid van die wêreld se beste wyne;
  • die pragtige Blouvlagstrande;
  • die asemrowende uitsig vanaf Tafelberg, een van die sewe wonders van die natuur;
  • en die stad se naglewe.

So lui ’n deel van die beskrywing oor Kaapstad op Time Out se webwerf:

Kaapstad, deurdrenk van geskiedenis en kulturele betekenis, bied aan besoekers ’n oorvloed opsies om te ervaar, te verken en pret te hê, alles sonder om buitensporige pryse te hoef betaal. Ervaar die visvangkultuur in die nuwerwetse Kalkbaai, gaan na East City vir ’n dosis Kaapse kos en ontwerp, of word een met die natuur by die majestueuse Kaappunt-natuurreservaat. Jy kan selfs in die skadu van Tafelberg valskermsweef, wat ’n heel ander manier is om die stad te sien.

Die volledige ranglys van die wêreld se 50 beste stede en wat hulle gewild maak volgens Time Out se opname, kan hier gesien word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top